Produsente positief teenoor organisasie

Toit Wessels, assistentbestuurder: NAMPO en Bemarking, Graan SA

1621

Graan SA het tydens die afgelope Kongres terugvoer aan lede oor die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2018/2019-seisoen verskaf.

Mnr Ralf Küsel (nuutverkose voorsitter van die Bemarkingswerksgroep) het gesê dat alhoewel die pryse van die kommoditeite steeds onder druk bly, die lede hul bydrae positief gelewer het. Die baie mooi heffingsbedrag wat ontvang is, dui die positiwiteit van produsente teenoor Graan SA aan.

Die 2018/2019-seisoen het net ’n normale oes in die binneland opgelewer, met ’n goeie oes in die Wes-Kaap, maar ’n amperse misoes in dele van die Suid-Kaap. Die ongekende droogte- en hittetoestande wat dele van ons produksiegebiede beleef het, het beslis baie produsente se oesgrootte beïnvloed.

Inkomste
Graan SA het ’n heffingsinkomste van R19,5 miljoen gerapporteer, wat bykans R3 miljoen meer is as waarvoor daar begroot is. Hierdie inkomste bo begroting kan toegeskryf word aan eerstens meer hektare geplant as waarvoor daar begroot is tydens 2018 se Kongres, maar beslis ook aan die harde werk deur die Hoofbestuurslede en die bemarkingspan van die organisasie.

Agente
Die steeds groeiende mark met meer kopers, bly beslis ’n uitdaging vir die bemarkingspan. Die vestiging van vennootskappe met al die kopers en handelaars van graan, bly ’n deurlopende projek. Die getal agente wat Graan SA help met die invordering van die heffingsgelde het die afgelope jaar met ses vermeerder.

Ralf het ’n woord van dank teenoor die agente wat die invordering van die heffing deur hul kanale bewerkstellig het, uitgespreek. Hy het weer eens beklemtoon dat hierdie funksie, wat die agente vir Graan SA lewer, van onskatbare waarde is.

Ledetal
Graan SA se fokus bly daarop om ons lede van diens te wees. Dit is verblydend om te kan rapporteer dat die getal lede min of meer dieselfde gebly het, ten spyte van die feit dat produsente plase verlaat en die groter eenhede die kleintjies oorneem. Die toename van nuwe era-boere (uitgesluit studiegroepgelde) is vir Graan SA baie positief.

Heffings
Graan SA Kongres het besluit om by die gedifferensieerde heffings op verskillende gewasse te bly. Die heffings in Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit soos vanaf 1 Maart vanjaar. Die studiegroepledegeld bly R50.

Dankie
Graan SA is en bly ’n produsente-organisasie. Die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie en verseker dat Graan SA sy werksaamhede kan voorsit. Ralf het sy dank uitgespreek teenoor lede vir hul getroue bydrae tot die organisasie en hulle die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Hy het genoem dat Graan SA sonder hierdie inkomste nie die bedryf in totaliteit só sou kon bestuur nie. Hy het die Kongres ook meegedeel dat daar streke is wat nie hul deel bydra nie en dat die bemarkingspan tesame met die Hoofbestuurslede veral op hierdie streke vir die komende jaar sal fokus.

Ralf het afgesluit deur te noem dat die insette, betrokkenheid en deelname van Graan SA-personeel op grondvlak – hetsy by boere­dae/boereverenigings of Graan SA-dae – definitief ’n rol gespeel het tot genoemde bedrag en dat dit nie ongesiens verbygegaan het nie. Hy het hul daarvoor bedank.