November 2018

FRANCOIS ROSSOUW, 4x4SPORT

Ons land is pragtig en het die mooiste, mees afgeleë en ongeskonde plekke wat ’n mens net met ’n 4×4 kan bereik. Dis egter nie maklik om toegang tot die plekke te kry of om die paaie te vind nie.

Sonder ’n gids wat die wêreld ken, kan jy maklik verdwaal of bitter naby aan die natuurskatte verby ry sonder om daarvan te weet. Dan is daar ook die gevaar dat iets verkeerd kan gaan. In dié afgeleë wêrelddele is daar selde selfoonontvangs en die kanse dat ander verkeer gaan verbykom, is uiters skraal – of jy kan ’n maklike teiken vir misdadigers wees. Dit is in tye soos dié wat groepe net beter werk. Hulp is naby en misdadigers is skugter vir ’n groep mense.

4x4SPORT het 58 verskillende roetes in ons land – asook Namibië, Swaziland en Lesotho – wat ons elke jaar afwissel. Daarby het ons toere deur Georgië, suid van Rusland, en Egipte deur die Sahara-woestyn.

Sedert 1995 was daar al meer as 27 000 mense met meer as 11 000 voertuie saam met ons op toer.

Beplanning
Wanneer ons ’n 4×4-ekspedisie beplan, word daar heelwat huiswerk gedoen. Die roete word só beplan dat die dag nie te lank is nie, maar genoeg 4×4-opwinding bied. Die blyplekke moet daarby die regte afstand van mekaar af wees – en die regte standaard handhaaf, met goeie kos. Selfs die kombuise word geïnspekteer.

Op die roete word die stoppe só beplan sodat daar darem ’n paar bome naby is vir wanneer die natuur roep. Soms neem dit twee jaar om ’n roete te beplan, omdat die paaie reggemaak moet word sodat ons met ons alledaagse 4×4, sonder modifikasies, daarop kan ry.

Omdat sakemanne nie vir ’n te lang tyd van die werk af kan wegbly nie, het ons roetes waar ons Donderdagaand bymekaar kom en Sondag weer huis toe gaan. Dit is gewoonlik ook nie te ver van Gauteng af nie – soos Golden Gate of Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat. Daar is roetes wat sewe dae lank is. Die weer vir die betrokke streek en ander bedrywighede in die streek word in ag geneem.

Toer saam deur Lesotho
Een so ’n roete wat ons bitter lank geneem het om te beplan, is die nuwe roete deur Lesotho, wat ons oor 42 bergpasse neem. Party het nog nie eens name nie, omdat die Lesotho-regering tans besig is om paaie te bou om die afgeleë plekkies met mekaar
te verbind.

Hierdie toer word vir Januarie volgende jaar en weer in Februarie beplan. Ons begin die Sondagaand by Moolmanshoek – redelik naby aan die grens. Dié Maandag gaan ons oor die grens en ry die Motengpas op, verby Afriski en die Letsengmyn, waarna ons van die teerpad afdraai na die nuwe Polihalidam, wat nog in die beginstadium is, ry en dan verder met ’n klein bergpaadjie tot by Katzedam, waar ons die tweede aand oornag.

Dinsdagoggend gaan ons met ’n boot op die Katzedam ry en hulle kwekery besoek, waar jy die nasionale plant van Lesotho kan koop. Daarvandaan gaan ons tot by Thaba Tseka, waar ons in die hotel oorbly en Woensdag deur die klomp passe tot by Qachasnek, waar ons vir twee aande in die hotel oorbly. Donderdag gaan ons na die Sehlabathebe-reservaat, wat ’n ongelooflike uitsig het, en dan kom ons met ’n klomp ander passe terug.

Vrydag ry ons tot by die Maletsunyane-waterval naby Semonkong, wat 192 m ver val, en dan verder met afgeleë bergpassies tot by die Mohalidam waar ons in ‘n pragtige huisie of lodge bly. Saterdag ry ons om die dam met die dam se privaat pad en dan oor die God Help Me-pas en die Blue Mountain-pas, asook die Boesmanspas tot by Maseru, waar ons na die Thaba Bosigo-museum kan kyk. Ons gaan dan weer oor die grens en slaap weer die aand by Moolmanshoek, voor almal Sondag huis toe gaan. Die uitstappie is 1 000 km lank en brandstof is beskikbaar, waar nodig.

Besoek www.4x4sport.co.za of kontak 011 902 5066 vir meer inligting.

Publication: November 2018

Section: Spotlight on Outdoors & Travel