Dit is koud op Mars

Gepubliseer: 1 Julie 2022

668

Beste Neef

Junie en Julie se skraal wintersdae het die koue diep laat byt. Soggens was daar ’n yslagie oor die krippe wat eers na tien in die oggend skietgegee het. Die suidewind, al die pad van die Maluti’s, het grassade laat buig en wieg. Maar wanneer die son gesak het, het die wind gaan lê. En dan kon jy die sinkplate op die dak hoor kraak soos die grade sonkrag algaande minder geraak het totdat die kwik by vriespunt loop lê het.

Met eerste lig soggens was die nag se ryp soos as oor die vlei gestrooi. Dit was pure winter.

Winter beteken ook die knetter van ’n kaggelvuur. ’n Glasie Jerepiko. Biltong en droëwors. Beesvleis en boontjiesop. Die geur van lemoenskil. Oop sterligaande met die Suiderkruis wat helder skyn. En in die oggende vroeg Mars, wat met ’n rooi glans die sonlig aarde toe weerkaats.

As jy na die aarde van Mars af kyk, is ons planeet ’n blote spikkel in die hemelruim. Dit is die beeld wat deur die Amerika­ners se slim tuigie Perseverance aangestuur is. Die klein robot is tans in die Jezero-krater op Mars. Die tuig stuur ook daagliks ’n weerverslag. Op 1 Junie het Perseverance laat weet dat die maksimum temperatuur -15°C gemeet het, met ’n koue nag wat by -81°C gedraai het. Met NASA wat fluks beplan om ’n eerste sending na Mars te stuur, word dié stukkie statistiek hopelik vooraf met die proefkonyne gedeel. Want of daardie eerste span ooit sal kan terugkeer aarde toe, is onseker.

Dalk het Christopher Columbus se bemanning ook so gevoel toe hulle in 1492 oor die loopplank gestap het om hulle in die Santa Maria se binneruim tuis te maak. Columbus wou ’n nuwe seeroete na die Verre Ooste vestig, as alternatief vir die sy-roete oor land wat vroeër deur Marco Polo moontlik gemaak is. Die rykdom van Oosterse speserye was aanloklik genoeg om ’n onbekende oseaan aan te durf. Die woord peperduur kom van toeka af, toe peper een van die duurste speserye in Europa was. Min of meer in dieselfde tydlyn as Columbus, het Bartolomeu Dias om Afrika se suidste punt gevaar. Met die sy-roete oor land wat besaai was met struikrowers (amper soos die pad Witbank toe), was dit ’n wedloop tussen die Spanjaarde en die Portugese oor wie eerste ’n nuwe seeroete na Indië kon vind.

Columbus is met drie seilskepe uit Spanje die wye oseaan in. Die laaste land waar hulle aangedoen het, was by die Kanariese eilande waar watervoorrade opgevul is. En van daar af is hulle in die totaal onbekende see in. Columbus se berekeninge het die omvang van sy reis totaal onderskat. In die Europese wêreld van daardie tyd was daar geen kennis van die Amerikas wat van noord tot suid regoor ’n oseaan strek nie. Columbus se plan was eenvoudig om aan te hou om weswaarts te vaar tot hulle aan die oostekant van Asië land.

Na weke op die oop oseaan het Columbus volgens sy joernaal een nag ’n dowwe lig gesien. Daardie nag het hulle ’n landmassa voor hulle gewaar en anker gegooi. Dit was ’n eiland, wat as San Salvador gedoop is – deesdae bekend as die Bahamas. Toe die son die volgende oggend opkom, was dit nooit weer dieselfde vir Europa óf die eilandbewoners nie.

Columbus was so oortuig dat dit die ooste van Indië was, dat hy in sy joernaal na die eiland se mense as los Indios verwys het. Die mensdom praat steeds van die Indiane van Noord- en Suid-Amerika, hoewel Indië ’n seereis van die Amerikas weg is.

In sy verkenning het Columbus tot aan die noordkus van Kuba gevorder voordat hy teruggedraai het Europa toe. Geweldige storms het hulle op die terugtog geteister en hulle het aan die einde van die reis skuiling in ’n Portugese hawe gevind. Baie geskiedkundiges erken Columbus as die eerste pionier wat seevaart na en van die Amerikas moontlik gemaak het. Heelwat onthou hom egter vir die brutaliteit waarmee die eilandbewo­ners aan die nuwe koloniale bewind onderwerp is. Pokke was waarskynlik die vreesaanjaendste passasier op die Europese skepe. Die inheemse bevolking van die Amerikas het geen weerstand teen pokke gehad nie en duisende het as gevolg van die siekte gesterf.

Hoe dit ook al sy – die geskiedenis roem Columbus as iemand wat die waagmoed gehad het om sonder enige kaart of verwysings ’n vreemde oseaan aan te durf. Niemand onthou wie die tweede man op die maan was nie. Net so onthou niemand wie die tweede suksesvolle ontdekkingstog oor die Atlantiese oseaan voltooi het nie.

Die kaggelvuur knetter lekker en die vuurlig speel oor die bladsye van die boek. Met ’n laaste draai om seker te maak dat al die deure gesluit is, kyk ek deur die kombuisvenster na die wit maanlignag. En toe kom Koos du Plessis se liedjie by my op, dat daar reeds spore op die maan is. Dis net ’n kwessie van tyd voor die eerste mens se voetspore ook op Mars sal lê. Ek wonder wie dit sal wees van wie ons kinders eendag sal lees.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.