VOORKOM dié foute met bewaringslandbou

1242

October 2018

DR ANDRÉ NEL, onafhanklike akkerboukundige

Weens die volhoubaarheid van bewaringslandbou word dit vanaf vele verhoë aangemoedig en bevorder. Heelwat produsente laat vaar dan hul konvensionele graanproduksiepraktyke en begin “geenbewerking” toepas – wat soms nie slaag nie.

“Geenbewerking werk nie by my nie” is ‘n uitspraak wat dan gemaak word. Duidelik is dié produsent teleurgesteld in bewaringslandbou en val dan weer terug op konvensionele grond­bewerking wat grondagteruitgang bevorder en die volhoubaarheid van graanproduksie ondermyn. Waar lê die probleem? Is die grond dalk nie geskik vir bewaringslandbou nie, of het iets iewers skeefgeloop?

Die grootste oorsaak van mislukkings in die toepassing van bewaringslandbou is, volgens die Argentyne, nie die grond of klimaat soos wat dikwels aangevoer word nie, maar dit kan in die meeste gevalle aan onkunde toegeskryf word. Onkunde oor grond en verkeerde persepsies oor die vereistes van en hoe bewaringslandbou toegepas moet word, is hier by ons waarskynlik ook vir vele mislukkings verantwoordelik.

Só beweer ‘n produsent by ‘n byeenkoms dat hy ernstig is oor bewaringslandbou en sy grond nie meer bewerk nie. Dit word nou net eenmalig in die vroeë lente 5 cm diep met ‘n skottelimplement bewerk. Die doel van die bewerking is om plantreste met die grond te meng sodat dit vinnig kan afbreek, enige onkruid te vernietig en belangrik: Om die infiltrasie van reënwater te bevorder.

Duidelik word twee van die drie beginsels van bewaringslandbou, naamlik minimum grondversteuring en die behoud van oesreste op die grondoppervlak nie nagekom nie. Onkunde oor die gevolge van bewerking op die grond word só geopenbaar.

Oesreste op die grondoppervlak is aansienlik meer werd as in die grond, aangesien dit, onder meer, die grond teen erosie beskerm en die infiltrasie van water bevorder.

Bewerkings kan wel die infiltrasie van water bespoedig, maar dit is gewoonlik vir ‘n bitter kort periode. ‘n Dun kors of seëllagie vorm gewoonlik vinnig tydens die eerste reënbui op die grondoppervlak van meeste bewerkte gronde sonder ‘n bedekking. Dié kors is minder as 1 mm dik en vertraag die infiltrasie van water dan ernstig. Gevolglik begin van die reënwater afloop, wat dan veroorsaak dat dit vir graanproduksie verlore gaan en terselfdertyd erosie van die los grond tot gevolg het.

Die boonste lagie grond is ook waar grondorganiese materiaal opbou – mits dit nie versteur word nie. So, selfs geringe en “onskadelike” versteuring van die bogrond sal verhoed dat grondorganiese materiaal opbou.

Minimum versteuring van die grond
Bewaringslandbou bestaan uit drie beginsels wat saam korrek toe­gepas moet word. Die eerste beginsel is minimum grondversteuring en, indien moontlik, geenbewerking. Konvensionele grondbewerking met ploeë, skottel- en tandimplemente word dus nie in bewaringslandbou toegepas nie. Slegs die bietjie grondversteuring wat deur die planter tydens die plasing van die kunsmis en saad veroorsaak word, word toegelaat.

Die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie handhaaf hierin ‘n bitter streng maatstaf. Sodra die wydte van die versteuring wat deur die planter veroorsaak word meer as 15 cm is, kwalifiseer dit nie as bewaringslandbou nie. Strip-till, wat die grond gewoonlik wyer as 15 cm versteur, kwalifiseer daarom nie as bewaringslandbou nie.

‘n Uiters nadelige gevolg van bewerkings is dat dit die aggregaatstabiliteit van die grond – dit is die binding van gronddeeltjies aan mekaar, oftewel grondstruktuur – aftakel en vernietig. Gronddeeltjies is dan los van mekaar en word maklik deur water- en winderosie weggevoer. Boonop is dit die waardevolste gedeelte van die grondprofiel, naamlik die grond op die oppervlak, wat eerste deur erosie weggevoer word. Die sleutel hierin is grondorganiese materiaal wat nie kans kry om op te bou en aggregate te vorm nie.

Deklaag
Nog ‘n verkeerde persepsie is dat bewaringslandbou uit slegs geenbewerking bestaan en dat ‘n deklaag van oesreste, hoe karig of tydelik van aard ook al, nie nodig is nie. Die tweede beginsel van bewaringslandbou bepaal juis dat ‘n deklaag van oesreste op die grondoppervlak gelaat moet word.

Die belangrikheid van die deklaag word gewoonlik onderskat en die afwesigheid van ‘n deklaag is waarskynlik in ‘n groot aantal gevalle een van die grootste oorsake van mislukkings met bewaringslandbou.

