OU KUNSMISPRAKTYKE moet by NUWE WERKLIKHEDE AANPAS

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

140
Jeanne van der Merwe, SA Graan/Grain-medewerker

Die meeste navorsing wat huidige kunsmispraktyke vir somergrane ondersteun, dateer uit die laat 1990’s en vroeë 2000’s, terwyl kultivars en landboupraktyke sedertdien in talle opsigte handomkeer verander het.

Daar is ’n dringende behoefte aan wetenskaplike, stelselgebaseerde navorsing oor kunsmistoediening en algehele voedingstofbestuur vir somergewasse om bestaande aanbevelings oor kunsmistoediening te herevalueer.

Dit was die gevolgtrekking van navorsing wat dr Stephano Haarhoff van die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie en die konsultantegroep Anthesis South Africa, einde Julie tydens die Wêreldkongres vir Bewaringslandbou in Kaapstad aangebied het.

Dr Stephano Haarhoff

Hy het gewys daarop dat die huidige praktyke vir kunsmistoediening in somergrane grootliks gegrond is op data wat verskeie dekades oud is. Dit neem dus nie moderne kultivars in ag wat sedertdien ontwikkel is nie, en ook nie ’n aantal nuwe grond- en gewasbe­stuurspraktyke wat die afgelope klompie jaar in gebruik geneem is nie.

Huidige aanbevelings vir stikstoftoediening by droëlandmielies wissel van 85 tot 140 kg/ha en vir besproeiingsmielies van 220 tot 320 kg/ha. Dr Haarhoff het aangedui dat kunsmistoedienings nog oor die algemeen eenvormig geskied, met die voorveronderstelling dat opbrengsverhogings direk eweredig is aan die hoeveelheid kunsmis wat toegedien word. Tog is daar groot wisselvalligheid wat opbrengste betref, wat dui op wisselvallige voedingstofgebruik en dus onsekerheid oor hoe suksesvol die toedienings is. In die lig van stygende kunsmispryse is só ’n benadering nie kostedoeltreffend nie.

Hy het ’n literatuurstudie gedoen om te bepaal watter wetenskaplike navorsing oor die
effek van kunsmistoediening op die opbrengs van somergewasse in Suid-Afri­kaanse toestande in die openbare domein beskikbaar is. Daar was 13 gepubliseerde artikels oor mielies en twee elk oor sonneblom en sojabone. Veertien uit die 17 studielokaliteite was onder droëlandtoestande en ses onder besproeiing, en die oorgrote meerderheid onder konvensio­nele bewerking. Die meeste studies het voor 2010 die lig gesien, met feitlik geen stu­dies beskikbaar ná 2010 nie.

Meer is beter – tot op ’n punt
Uit die bestaande navorsing het dit geblyk dat mielie-opbrengste op droëland konsekwent verhoog het namate stikstofkunsmistoe­diening verhoog het tot by ’n N-toedieningsvlak van 100 kg/ha. By stikstoftoedienings hoër as 100 kg/ha het mielie-opbrengste gewissel van 6,5 tot 13 t/ha, en opbrengsverbeterings was meer afhanklik van wanneer in die seisoen daar neerslae was en die aard van die grondtekstuur.

Mielies onder besproeiing het positief reageer op stygende stikstoftoedienings tot by ’n vlak van 240 kg/ha. Wat sojabone betref, was daar ’n verband tussen opbrengsverhoging en fosfaattoediening (0 tot 30 kg/ha) in sandgrond, alhoewel data beper­kend was.

Volgens sy studie is dit onbekend hoe ’n verho­ging in stikstof- en kaliumtoedienings sojaboonopbrengs­te op droëland en onder besproeiing beïnvloed, aangesien wetenskaplik-gegenereerde inligting vir plaaslike toestande, soos grondtipes en klimaatstoestande, nie beskikbaar is nie. Dit is kommerwekkend, aangesien sojabone sterk voed op fosfaat en kalium, en indien dit nie op lang termyn reg bestuur word nie, sal die voedingstofstatus van die grond negatief beïnvloed word.

“Sojabone vervul al hoe meer ’n sleutelrol in huidige gewasproduksiestelsels en verg aandag,” het hy gesê.

Wat droëlandsonneblomme betref, was die effek van stikstof- en fosfaattoediening hoogs afhanklik van seisoenspesifieke toestande; proewe oor hoe kaliumtoediening opbrengste beïnvloed is onvoldoende en nie beskikbaar nie.

“Ondanks waardevolle bydraes deur verskeie belanghebbendes en privaat ondernemings, is we­tenskaplike inligting steeds kritiek nodig oor alle produksiegebiede, gewastipes en boerderystelsels.”

Hy meen dié inligting moet moderne genetika in ag neem, asook die wyse waarop elke gewastipe die voedingstowwe opneem onder verminderde grondbewerkingstelsels soos minimum- en geenbewerking.

Effek van geenbewerking
Die implementering van nuwe grond- en gewasbe­stuurspraktyke soos alternatiewe gewasrotasies (sojabone of dekgewasse), geenbewerking, beweiding en die behoud van grondbedekking deur oesreste, lei tot veranderinge in grondchemie en -biologiestatus, die beskikbaarheid van voeding­stowwe in die grondprofiel, voedingstofsirkulasie, stratifikasie van fosfaat en kalium in die bogrond asook versuringsprobleme.

