’n Tyd van UITERSTES

1132

November 2018

JANNIE DE VILLIERS, HUB

Die dringendheid verbonde aan die snelheid waarmee die einde van die jaar naderkom en alles wat voor dan gefinaliseer moet word, hou al die kerse hier by Graan SA aan die brand. Met die skrywe hiervan was die reën in die noorde skaars en wou die produsente in die suide begin stroop om seker te maak dat al die graan so spoedig moontlik in die silo’s beland.

Dit is ook ’n tyd van uiterstes – wat net al meer onsekerheid by almal meebring. Hier en daar ontvang ons goeie nuus – wat ons opgewonde maak – en dan weer is daar blatante vyandigheid jeens die organisasie en sy lede wat ’n mens nie kan verstaan nie.

Een so saak was die onlangse stigting van nog ’n organisasie vir graanprodusente deur ’n voormalige lid van Graan SA se Hoofbestuur. Dit is beslis nie in belang van eenheid in landbou nie en dit is net logies dat ’n rasgebaseerde organisasie nie ’n toekoms in die land kan hê nie.

Dit voel soos planttyd in georganiseerde landbou. Dit dreun in elke enjinkamer en die rook trek. Die ligte brand laat en ons eet in die hardloop. Diesel is duur en tyd is min. Almal stap ’n ekstra myl of selfs twee. Daar word ’n groot aantal vergaderings op grondvlak gehou en emosies loop hoog. Mense raak krapperig met mekaar.

In al die geharwar kom die wysheid van Salomo na ons: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter; ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Die uitdaging is: Hoe bly ’n mens kalm en pas selfbeheersing toe as dit só gaan? Dit klink bomenslik. Tog is dit moontlik.

My raad aan jou is dat jy na daardie plek toe gaan waar jy kan stil word en van alles om jou kan afskakel sodat jy kan onderskei tussen feit en flater. Dan neem jy die feite en bepaal jou rigting vir die toekoms. Dít is nie iets wat van nature gebeur nie. Die meeste van ons wil net vinniger en harder werk om al die balle in die lug te hou. Stop en dink is ’n groter uitdaging as om sommer net weer ’n rigting in te slaan sonder om deeglik te besin oor die koers wat jy kies.

Die Agri SA Kongres was een so ’n ligpuntjie in die afgelope tyd. ’n Netjiese opsomming van al die Kongresbesluite oor grond wat ons sedert 2001 geneem het, is verskaf. Wat vir my uitgestaan het, is die feit dat ons deur die jare, ten spyte van al die druk, uiters konsekwent was. Ons leiers het ons netjies in die middel van die pad gehou.

Die uitdaging is nou om vir ander ook te wys waar die middel van die pad is en só ’n bydrae te lewer om implementering op ’n volhoubare wyse te laat geskied. Dit is sodanige konsekwentheid wat respek vir ’n organisasie in die hand werk en wat veroorsaak dat die land se politieke leiers met ons wil saamwerk in hul soeke na oplossings.

Dit is hier waar geduld inkom: Ons moes geduldig wag totdat al die geraas verbygewaai het (ons mog nie saam raas nie). Eers daarna het oproepe vir samewerking na vore gekom. Dit bly ’n uitdaging, maar dit bly ook die regte ding om te doen.

Prof Quinton Johnson (voorsitter: Suid-Afrikaanse Instituut vir Grond, Erfenis en Menseregte) het ook ’n belangrike waarheid aan ons as lede van die kongres voorgehou toe hy die volgende gesê het: “Nothing about us, without us!” Hierdie sêding is waarskynlik gebore uit die vakbondwese ’n klompie jare gelede, maar dit is vandag nog net so van toepassing – en seer sekerlik geld dit vir ons as georganiseerde landbou ook.

Agri SA het homself as organisasie uitstekend geposisioneer om deel te hê aan die soeke na oplossings vir die toekoms. Dit gaan beslis nie maklik wees nie, maar my geloof in dít waarvoor ons staan en dít wat Louw Steytler (voormalige Graan SA-voorsitter) soveel maal vir ons gesê het: “The centre will hold” is weer bevestig.

Publication: November 2018

Section: Features