Wees heeljaar aktief in jou lande

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

96

Danie Bester

Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee is die nasionale gemiddelde opbrengs vir geelmielies 6,66 t/ha. Danie Bester van Balfour het egter die doelpale geskuif en 14,11 t/ha op droëland behaal met die geel baster, DKC74-26R. Sy direkte koste was R638,90/ton wat saad, kunsmis, chemie, arbeid en diesel insluit.

Danie meen kennis en inligting is noodsaaklik om winsgewend en volhoubaar te boer. “Hoe meer sinvolle data ’n mens op jou plaas versamel, hoe beter prentjie het jy van wat werklik aangaan.

“Presisiebestuur vorm die basis van presisieboerdery en beteken dat alle aspekte van die boerdery behoorlik ontleed word. Elke aspek moet onder die vergrootglas geplaas word. Deeglike ontleding wys vinnig of ’n mens op die regte pad is of nie en is van kritieke belang vir optimale bestuur.”

Ontleding bepaal of:

  • beskikbare data en inligting reg en oordeelkundig aangewend word;
  • insetbeplanning in lyn is met die vermoë van die grond;
  • tydsindeling reg is; en
  • aktiwiteite optimaal beplan word.

Grondkartering is net so belangrik aangesien dit die teoretiese potensiaal van elke land aandui. Sou ’n mens swakker stroop op ’n land of ’n gedeelte van ’n land, begin die naspeurwerk daar. “Kartering dui aan waar probleme is en saam met die stroper se opbrengsdata kan ’n mens vasstel of jy optimaal op elke stukkie grond produseer. Dit vorm die basis om variasies uit te wys. As die probleem geïdentifiseer is, kan ’n mens vervolgens spesifieke bestuurs- en bemestingsones opstel.”

Met ’n opbrengs van 14,11 t/ha het Danie Bester in die afdeling vir mielies in die sentrale gedeelte van die land gewen.

Danie wys daarop dat dit noodsaaklik is om regdeur die jaar en plantseisoen grond- en blaarmonsters te neem, omdat dit aandui watter voedingstowwe nie opgeneem word nie en ook waarom dit nie opgeneem word nie. Deur die monsters met mekaar en met vorige seisoene se stroperdata te vergelyk, kan ’n mens bepaal of swak wortelontwikkeling, stres, tekorte in die grond of verdigtingslae die sondebok is en regstellings maak.

Die inligting help verder om bewerkingsfoute te identifiseer en gevolglik kan implemente reg gekalibreer word. “Vorige jare se inligting help my om beter te boer in die komende seisoen.”

Hy is oortuig dat 80% van die opbrengs deur die toestand van die grond – wat die beskikbaarheid en opname van plantvoedingstowwe, bewerking en vog insluit – bepaal word. Die ander 20% word deur kultivarkeuse, implemente en planterakkuraatheid bepaal.

Danie het uitgewerk dat hy 17 kg graan/mm reën gerealiseer het en meen effektiwiteit kan bepaal word deur te kyk na kilogram produksie per millimeter vog. Volgens hom is water die grootste beperkende faktor in sy boerdery. “Ons boer in werklikheid met water. Deur bewaringslandboupraktyke toe te pas, probeer ek om elke druppel water op te vang en te benut. Ons poog om verdamping te beperk deur deklae en minimumbewerking.”

Hy glo verder proewe samel akkurate inligting in wat hy op sy plaas vir sy omstandighede en grond kan toepas. “Data van nasio­nale proewe kan as riglyn gebruik word, maar eie proewe bepaal hoe verskillende kultivars op jóú grond, in jóú omgewing met jóú mikroklimaat en gemiddelde reënval en verskillende grondtipes saam met jóú bestuursinsette en bewerkingsmetodes reageer.

“Vergelyk jaarliks die opbrengs van verskillende kultivars op verskillende grondtipes en lande. Hierdie vergelykings kan tekorte uitwys wat reggestel kan word. Behoorlike kultivarproewe kan in komende seisoene help met die fyner verstellings en om insetkoste in toom te hou.”

Hy meen produsente moet kyk hoe verskillende kultivars op stand reageer op verskillende grondtipes. “Geen twee lande gaan dieselfde standresultate lewer nie. Elevasie en organiesemateriaal­inhoud het ’n invloed op die grond en die gewas. Standproewe is elke jaar op elke land nodig.”

Met resultate van die grond- en blaarmonsters kan sekere regstellings maklik gedoen word. “Elke kultivar reageer anders op verskillende grondtipes en verskillende bemestingsprogramme. Hierdie kennis kan aan die einde van die seisoen ekstra kilogramme inbring net omdat ’n kultivar reg bestuur word en geld nie met oor- of onderbemesting gemors word nie.”

“Wanneer ’n mens oorskakel na presisieboerdery gaan jy foute maak en skoolgeld betaal. Maar juis uit daardie foute leer ’n mens. Skaf toerusting stelselmatig aan en gesels met insetverskaffers om te hoor watter opsies hulle bied om die toerusting wat jy het, aan te pas. Gesels met ander produsente wat reeds ervaring het. Al is daar streeksverskille, bly sekere beginsels universeel.”