Dr Haarhoff het gesê dit is deurslag­gewend dat hierdie veranderinge, wat kan wissel tussen verskillende grondtipes en produksiestelsels, in ag geneem word sodat die plante deur die groeiseisoen toegang tot alle voedingstowwe het.

“Dit is dus belangrik dat ’n produsent verseker dat die grond- en gewasproduksie-
praktyke wat toegepas word mekaar komplementeer om effektiewe benutting van die kunsmisinsette te bevorder. Diep­gaande wetenskaplike navorsing word benodig om hierdie verwantskappe uit te pluis en vas te stel,” het hy beklemtoon.

’n Gepaste voorbeeld wat waargeneem word onder geenbewerkingstoestande is die verspreiding van mieliewortels en hoe dit die onttrekking van voedingstowwe beïnvloed. In sanderige tot sandleemgronde, wat meestal gepaard gaan met lae reënval en hoë temperature in die westelike produksiestreke, word laer mieliestande teen wyer rywydtes geplant. Aangesien die interryspasie gekenmerk word deur warm en sonnige toestande, ’n swakker grondbedekking en gevolglik droër bogrondtoestande, is die wortelvolume en verspreiding laag in die vlakker gronddieptes. In teenstelling, waar mieliekultivars met ’n korter groeiperiode teen hoër stande en nouer rywydtes in swaarder grondtipes in die meer oostelike produksiestreke geplant word en grondbedekking meer prominent is, is die vlakker gronddieptes meer geskik vir wortelontwikkeling (koeler en meer vogtig).

Die voedingstofonttrekking vanuit die grondprofiel verskil dus tussen die verskillende plant-grondstelsels, wat ’n impak sal hê op toekomstige en langtermynvoedingstofbestuurspraktyke.

Hierdie tipe wisselwerking tussen die plante en grond moet tot produsente se voordeel benut word deur die plant-grondstelsel só te bestuur dat dit nie problematies raak nie.

As ’n voorbeeld: Aangesien die grond op lang termyn onder geenbewerking nie vermeng word nie, kan dit lei tot die opbou (stratifikasie) van veral fosfaat en kalium in die bogrond.

“Indien gunstige groeitoestande vir die wortels deur ’n organiese grondbedekking in die bogrond geskep word, is die vlakker wortels (5 cm diep en vlakker) ’n voordeel en kan hierdie wortels voedingstowwe opneem,” het dr Haarhoff verduidelik.

“Indien die teenoorgestelde toestande heers of verlengde droogteperiodes voorkom, kan dit tot voedingstoftekorte lei aangesien die meeste beskikbare voedingstowwe nou ontoeganklik in die droë bogrond is en die plante slegs voedingstowwe wat in die natter ondergrond voorkom, kan onttrek. ’n Effektiewe grondbedekking kan dus beskou word as ’n addisionele stuk gereedskap om voedingstofbestuur verder te optimaliseer.”

Dié twee foto’s illustreer hoe wortelverspreiding die opname van voe­dingstowwe beïnvloed. Foto 1 toon die groeipatroon van mieliewortels in sandgrond, soos meer algemeen in die droër westelike somergraanproduksiegebiede voorkom, terwyl Foto 2 dié in kleileemgrond toon, wat meer algemeen in die natter oostelike produksiegebiede is. Die verspreiding van plantwortels bepaal grootliks vanwaar in die grondprofiel voedingstowwe onttrek word. Voedingstowwe soos fosfaat en kalium, wat uit oesreste vryge­stel word, is nie mobiel in die grond nie. Daar bestaan dus ’n risiko dat die dieperliggende grondlae se voedingstofstatus op lang termyn onder geenbewerkingstoestande uitgeput kan word. Dit is problematies tydens droogteperiodes.

Tegnologie en ekologie
Hy meen verder die rol van moderne tegnologie en die gebruik van data moet ook ondersoek word, sowel as gepaste kunsmistipes en -gebruike.

“Hedendaagse produsente het toegang tot ’n wye verskeidenheid inligting en data wat bestaan uit waarnemings tydens die seisoen, grondontledings, satellietkaarte en stroperdata. Hierdie inligting moet verwerk word en in die besluitnemingsproses geïntegreer word om kunsmisinsette op die lange duur meer effektief te gebruik. Dit gaan die impak van duur kunsmisprodukte versag en langtermynuitdagings vermy.

“Agro-ekologiese beginsels moet ook by kunsmisnavorsing betrek word. Hierdie benadering beklemtoon die onderhoud en verbetering van grondgesondheid deur reeds beskikbare funksies uit die natuur in te span om voedingstofbeskikbaarheid en veerkragtige gewasstelsels te bevorder. Die verbetering van biodiversiteit in die grond en gewasse bring hierdie funksies mee en beïnvloed voedingstofbeskikbaarheid en -onttrekking. Dit is tans nog heeltemal afwesig in voedingstofriglyne op plaasvlak en in navorsing.

“Deur strategiese voedingstofbestuurstelsels te bou, kan ons reaktiewe besluitneming beperk en onsekerheid uitskakel,” het dr Haarhoff afgesluit.