August 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Die sandgronde van die westelike produksiestreke hou altyd die moontlikheid van windskade in – wat tot groot verliese kan lei. Die uitdaging ontstaan wanneer die wind sandkorreltjies opwaai en sodoende die jong plantjies se stammetjies en blare erg beskadig. Dit lei tot groot gedeeltes van gesaaides wat heeltemal doodwaai en gevolglik oorgeplant moet word.

‘n Teenvoeter vir windskade is om die grondoppervlakte grof te hou sodat die windspoed op die grondoppervlak nie so hoog word dat die sandkorreltjies opwaai nie. Produsente kan verskeie metodes aanwend om hierdie uitdaging aan te spreek, soos om te poog om ‘n deklaag op die grond te behou. ‘n Ouer metode is om met skoffels die grond grof te bewerk en sodoende die gewas te beskerm.

Mnr Davie van der Merwe boer in die Schweizer-Reneke-omgewing op diep sandgronde en span ‘n oorlêstelsel in om vog op te gaar vir opvolggewasse. Dit het tot gevolg dat die grondbedekking beperk is en daarom is windskade ‘n groot bedreiging vir hierdie boerdery.

Hy vertel van ‘n tydperk in 2014 toe hulle behoorlik deur windskade geteister is. Die praktyk was destyds om die wind met tandbewerkings tussen die gewasrye te probeer keer. “Die bewerking is ‘n uitdaging in die nouer rye, aangesien jy net teen sowat 6 km/h kan ry, anders gooi jy die klein saailinge toe,” sê Van der Merwe.

Op dié tydstip het hy verby ‘n buurplaas gery, waar die sandduiwels ook gerinkink het. Die werkers was besig met tandbewerking op die winterlande.

“Omdat dit toe ietwat droog was, het hulle die kluite met ‘n stronkkapper gebreek ter voorbereiding van ‘n beter saadbed,” vertel hy. “Tot my verbasing merk ek toe later op dat die uitwerking van die wind op die gekapte rye aansienlik afgeneem het. Ek sê toe vir my pa dat ons só ‘n werktuig moet bou wat rol en vinnig deur die landerye kan beweeg.”

Van der Merwe het die tegniese tekeninge kennis wat hy op skool opgedoen het, ingespan en die eerste Oskar-implement begin ontwerp. Hy het dae en nagte lank geteken aan sy eerste ontwerp van dié windkeerwerktuig. “Ons het dié ontwerp intussen heelwat verbeter om dit tot die huidige model te ontwikkel,” vertel hy.

Die beginsel van hierdie implement is dat lemskywe wat rondom ‘n as kan draai die grondoppervlakte grof maak sonder om grond op die gewasse te plaas. Dit is amper dieselfde as om ‘n duisendpoot agteruit te sleep.

Die Van der Merwes se eerste implement het hulle ongeveer R110 000 gekos en hulle kon 21 m tegelykertyd bewerk. Die voordeel is dat die implement teen ‘n snelheid van 15 km/h gesleep kan word – sodoende is die kapasiteit van ‘n hele paar ander trekkers vervang. ’n Verdere voordeel is dat die gewasse nie beskadig word nie en dat ‘n groot oppervlakte per dag bewerk kan word.

Van der Merwe se ontwerp bestaan uit ‘n dwarsbalk waaraan windkeer-eenhede, afhangende van die rywydte tussen die gewasse, gegroepeer is. Die eenhede bestaan uit drie tot vyf lemskywe elk wat op ‘n as tussen laers aangebring is. Die lemme van die skywe van geboë platyster herinner aan die lemme van ‘n naelloper. In ‘n windkeer-eenheid is die lemme só op die as gerangskik dat die eenheid ‘n gemaklike rolbeweging kan uitvoer, terwyl die punte van die lemme die grondoppervlak versteur.

Op ‘n dag het ‘n buurman ‘n eenheid van die werktuig kom leen en vir homself ook een gebou…en die volgende dag ‘n ander buurman. “Die ontwerp het soos ‘n veldbrand deur die distrik versprei en daarna ook na dele van die Wes-Vrystaat,” vertel Van der Merwe. “Die windkeerwerktuig is deesdae vanaf Hoopstad tot Wesselsbron te sien en ek het selfs een tussen Hertzogville en Dealesville sien werk.

“Dit is lekker om my bydrae vir die welvaart van ander produsente te sien werk. Dit bewys dat die spreekwoord, ’’n Boer maak ‘n plan’ steeds geld en toegepas word. Waar ‘n wil is, is ‘n weg – ‘n mens moet dit net soek,” sluit hy af.

Vir meer inligting kan Davie van der Merwe gekontak word by 082 944 9219 of davie.vdmerwe@yahoo.com.

Publication: August 2018

Section: Focus on