Uitdagings maak dié planmaker ’n beter produsent

Gepubliseer: 4 Mei 2020

556
Louise Kunz,
SA Graan/Grain-redaksie

Vir Bernard Rabe, 2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finalis, gaan boerdery oor improvisasie om probleme op te los en uitdagings motiveer hom om sukses na te streef. Sy lewensuitkyk – ’n boer maak mos ’n plan – het van hom nie net ’n produsent met ’n hele paar prestasies op sy kerfstok gemaak nie, maar ook ’n suksesvolle besigheidsman.

Uitdagings groeigeleenthede vir dié besigheid
Bernard stagneer geensins as dit by kennis van landbou (en ’n paar ander onderwerpe) kom nie. Hy het ná skool ’n kortkursus in algemene boerderybestuur aan die Potchefstroom Landboukollege (Pampoenboere) en ’n ambag in pas-en-draai by die Oos-Driefontein-myn voltooi. Later het hy sy kennis nog verder uitgebrei met ’n kursus in veekunde by die Pampoenboere en een in pluimveebestuur deur KwaZulu-Natal se pluimveevereniging.

Vir Bernard was ‘n hoogtepunt van die hele proses beslis die glansgeleentheid op 25 Oktober 2019 by die Birchwood Hotel in Boksburg. Katrien Bekker, Bernard se verloofde, en sy ouers Ben en Ina Rabe, het hom na die stylvolle geleentheid vergesel. Hier is hulle saam met Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA). Bernard was veral beïndruk met die reëlings van die geleentheid en die potensiaal van die ontwikkelende boere wat as wenners aangewys is, het hom uit die veld geslaan.
Foto: Helenus Kruger

Tans bly hy op hoogte van landbousake deur inligtingsdae en geleenthede soos die Graan SA Kongres by te woon, waar daar goeie sprekers is wat sy kennis kan verbreed. Nuwe boerderypraktyke en innoverende tegnologiese ontwikkelings interesseer hom veral, omdat hy sy boerdery hierdeur kan laat groei. Hy is ook nie bang om vrae te vra nie en leer graag by die wat meer weet.

Jani Britz, Bernard se administratiewe regterhand, beaam dit. “Die hoeveelheid inligting wat hy in sy kop het, is verbysterend,” gesels sy. “Hy kan inligting uit enige iemand trek en is ’n uitstekende luisteraar wat na inligting én raad luister. Daarna neem hy sy eie besluite, gebaseer op die inligting wat hy op sy manier verwerk het.”

Tot 2009 het hy saam met sy pa, Ben, en broer, Albert, geboer, waar hy aanvanklik in beheer van meganisasie was. Later het sy fokus na die saai-afdeling van dié boerdery verskuif. As gevolg van die bedreiging wat die myne en omliggende informele nedersettings vir die veegedeelte van die boerdery ingehou het, het die familie besluit om ’n plaas in die Vrystaat aan te koop en hul voerkraal in Noordwes te sluit. Bernard was verantwoordelik vir die saaiboerdery op albei plase, terwyl Albert die beesboerdery bestuur het. Ná ongeveer drie jaar is die besluit geneem om die boerdery te verdeel en het Bernard op sy eie boerderybene begin staan. Rabe Boerdery bestaan uit twee plase, naamlik Tweefontein en Raathskraal, albei in die Fochville-distrik.

Jaco Minnaar, voormalige voorsitter van Graan SA, oorhandig ’n nominasietrofee aan Bernard. Die beoordelaarspaneel wat saam met Jaco besoek afgelê het by Rabe Boerdery was Jozeph du Plessis (produsent en lid van die Hoofbestuur van Graan SA), Gerrie Ludick (landboukundige van InteliGro), Michael van Rooyen (bestuurder: Adviesdienste van NWK) en Kobus van Zyl (senior landboukundige van Omnia Kunsmis).
Foto: Alzena Gomes

Hier moes hy vinnig leer om die goeie en die slegte van die omgewing te hanteer, maar vir Bernard is hierdie plaas, ondanks die moeilike area waar dit geleë is, op die ideale plek – naby die stilte en nie te ver van die stad af nie. Vir hom is geen struikelblok in elk geval onoorkombaar nie en hy pak uitdagings met ’n droë humorsin en ’n skerp entrepreneuriese ingesteldheid aan.

