

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
As die veld aan die brand is dan is daar gewoonlik moeilikheid. Veldbrande is meestal onvoorspelbaar en ook nie maklik om te beheer nie. Vuur kan alles verteer en veroorsaak soms dat produsente nie meer logies dink nie. Hulle sal alles in hul vermoë doen om hul eiendom te beskerm, dikwels ten koste daarvan om die vuur so vinnig moontlik onder beheer te kry.
Almal weet van voorvalle waar ’n klomp vuurvegters op een punt gekonsentreerd was, terwyl die vuur op ’n ander plek weggehardloop het, of van medeprodusente wat geweier het om ’n voorbrand te maak en sodoende ander mense se weiding gekos het. Soms is die vuur by ’n draad, maar die eienaar sal eerder een kilometer ry as om die draad te knip. In daardie tyd hardloop die vuur weg – was dit nou wys om nie die
draad te knip nie?
Die bestryding van veldbrande begin maande voor die brandseisoen. Al doen jy ook jou brandvoorkoming hóé goed, ’n vuur kan steeds ontstaan.

(Foto: Garry Needham)
Alles begin by beplanning
Beplanning behels die volgende:
- Voorbereiding vir die brandseisoen
- Die opstel van ’n omgewingsbrandbeheerplan
- Opleiding vir produsente en hul werkers
- Opname van toerusting en of hierdie toerusting diensbaar is:
- Hoeveel vuurvegters is beskikbaar en waar staan hulle?
- Hoeveel vuurblasers is beskikbaar?
- Wie is almal per radio verbind?
- Waar kan gery word en waar nie?
- Die opstel van ’n brandbestrydingsplan vir elke plaas wat by die omgewingsplan moet inpas
- Hierdie brandbestrydingsplanne moet aan almal bekend wees
- Indien daar besluite rakende brandbane en -planne geneem word, moet dit uitgevoer word
- As daar waterpunte geïdentifiseer word, moet die punte ten alle tye water hê
Die brandbestrydingsplan van elke plaas is deurslaggewend en behoort die handleiding te wees van hoe die vuur beheer gaan word. Só ’n plan behoort die volgende in te sluit:
- Voorkomingsmaatreëls om veldbrande te voorkom:
- Identifisering van belangrike punte om te beskerm, byvoorbeeld:
- plaaswerwe
- huise
- hooibergingspunte
- Die maak van brandbane en waar om dit te doen:
- Onthou ’n brandbaan keer nie ’n vuur nie, maar gee ’n plek waar ’n teenbrand veilig begin kan word.
- Dit maak sin om die brandmateriaal vroeg reeds van die brandbane te verwyder om die begin van wegholbrande te verminder.
- Opleiding van bestuur en personeel
- Personeel moet weet hul veiligheid kom eerste. Hulle moet nie helde probeer wees nie.
- Wie doen wat wanneer?
- Personeel moet leer hoe om die take korrek uit te voer.
- Hoe werk die toerusting?
- Wat moet saamgaan vuur toe?
- Vuurhoutjies
- Draadtang
- Regte klere vir die werk
- Water om te drink
- ’n Staalhark om effektief voorbrand te maak
- Plakke om die vuur agter op te pas
- As jy op ’n ander plaas as jou eie gaan help vuur beveg, is dit belangrik om altyd in pare te werk. Moenie die paaie in ’n onbekende gebied verlaat nie, jy kan vasgekeer raak.
- Onthou: As jy ’n held wil wees, gaan jy teëspoed kry.
- Waar is die watervulpunte en het hulle water?
- Toegangsroetes en hekke: Waar is die sleutels en wie gaan dit oopmaak?
- Kommunikasiemiddels
- Werk die radio’s?
- Wie neem die besluite as die eienaar nie daar is nie?
- Wanneer moet bykomende hulp versoek word?
- Waar gaan voorbrande aangesteek word?
- Waar moet die voertuie ry?
- Dis belangrik om te onthou die meeste vure begin voor die brandseisoen begin en hou ook eers op na die eerste reën al lankal geval het.
- Maak dus seker dat die volgende in plek is:
- Die vuurvegters moet gereed en vol water wees.
- Daar moet seep of waterversagter (1 ml/liter water) in die vuurvegter se water ingemeng word. Dié eenvoudige stap verhoog die doeltreffendheid van die water beduidend.
- Die vuurvegter se pomp moet gediens wees, maklik vat en daar moet brandstof naby gereed wees.
- Lig die vuurvegter se watersuigpunt effens om sodoende die operateurs ’n bietjie ekstra beskerming te gee.
- Werkers moet weet hoe om die toerusting reg en doeltreffend te gebruik.
- Sorg dat daar ’n areakaart van die plaas opgestel is wat paaie, waterpunte en toegangsroetes aandui en dat dit aan ten minste die bure beskikbaar gestel is asook aan die groter oorkoepelende brandvereniging.

(Foto: Garry Needham)
As ’n onbeplande vuur ontstaan het, is dit belangrik om dit effektief en doeltreffend te blus. Gee aan die volgende aandag sodra jy by die vuur kom:
- Spoed, effektiwiteit en doeltreffendheid help om ’n klein vuurtjie vinnig onder beheer te kry en ’n groot vuur te voorkom.
- Hoe gaan ons die vuur doodmaak?
- Wie neem die voortou en maak die besluite?
- In watter rigting trek die wind?
- Waar gaan begin word om die vuur dood te spuit?
- Is almal op hul pos om die taak reg uit te voer?
- Is die spuitpunte reg gestel om die vuur effektief te blus?
- Waar gaan die voertuie ry?
-
- Waar gaan voorbrande aangesteek word om die vuur te keer?
- Waar moet die voertuie ry en is die hekke oop?
- Wie gaan agter sekermaak die vuur staan nie weer op nie?
- Wie gaan die vee uit die vuur se pad skuif?
- Moet nooit ’n held probeer wees nie – dink voor jy optree.
Sodra die vuur gedood is, moet daar so spoedig moontlik ’n ontleding van wat gewerk het en wat nie gedoen word. Dis belangrik dat foute uitgesorteer word en dat aspekte wat gewerk het ontleed word. Onthou om net te kritiseer maak niks beter nie, maar opbouende kritiek is uiters belangrik. Miskien is die vuur volgende keer by jou en dan werk jou plan vir almal.
Vir meer inligting en hulp met die opstel van die brandbestrydingsplan kan Garry Needham by 082 808 4109 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

(Foto: Garry Needham)