In konvensionele gewasstelsels word oesreste gewoonlik vir veevoer gebruik. En dit is ook die betoog van produsente dat die gebruik van oesreste vir ‘n deklaag, ten koste van die vee is.

Om alle oesreste vir veevoer te benut en niks op die grond agter te laat nie, is teenproduktief.

‘n Deklaag van slegs 3 ton oesreste per ha het die afloop van reënwater in ‘n wetenskaplike proef in die Noordwes Provinsie in een seisoen met 186 mm verminder. Dié water is genoeg om die opbrengs van mielies met minstens 2 t/ha te verhoog. Sou die 3 ton oesreste as winterweiding gebruik word om vleis te produseer, is dit onwaarskynlik dat dit die ekonomiese waarde van 2 ton mielies per ha sal klop.

Die belangrikheid van ‘n deklaag word ook elders in die wêreld beklemtoon. Suid-Amerikaanse kundiges beveel aan dat met die oorskakeling na bewaringslandbou, ‘n dekgewas eers op die konvensionele manier gevestig moet word met die uitsluitlike doel
om ‘n deklaag te skep. Geenbewerking begin dan in die daaropvolgende seisoen met die oesreste van die dekgewas.

Sodra ‘n deklaag aanwesig is, beskerm dit die grond en dien terselfdertyd as ‘n gestadigde bron van voedsel vir mikro-organismes wat vervolgens weer ‘n bydrae lewer om die grondorganiese materiaal op te bou en die grond se aggregaatstabiliteit te herstel. Omdat ‘n infiltrasiekors nie onder ‘n deklaag vorm nie en die aggregaatstabiliteit herstel, bly die infiltrasietempo van water hoog en bied die grond ook beter weerstand teen erosie.

Die onderskepping en opberging van reënwater verhoog dus. Dié beginsels word in Foto 1, wat gedurende Maart in een van die Ottosdal No-till Klub se proewe geneem is, duidelik.

Stappe vir sukses
Om mislukkings met die oorskakeling na bewaringslandbou te beperk, is dit noodsaaklik om van die volgende stappe te neem:

  • Bestudeer eers beskikbare inligting om bewaringslandbou te verstaan. Besoek suksesvolle produsente en neem kennis van wat hulle doen en waaraan hulle hul sukses toeskryf. Dan is daar die internet wat maklike toegang bied sonder ‘n uitgebreide soektog. Graan SA se webwerf bevat ‘n groot volume inligting en skakels na waardevolle inligting (http://www.grainsa.co.za/grain-research/conservation-agriculture).
  • Maak seker jou grond het nie fisiese of chemiese beperkings, soos ‘n verdigting of ‘n lae pH, nie. Stel die beperkings eers reg voordat bewaringslandbou toegepas word.
  • Stel vas watter planttegniek (pen of skottel) suksesvol op jou grond behoort te wees.
  • Probeer om ‘n deklaag met die eerste gewas te skep; hierin is die plant van multispesie-dekgewasse die beste. Oorspronklik is gereken dat minstens 30% van die grondoppervlakte deur plantreste bedek moet word. Tans is die siening dat hoe groter die bedekking, hoe voordeliger vir die produsent.
  • Resultate van die Ottosdal No-till Klub se proewe, wat deur Graan SA gekoördineer en deur die Mielietrust befonds word, toon duidelik dat mielie-opbrengste waar bewaringslandbou reg toegepas word, gelyk aan of hoër is as die opbrengste van mielies waarvan die grond konvensioneel bewerk is. Dié waarheid het ongelukkig nog nie by ‘n groot aantal produsente, wat skepties teenoor bewaringslandbou staan, tuisgekom nie.

Grondkompaksie
Volgens die Ottosdal No-till Klub is grondkompaksie een van die grootste uitdagings van bewaringslandbou om te oorkom. Weens dekades se bewerking is die grondstruktuur vernietig en kompakteer grond – veral dié met ‘n sanderige tekstuur – maklik. Die indruk bestaan dan dat dié gronde nie vir bewaringslandbou en die gepaardgaande geenbewerking geskik is nie.

Uit hul ondervinding is dié No-till Klub van mening dat bewaringslandbou op alle grond in die Noordwes Provinsie suksesvol kan wees indien dit reg aangepak word. Die volgende stappe word aanbeveel:

  • Begin bewaringslandbou deur ‘n planter, wat met tande toegerus is vir die plasing van kunsmis en die skep van ‘n “saadbed”, te gebruik. Die werkdiepte van die tand kan van 150 mm tot 250 mm wissel – afhangende van die grondtekstuur. Hoe sanderiger die grond, hoe dieper behoort die bewerking te wees. Eksperimentering met die werkdiepte van die tand is vir elke plaas nodig.
  • Soos organiese materiaal oor jare in die bogrond onder bewaringslandbou toeneem, verminder die kompaksiekwesbaarheid van die grond en kan die werkdiepte van die tand vlakker gemaak word.
  • Die ideaal waarna gestreef word, is om ‘n planter wat met kouters, eerder as tande, toegerus is te gebruik, aangesien kouters die grond aansienlik minder as tande versteur.

Publication: October 2018

Section: On farm level