September 2018
WILMA MAC PHERSON, South African Bioproducts Organisation
Die voordeel van sojaboonproduksie in rotasie met mielies – en dan natuurlik ook die wisseling in mieliepryse – het in die afgelope dekade ‘n dramatiese groei in sojaboonaanplantings tot gevolg gehad. Nuwe hektare, wat nooit voorheen vir sojaboonproduksie gebruik is nie, word nou ingespan en verskeie nuwe sojaboonprodusente is nou by die geledere gevoeg.
Die 183 000 ha wat in die 2006/2007-seisoen aangeplant is, het gegroei na 472 000 ha in die 2011/2012-seisoen en die 787 200 ha wat in die huidige seisoen aangeplant is (PNS Statistiek, www.proteinresearch.net).
Nuwe kultivars wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, maak dit boonop vir minder tradisionele areas moontlik om sojabone suksesvol te verbou. Die grootste hoeveelheid sojabone is hierdie seisoen in die Vrystaat geplant (345 000 ha), gevolg deur Mpumalanga (310 000 ha) en KwaZulu-Natal (40 000 ha) (sien Grafiek 1).
Vir suksesvolle sojaboonproduksie is die bestuur van stikstofbemesting van kardinale belang. Sojabone benodig ongeveer 100 kg tot 120 kg stikstof per hektaar vir elke ton opbrengs wat beoog word. Stikstofbemesting is een van die duurste insette, maar sojabone bied vir ons ‘n ekonomiese alternatief vir tradisionele bemesting – die simbiotiese assosiasie met Rhizobium-bakterieë.
Hierdie simbiotiese assosiasie tussen Rhizobium-bakterieë en peulplante is al vir vele jare bekend en is een van die koste-effektiefste maniere om stikstof aan die plant te lewer. Peulplantentstowwe word al vir meer as drie dekades kommersieel in Suid-Afrikaanse landbou ingespan om nodulasie op sojabone suksesvol te bewerkstellig. Wanneer peulplante effektief geënt word, lewer dit genoeg van die korrekte, lewensvatbare Rhizobium-bakterieë direk by die saad om seker te maak nodulasie vind so gou moontlik na ontkieming plaas ten einde ‘n goeie oes te lewer.
Tegnologie rakende die vervaardiging, formulering en toediening van sojaboonentstowwe is deur die produsent se behoeftes gedryf: Entstowwe moet onder ‘n wye verskeidenheid van omgewingstoestande effektief wees en dit moet ook so maklik en eenvoudig moontlik wees om toe te dien.
Ontwikkeling van sojaboonentstowwe
Daar is verskeie faktore wat vervaardigers in ag moet neem wanneer sojaboonentstowwe ontwikkel word. Die belangrikste hiervan is die keuse van die korrekte isolaat of isolate. Die meeste peulplante het ‘n besonder spesifieke Rhizobium– of Bradyrhizobium-spesie waarmee dit in assosiasie kan gaan. ‘n Voorbeeld hiervan is die simbiotiese verhouding tussen sojabone (Glycine max) en Bradyrhizobium japonicum. B. japonicum infekteer sojaboonwortelhaartjies en vorm nodules wat atmosferiese stikstof aktief bind. Die stikstof is dan in die vorm van ammonium vir die plant beskikbaar. Indien ander Rhizobium-spesies gebruik word, sal daar geen nodules vorm nie, of die nodules sal onaktief wees.
Vir elke Rhizobium-spesie is al ‘n verskeidenheid rasse geïsoleer. Elkeen van hierdie rasse gaan verskil in hul vermoë om die wortelhaartjies te kan infekteer, hoe effektief hulle stikstof in die nodules bind, hoe hulle met ander Rhizobium-spesies kompeteer om die wortelhaartjies te infekteer en laastens, hoe hulle in die spesifieke omgewing waar hulle toegedien is, vaar.
In die 1990’s is navorsing in Suid-Afrika deur die LNR-Plantbeskermingsnavorsingsinstituut (PBNI) gedoen om die beste sojaboonentstofisolaat vir Suid-Afrikaanse toestande te vind. Hulle het verskeie oorsese isolate geneem en op ‘n wye verskeidenheid kultivars en produksiegebiede getoets.
Die isolaat wat oor die hele proef heen op die meeste kultivars en in die meeste gebiede goed gedoen het, was die B. japonicum-isolaat WB74. Dit is die isolaat wat die algemeenste in plaaslike entstowwe gebruik word.
Daar is tans verskeie sojaboonentstowwe in Suid-Afrika beskikbaar wat ook ander rasse en isolate bevat, byvoorbeeld Bradyrhizobium elkanii. Hierdie rasse en isolate kan net so effektief wees soos WB74 – afhangende van die sojaboonkultivar en omgewingstoestande. Verskeie entstowwe bevat ook kombinasies van rasse en isolate.
Produkformulering speel ‘n kritiese rol in die sukses van sojaboonentstowwe en affekteer die entstof se effektiwiteit. Sojaboonentstowwe, asook ander peulplantentstowwe, word geformuleer om ‘n groot aantal van die korrekte Rhizobium-bakterieë in ‘n spesifieke draermateriaal te bevat.
Formulerings bevat ook stabiliseerders, beskermende middels en ander elemente soos mikronutriënte. Die formulering bepaal die entstof se rakleeftyd. Dit beskerm die bakterieë tydens stoor en vervoer. Dit is belangrik dat die formulering gedurende die hele leeftyd van die produk stabiel moet bly – van vervaardiging totdat dit gebruik word.
