October 2018

HENNIE DU TOIT, vee- en weidingkundige, Obaro

Ons het nog altyd in veranderende tye geleef, maar deesdae verander die tye vinniger, meer drasties en meer onvoorspelbaar. Die wêreldpopulasie behoort in alle waarskynlikheid teen 2050 sowat 10 miljard mense in totaal te wees. Ons benodig dus beter en meer voeding, beter gesondheid en meer doeltreffende energieverbruik.

Die harde werklikheid is egter dat die landboubedryf nie in staat is om die hoeveelheid mense met die huidige landbou-, omgewings- en ekonomiese stelsels te voed nie.

Om ‘n plaas se drakrag suksesvol met tot 300% te verhoog, terwyl die weidingtoestand verbeter, is beslis ‘n praktyk om te ondersoek. Dit is waar hoëdrukbeweiding ter sprake kom – om die plaas se drakrag sodanig te verbeter dat tot drie keer meer beeste daarop aangehou kan word.

Plantwortelfisiologie
Plante se wortels dien as stoororgaan vir voedselreserwes. Hierdie reserwes word gebruik om nadat die plant afgewei is, weer blare te begin produseer. Sodra hierdie blare weer begin groei het, kan hulle begin om deur middel van fotosintese nog meer blare te produseer.

Sodra die vegetatiewe groeifase ‘n einde bereik het, sal die plant oorgaan in die reproduktiewe fase. Hier word die saad gevorm om die voortbestaan van die grasplant te bewerkstellig. Wanneer die plant steeds nie benut (ontblaar of bewei) word nie, sal die voedselreserwes wat dan in oormaat geproduseer word, na die wortels gekanaliseer word om daar gestoor te word. Hierdie siklus herhaal homself van hier af.

Indien die plant aansienlik kort bewei is, word meer reserwes onttrek om die blare te begin produseer en dit neem ook langer vir die hergroei om ‘n aanvang te neem. Wanneer die blare net begin groei het en daar is nog nie reserwes terug na die wortels gekanaliseer nie en die plant word weer bewei, word nog meer reserwes onttrek. Indien hierdie proses voortgaan, soos wanneer koeie vir ‘n lang periode in ‘n groot kamp gejaag word, sal die wortelreserwes later uitgeput raak en sal die graspolle ál kleiner word.

Die wortelstelsel sal al kleiner begin raak omdat soveel van die reserwes onttrek is sonder om enige reserwes terug te plaas. Die groeikragtigheid van hierdie weiding sal daal soos die polle kleiner word. Die weiding is in ‘n sneeubaleffek gewikkel – die gras groei stadiger omdat die wortels al kleiner word en die wortels word al kleiner omdat die weiding te kort na mekaar bewei word.

Op hierdie stadium sal hergroei besonder lank neem om ‘n aanvang te neem en sal dit tipies eers begin plaasvind na ‘n goeie reënbui (Foto 1a en Foto 1b).

Die smaaklike en gewenste spesies sal begin uitsterf weens oorbenutting. Die drakrag van sodanige weiding is reeds baie laag en kan nie meer volhoubaar daarop geproduseer word nie.

Hoëdruk- of ultrahoëdrukbeweiding
Hierdie beweidingstelsel word op kort beweidingsperiodes en lang rusperiodes gebaseer. Beeste begin binne twaalf tot 14 dae nadat hulle in ‘n nuwe kamp ingejaag is, die hergroei van die plante wat reeds benut is, afwei – dit is die smaakliker en meer voedsame weiding.

Dit is egter ook dié weiding wat nie benut moet word nie, aangesien dit nog nie reserwes in die wortelstelsel teruggeplaas het nie. Dit is dus uiters nadelig vir die plant en sy wortelstelsel om so kort na mekaar benut te word.

Hoëdrukbeweiding begin waar diere in sodanige klein kampies gejaag word, dat hulle binne 14 dae die hele kamp afgewei het. Dit is die beste om al die koeie in een groot trop te laat wei. Die duimreël is dat die kampgrootte ongeveer 15% van die tropgrootte moet wees. As die trop uit 100 diere bestaan, moet die kampe nie groter as 15 ha wees nie. Dan behoort die trop die kamp binne 14 dae skoon te gewei het.

Namate die kampe nog kleiner word, word later oorgegaan na ultrahoëdrukbeweiding. Meestal word hier van elektriese draadjies gebruik gemaak, aangesien elke kamp verder verklein word. Die trop diere word vir sowat een uur op ‘n klein oppervlak aangehou voordat hulle na die volgende strook weiding verskuif word (Foto 2a tot Foto 2c).

Die stroke kan sowat 50 m tot 100 m breed wees en die stuk wat voorsien word, is dan so lank soos die trop koeie – met ander woorde hulle staan die strook vol en die diere wei die gras in elkeen se onmiddellike omgewing.

