Katoen: Moontlike wisselbougewas

2173

October 2018

LOUIS OLIVIER, besturende direkteur, Vaalharts Katoen en PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

Met die uitdagende winsgewendheidsituasie van graanproduksie is produsente op die uitkyk vir alternatiewe gewasse, anders as die tradisionele mielies, sonneblom en sojabone. Katoen is besig om kop op te tel en die belangstelling daarin is besig om te groei.

Vaalharts Katoen (VHK) het ongeveer drie jaar gelede na ander produksiegebiede (Stella, Setlagole, Migdol, Sannieshof, Mareetsane, Buhrmannsdrif, Schweizer-Reneke en Bothaville) begin uitbrei. Met die hulp van verskeie medewerkers is proefaanplantings gedoen en positiewe uitkomste is behaal – wat katoen ’n geskikte ekonomiese alternatiewe gewas in ’n wisselboustelsel maak.

Praktyke en toerusting
Dit moet egter duidelik gestel word dat daar besliste uitdagings rakende praktyke en toerusting is alvorens potensiële produsente dié gewas kan oorweeg. Die onderstaande lys, waarin van hierdie uitdagings gelys word, is deur Vaalharts Katoen opgestel:

Praktyke

  • Aanplant op oorlêlande is ’n noodsaaklikheid – voldoende grondvog is krities tydens plant vir bevredigende ontkieming en saailingontwikkeling.
  • Plantdiepte is ’n groot uitdaging, ± 20 mm tot 30 mm en die gebruik van ’n roleg is belangrik.
  • Windskade op sandgronde is ’n werklikheid wat groot skade kan aanrig.
  • Glifosaatweerstandbiedende onkruide is ’n belangrike faktor om in ag te neem en daar moet verwante beheer na opkoms plaasvind.

Toerusting

  • ’n Katoenstroper is duur en groepe produsente sal dalk moet saamwerk met die aankoop daarvan.
  • Die keuse tussen ’n spoel (spindle)- en/of aftrek (stripper)-stroper is belangrik en produsente moet seker maak dat die gepaste een vir sy praktyk en situasie aangeskaf word.
  • Pluiskapasiteit is beperk en Vaalharts Katoen is reeds in gesprek met finansieringsinstansies om kapasiteit te verhoog.
  • Vervoer van produk na die pluismeule is ’n kostefaktor wat tydens berekeninge in ag geneem moet word.

Kernkitsfeitelys vir droëlandkatoen
Die onderstaande kitsfeitelys beklemtoon die kritiese faktore en uitdagings vir die aanplanting van droëlandkatoen.

Klimaat

  • Die klimaat waarin katoen die beste funksioneer, is warm droë omstandighede.
  • Dit verkies woestynagtige klimaat om genoegsame hitte-eenhede (1 300) bymekaar te maak – wat opbrengs en kwaliteit bepaal.

Plantdatum

  • Grondtemperatuur speel ’n groot rol ten opsigte van ontkieming en saailingsiektes na plant.
  • Aanbevole gemiddelde grondtemperatuur van 18˚C oor ’n periode van ongeveer vyf dae (08:00, volle profiel).
  • Optimale plantvenster strek vanaf 25 September tot 30 Oktober.
  • Katoen het ’n 165 tot 180 dae groeiseisoen (ongeveer ses maande rypvrye dae) nodig.
  • Ryp is ’n kernfaktor wat nadelig vir die oes kan wees (intreedatum 20 April en uittreedatum 10 Oktober).

Grondvoorbereiding

  • Katoen is gevoelig vir verdigtingslae (tand 45 cm – 50 cm).
  • ’n Ferm saadbed is noodsaaklik en grond/saad-kontak is krities vir ’n goeie stand.
  • Daar moet tydens die eerste somerreën geplant word – produsente kan nie dan eers grondvoorbereiding doen nie.
  • Materiaal (oesreste)/dekgewas lewer ’n bydrae met windskade.
  • Die inplant van koring/gars vir windskade is ook wenslik.
  • Katoen leen hom uitstekend tot verminderde bewerking.

Saad

  • Kultivars: Dit is belangrik dat kennis daarvan geneem word dat die aanplant van toevlugsoorde van kardinale belang en verpligtend met Bt-kultivars is.
  • Saadbehandeling: Saad is behandel met swammiddel: Gaucho-verwante behandeling vir insekte (plantluise en blaaspootjie).

