Hoe om ’n 4×4 te koop

1253

November 2018

FRANCOIS ROSSOUW, 4x4SPORT

Wanneer ’n mens moet besluit watter 4×4 om te koop, is daar ’n hele klomp aspekte wat jy in ag moet neem. Daar is nie meer ’n ding soos ’n slegte 4×4 nie, maar wel van die voertuie wat swak diens lewer, omdat dit vir ’n doel aangewend is waarvoor dit nie geskik is nie.

Dit is hiermee wat ons wil help. Die beste is om eers jou behoefte te bepaal. Daar is ’n hele rits van verskillende 4×4-voertuie op die mark – elk met ’n ander karakter en sy eie sterk punte. Die beste is om die verskillende voertuie in kategorieë in te deel en dan jou behoefte te bepaal om sodoende jou keuse te vergemaklik.

Dit gaan onmoontlik wees om elke model op die mark te analiseer, maar ons sal die basiese groeperings hier bespreek. Daar is ’n groot gros handelsmerke en modelle, maar jy kan self elkeen in sy eie kategorie plaas.

Eerste kry ons die SUV, oftewel die sportnutsvoertuig. Hulle het wel 4×4-aandrywing, maar is nie vir harde 4×4-werk gebou nie. Die 4×4 is meestal vir beter padhouvermoë – veral op grondpad – om ons swak paaie beter te hanteer, of hulle is bedoel vir die sneeu en yspaaie van Europa. Die groot tekortkoming van hierdie groep is veral dat hulle nie laestrek het nie en meestal ook nie genoeg grondvryhoogte het nie. In hierdie kategorie het ons modelle soos die Toyota RAV4, die Mercedes ML- reeks en vele meer.

Daar is dan ook die groepie kleiner 4×4-voertuie met laestrek en uitstekende 4×4-vermoëns. Dit is die klas waarin die Suzuki Jimny val.

Dan is daar die groter 4×4-stasiewaens soos die Toyota Fortuner, Nissan Pathfinder, Pajero Sport en hulle maters. Hierdie voertuie het 4×4, maar is ook geskik as ’n familiemotor.

Die hardebaardgesinsmotor het alles wat nodig is vir ’n harde 4×4-uitstappie, maar is ook luuks en effens aan die duur kant. Die Toyota Land Cruiser 200 en die Nissan Patrol val in dié groep.

Nou gaan ons na die bakkies en harder werkers toe. Ons kry ’n enkelkajuit 4×4, wat deur produsente en maatskappye gekoop
word om te werk. Voorbeelde is die Isuzu, Hilux, Mazda Bt 50 en vele meer.

Die harde werkers, soos die Land Cruiser-bakkies, word vir harde werk, sleep en lang toere gebruik.

Nou moet jy jouself afvra wat jy met die 4×4 wil doen. Wil jy dit as gesinsvoertuig gebruik, wil jy swaar vragte laai, wil jy duikbottels saamry of net speel – of sommer net op die plaas rondry? Dan soek jy die voertuig in daardie spesifieke kategorie.

Maar: Daar is ’n magdom goed wat jy in aanmerking moet neem voor jy finaal besluit. Gaan ek petrol of diesel koop? As jy nie gereeld ry nie en die voertuig nogal lank wil hou, werk petrol beter, omdat onderhoud, wanneer hy oud word, nie so duur is nie. As jy egter ver en gereeld ry, is die brandstofverbruik van die diesel­modelle meer geskik.

Nou moet jy kyk of daar ’n handelaar binne trefafstand van jou af is. Jy wil nie 400 km ry om die voertuig te laat diens nie. Stel ook vas waarmee die ander mense in jou omgewing ry en of hulle tevrede is. Stel vas wat die dienste kos, hoe lank die waarborg is en hoe die inruilpryse verskil. Jy wil nie verplig wees om weer dieself­de model te koop net omdat niemand anders die ou een wil inruil nie.

Wees versigtig wanneer jy raad vra. Niemand is negatief oor die voertuig wat hy gekoop het nie en sal ander mense altyd probeer oortuig om dieselfde te koop. Pas ook op vir ’n effektiewe verkoopsman wat alle onnodige ekstras aan jou gaan probeer verkoop omdat hy kommissie daarop kry.

Die laaste uiters belangrike aspek is: Moenie ’n voertuig koop net omdat hy in jou begroting val nie. Koop dié een wat in jou kategorie val en wat jou werk kan doen – al moet jy ’n tweedehandse een koop.

Publication: November 2018

Section: Spotlight on Outdoors & Travel