Aangesien die diere die onsmaaklike spesies ook benut, sal dit heelwat langer neem om deur die plaas te wei as met konvensionele beweidingstelsels. Die beste praktyk is om die soetveld slegs in die wintermaande te benut en die hele groeiseisoen te laat rus. Suurveld en vleiweidings daarenteen, moet verkieslik ongeveer elke twee maande benut word. Met langer tussenposes sal die veld te suur en onsmaaklik word.

Wanneer daar begin word om swak veld in hierdie stelsel te bestuur, behoort die swakste veld vir die totale groeiseisoen nie bewei te word nie. Dit moet egter gedurende die wintermaande ordentlik afgewei word. Die grasse se wortels sal vinnig begin herstel en soos wat die reserwes begin toeneem, sal die wortelstelsel al sterker word.

Die grasproduksie en spesiesamestelling sal ook met rasse skrede verbeter. Oor die verloop van twee seisoene behoort ‘n groot verbetering in die spesiesamestelling waargeneem te word.

Voordele van ultrahoëdrukbeweiding
Die voordeel daarvan, buiten die makliker hantering, is die volgende:

  • Beeste word betreklik mak weens die gereelde hantering. Dit vergemaklik die werk met die diere beduidend.
  • Die diere trap die kaal kolle in die veld los en die trap-effek vorm ‘n saadbed wat deurlugting, deurligting asook waterindringing verbeter (Foto 3).
  • Dit veroorsaak dat ‘n groot hoeveelheid saad wat reeds in die grond voorkom, met die eerste reën ontkiem en die kaal kolle in die veld só herstel. Selfs waar lekbakke vir jare gestaan het, kan die kaal kolle in een seisoen verdwyn.
  • Die beter benutting van elke kamp veroorsaak ook dat beter kwaliteit gras in die toekoms benut gaan word. Daar is reeds gevalle waar die voorkoms van rooigras by veeprodusente binne twee groeiseisoene vermenigvuldig het. Die veld is tydens die groeiseisoen gelaat om te rus en is dan in die wintermaande benut.
  • Onbenutte gras soos dekgras en in sommige gevalle selfs terpentyngras word deur die beeste benut.
  • Brandbane en padreserwes kan bewei word. Dit is aansienlik meer doeltreffend as brandstroke, aangesien dit heelwat breër gewei kan word – wat veldbrande doeltreffend kan voorkom (Foto 4a en Foto 4b).
  • Ultrahoëdrukbeweiding voorsien die diere elke uur met vars voer waarop geen dier getrap, gemis en geürineer het nie.
  • Soos die weiding verbeter, verbeter die drakrag ook aansienlik en kan meer diere op dieselfde plaas aangehou word.

Opsomming
Elke veeprodusent het ‘n verantwoordelikheid om voedselproduksie te optimaliseer om sodoende die groeiende populasie te voed. Dit moet tesame met hulpbronbewaring en -verbetering geskied. Daar is tegnologie wat ingespan kan word om hierdie doelwitte te behaal.

As veeprodusent is jy dus eintlik verplig om jou weidingstrategie te verander om jou weidings meer doeltreffend te benut, meer diere op dieselfde oppervlak aan te hou en meer voedsel te produseer. In die proses sal jy boonop meer winsgewend wees.

Die tyd is verby waar net nog ‘n plaas bygekoop kan word as die plafon bereik is – ons moet nou ons produksie vertikaal uitbrei om steeds volhoubaar en ekonomies te produseer. Ultrahoëdrukbeweiding is een van sodanige maniere om hierdie doelwit te haal. Probeer dit gerus.

Vir enige navrae in dié verband kontak die outeur by 084 515 6817 of henniedt@obaro.co.za.

Bronnelys
Dickenson, EB, Hyam, GFS, Metcalf, HD, Rudert, CP and Williams, FR. 1984. The pasture handbook. Triomf Fetilizer Limited: Braamfontein.
Du Toit, CJH. 2015 tot 2018. Foto’s.
Fair, John. Augustus 1989. Gids tot winsgewende weidings. M & J Publications: Harrismith.
Jordaan, FP. Veldtoestand, produksie en weidingskapasiteit. Department Agriculture, Conservation, Environment and Rural development, North West Provincial Government: Potchefstroom.
Tainton, NM. 1981. Veld and pasture management in South Africa. Shuter and Shooter: Pietermaritzburg.
Thorne, MS and Stevenson, MH. June 2007. Stocking rate: The most important tool in the toolbox. Pasture and Range Management: Hawaii.
Ziegler, K. 2010. Rotational grazing in extensive pastures. Ontario Ministry of Agriculture, Food and Rural Affairs.www.omafra.gov.on.ca.
Zietsman, J. Junie 2011. Drukbeweiding. Persoonlike mededeling.

Publication: October 2018

Section: On farm level