Plantdigtheid

  • 9 kg tot 10 kg saad/ha (grondtipe en klimaat bepalend van die hoeveelheid kg saad/ha).
  • ± agt tot tien pitte/m.
  • ± 10 cm inrypitspasiëring.
  • 0,91 m rywydte (6-rye, lasry, stroper).
  • Tweelingry (twin row): 0,75 m.
  • Plantestand wissel vanaf ± 80 000 plante/ha tot 100 000 plante/ha (hoëpotensiaalgronde wissel vanaf 90 000 pitte/ha tot 110 000 pitte/ha).

Beheer

  • Aalwurmbeheer: Katoen pas goed aan op sandgronde, maar aalwurmbeheer is krities aangesien dit een van katoen se grootste vyande is.
  • Insekbeheer: Beheer stinkbesies, bladspringer en plantluise verkieslik op aanbeveling.
  • Onkruidbeheer: Wandelende Jood is ’n uitdaging wat regdeur die seisoen ervaar word en moet betyds (tydens tweeblaar­stadium) behandel word. Glifosaatverwante beheer na opkoms is belangrik; Atrasien-gevaar.

Bemesting

  • Grondontleding is belangrik: Grondtipe sal bepalend vir kunsmistoediening wees.
  • Wisselbou (voorafgaande gewas) sal die hoeveelheid stikstof bepaal. Hoë hoeveelhede organiese materiaal en die grond se klei-inhoud is ook bepalend.
  • Stikstof (N): 60 kg/ha tot 100 kg/ha (80% – 90% voor agt weke na opkoms, ongeveer 10% in Januarie).
  • Fosfaat (P): 30 kg/ha tot 45 kg/ha (voor plant).
  • Kalium (K): 50 kg/ha tot 70 kg/ha (optimaal verbruik vanaf die eerste blomknop vir die volgende 40 dae).

Vogbehoefte

  • 300 mm/jaar tot 700 mm/jaar (streek, groeiseisoen, metode en kultivar).
  • Opbrengs en water het ’n positiewe korrelasie: ’n Volle profiel voor plant is noodsaaklik.
  • Reën vanaf eerste blomknoppe (25 Desember) tot einde Januarie speel groot rol in opbrengsbepaling.

Katoenverbouing is uiters intensief, gevolglik skram sekere produsente dikwels daarvan weg ten gunste van ander gewasse soos mielies, wat nie so intensief is nie. Produsente moet hulle egter nie hierdeur laat afskrik nie, aangesien dit wil voorkom asof katoen se winsgewendheid oor die algemeen meer belowend as dié van mielies is, alhoewel deeglike winsgewendheidsanalises en proewe eers gedoen moet word.

Bemarking staan op twee hoofpilare: Wisselkoers en New York-toekomspryse (NYF)-prys wat VSA sent/pond (USC/lb) is. Verskansing word gebruik in beide instrumente. Vaalharts Katoen werk saam met Fulcrum Bemarking, wat op hulle beurt betreklik nou saam met ’n Australiese bemarkingsagent (Campbell) werk om ons van markinligting te voorsien.

Katoenproewe
Dit wil voorkom asof katoen spesifiek in produsente in die westelike produserende gebied se behoeftes voldoen weens sy goeie prys, opbrengs en sy droogteverdraagsaamheidseienskappe.

Na vele pogings en wisselende resultate as gevolg van die geweldige lae reënval die afgelope drie seisoene, het daar uiteindelik ’n lig in die tonnel verskyn. Vaalharts Katoen het saam met ’n groep produsente in die weste strookproefaanplantings gedoen en uit die afgelope seisoen se resultate is dit duidelik dat katoen groot belofte in dié areas inhou.

In Figuur 1 is die verskillende strookproeflokaliteite wat die komende seisoen aangeplant gaan word om die aanpasbaarheid van vier verskillende kultivars in verskillende streke te toets, aangebring.

Slotsom
Volgens katoenkenners is die “wegspring” van katoen alles. Indien produsente katoen vir die eerste keer wil aanplant, is daar heelwat huiswerk wat gedoen moet word. Produsente moet hulself eers deeglik van al die uitdagings in die bedryf vergewis voordat ’n klomp geld daarin belê word.

Vir meer besonderhede kontak Louis Olivier van Vaalharts Katoen by 082 948 2111 of louis@vhcotton.co.za vir enige vrae oor die katoenbedryf.

Publication: October 2018

Section: On farm level