Met die oog op registrasie van sojaboonentstowwe moet die formulering ‘n hoë aantal bakterieë tot aan die einde van die rakleeftyd van die produk kan onderhou – en steeds aktief nodulasie tot gevolg hê. Oor die algemeen word ‘n minimum van 105 Rhizobium-bakterieë per saadjie vir effektiewe nodulasie benodig. In die geval van peulplantentstowwe is ‘n oormaat Rhizobium-bakterieë nie skadelik nie, maar beter.
Nie net die raklewe van entstowwe het oor die jare verbeter nie, maar ook hul werking en die gemak waarmee hul toegedien kan word. Sojaboonentstowwe is nou beskikbaar in verskeie vaste draer- en vloeibare formulerings. Oor die algemeen word kleefmiddels saam met vaste draerformulerings aanbeveel. Verskeie kleefmiddels is kommersieel beskikbaar en die entstofvervaardiger sal die beste een vir sy spesifieke entstof kan aanbeveel.
Dit is ook moontlik om vaste draer-entstowwe in die plantvoor toe te dien, afhangende van die partikelgrootte van die draer. Die meeste poeierentstowwe moet direk voor aanplanting op die saad toegedien word.
Vloeibare sojaboonentstofformulerings het die afgelope paar jaar heelwat aandag geniet en word besonder suksesvol gebruik. Dit kan as beide direkte saadbehandeling of as plantvoortoediening gebruik word. ‘n Vloeibare formulering bestaan gewoonlik uit die Rhizobium-bakterieë gesuspendeer in ‘n water-, olie-, of polimeerbasis en kan verskeie byvoegings bevat om die eienskappe van die entstof te verander.
Van die byvoegings verbeter die produkkwaliteit en rakleeftyd en sommige byvoegings kan ook die lewensvatbaarheid van Rhizobium-bakterieë op die saad, sodra dit toegedien is, verbeter. Byvoegings beskerm bakterieë teen uitdroging nadat dit toegedien is – veral wanneer behandelde saad geplant word en grondtoestande droog en warm is.
Entstowwe met hierdie tipe beskerming kan dae voor plant op die saad toegedien word. Sekere sojaboonentstofformulerings bevat ook nutriënte wat die bakterieë se metabolisme in die tydperk tussen enting en wanneer die bakterieë in die plant inbeweeg het, aan die gang hou. Sommige vloeibare formulerings bevat ultraviolet-beskerming om die bakterieë tydens die plantproses te beskerm. Daar is ook sojaboonentstowwe wat seintegnologie bevat om die nodulasieproses aan te help.
Ander voordelige mikroorganismes
Sojaboonentstowwe word ook met groot sukses saam met ander voordelige mikroörganismes, soos Bacillus– en Trichoderma-spesies, toegedien. Hierdie voordelige mikroörganismes kan in twee groepe verdeel word: Dié wat saailingverwelksiektes kan onderdruk en dié wat wortelgroei aanhelp.
Daar is wel van hierdie mikroörganismes wat in beide kategorieë val. Rhizobium-bakterieë kan slegs wortelhaartjies binne die eerste ses ure na hul gevorm het, infekteer. Voordelige mikroörganismes stimuleer wortelgroei en daarom ook wortelhaartjies se ontwikkeling. Dit beteken daar is meer plekke vir die Rhizobium-bakterieë om te infekteer.
Daar is vele eksterne faktore wat die effektiewe nodulasie van sojabone kan affekteer, maak nie saak watter entstofhandelsmerk gebruik word nie. Toestande wat ongunstig is vir saadontkieming, sal ook nadelig wees vir die oorlewing van Rhizobium in die grond en vir die nodulasieproses. Hierdie toestande sluit in té lae of hoë grondtemperature, lae of hoë grondvog, asook ‘n grond pH onder 4 en bo 9.
In die geval van nuwe grond (of virgin soil soos dit ook bekend staan), waar sojabone nog nooit geplant is nie, is dit raadsaam om dubbel die hoeveelheid entstof te gebruik. Dit kan óf as dubbel die hoeveelheid entstof op die saad, óf as enkeldosis-entstof op die saad en so ook in die plantvoor, toegedien word. Dit sal ‘n bydrae lewer om enige risikofaktore wat die entstof moontlik kan benadeel, vry te spring.
‘n Belangrike faktor vir produsente om in gedagte te hou, is die feit dat hulle te doen het met ‘n lewende organisme wat spesifieke bergingstoestande benodig. Dit is raadsaam om die etiket hieroor te raadpleeg. Om die maksimum uit die entstof te kry, beveel ‘n groot aantal entstofvervaardigers aan dat die produkte by koel temperature (4°C – 24°C) gestoor moet word, maar dit moet nie toegelaat word om te vries nie.
Hou entstowwe ook weg van vlugtige chemiese middels en uit direkte sonlig. Blootstelling aan oormatige hoë temperature vir lang periodes kan ook die bakterieë affekteer en kan daartoe lei dat enting ondoeltreffend sal wees. Dit is uiters belangrik dat die entstof lewendig en lewensvatbaar is teen die minimum spesifikasie op die etiket. Sojaboonprodusente moet aandring op die “varsste produk” om goeie enting en suksesvolle oeste te verseker.
Die sojaboonbedryf in Suid-Afrika het nog nie sy volle potensiaal bereik nie en daar is nog heelwat ruimte vir groei. Sojaboonentstofvervaardigers is gefokus om by te dra tot die sukses van die bedryf en om volhoubare groei te verseker.
Met dank en waardering aan Arysta Lifescience (dr Bridgitta Steyn en mnr Jaco Marais), BASF (mnr Sean Brereton-Stiles), die LNR (drs Ansa van Vuuren, Elna van der Linde en Ahmed Hassen van die Plantbeskermingsnavorsingsinstituut) en Plant Health Products (prof Mike Morris en Debby Perry) vir hul waardevolle bydraes tot hierdie artikel.
Publication: September 2018
Section: Focus on integrated pest control