Bernard het vir vier agtereenvolgende jare sy merk gemaak in Pioneer se Weeg-en-wen-kompetisie deur elke keer ’n eerste en/of tweede plek vir mielie- en sojaboonopbrengs in die Sentraal-streek te verower.

Die gesegde, ’n boer maak ’n plan, som hom beslis op. Bernard, wat op sowat 3 500 ha droëland saai, glo ’n mens hardloop nie weg van probleme nie, maar werk aan ’n plan om dit uit te skakel. Toe veediefstal ’n wesenlike probleem begin raak, het hy eenvoudig sy kudde verklein om risiko te beperk. Hy verbou wit- en geelmielies sowel as sojabone op Tweefontein en Raaths-kraal en droëland word ook vir aangeplante weidings benut. Sy besluit om nie meer sonneblom te plant nie, was die nadraai van duiweplae.

Volgens Bernard is die enting van die sojaplant onontbeerlik om produksie te verseker. In hulle omgewing is dit ook belangrik om vroeg te plant, aangesien dagliglengte maksimaal benut moet word.

Nog iets wat Bernard se strewe na hoër produksie in die wiele kon ry, is die ongelooflik hoë onkruiddruk in hierdie geweste. Sy onkruidbeheerprogram sluit onder meer in uitspuit voor stroping asook bespuiting van opslag tydens September/Oktober, weer tydens planttyd en ongeveer ses weke ná plant. Onkruidbeheer is oorspronklik met ’n selfaangedrewe spuit en per vliegtuig gedoen, maar as gevolg van te veel skade aan koppe is daar oorgeskakel na toediening direk agter die stroper. Te veel blaarbedekking het dié taak egter aansienlik bemoeilik en hy het die besluit geneem om onkruidbeheer met ’n vliegtuig toe te pas. Ná strooptyd word die beeste in die lande ingejaag, wat dan gerus word tot die volgende planttyd.

Die swakker gronde van hierdie omgewing is deur variërende toedienings en standvariasie reggestel. ’n Wisselboustelsel tussen mielies en sojabone is geïmplementeer om die stikstof in die grond te bind en die onkruiddruk te verlig. Só skakel Bernard struikelblokke wat vooruitgang kan belemmer, een vir een uit.

Waarde van kompetisie
Deur goeie boerderybestuur kry Bernard dit reg om sy opbrengsgrense gereeld te verskuif. Hy het vir die afgelope vier jaar aan Pioneer se Weeg-en-wen-kompetisie deelgeneem en het in 2017 met twee eerste plekke weggestap vir die beste mielie- én soja-opbrengs. In die ander jare is hy elke keer met ’n eerste en/of tweede plek beloon. Hy is dankbaar vir ’n staatmaker in sy span soos Jaco Nieuwoudt, die plaasbestuurder, wat seker maak dat sy planne, wat gelei het tot die skitterende opbrengste, uitgevoer word.

Rabe Boerdery is deur Jaap van der Westhuizen, Graan SA-hoofbestuurslid in Streek 16, benoem vir die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar. “Ek het aanvanklik teëgeskop, maar as ek terugkyk, besef ek om benoem te word, is ’n reusekompliment waarop ’n mens mag trots voel. Ek sien beslis die waarde van so ’n kompetisie in.”

Vir hom was die hele proses van dié kompetisie positief – van die nominasie tot by die prestigefunksie. “Ek sal beslis weer so iets doen, omdat ek daarvan hou om my boerdery uit iemand anders se oogpunt te sien.”

Die invul van die vraelys wat Graan SA aan die genomineerdes stuur, was vir hom ’n positiewe uitdaging. “Die vrae het my beslis diep laat dink oor hoekom ek doen wat ek doen.” Vir hom is die vraelys, as hy terugkyk, ook iets wat van groot waarde is en dalk ’n goeie maatstaf om ’n boerdery jaarliks aan te meet. Dit kyk na alle aspekte van die boerdery – van besluitneming en stelsels tot by drakrag en resultate.

Tydens die paneelbesoek is Bernard en sy span deeglik uitgevra en die vraelys se antwoorde is onder die loep geneem. Omdat hy ingestel is daarop, kon Bernard sien waar ruimte vir verbetering en ook persoonlike groei was. Hy het egter ook besef dat hy nie die boerdery beter kon “verkoop” nie en dat hier goeie werk gedoen word.

Al het hy nie as die wenner weggestap nie, het hy heelwat oor homself geleer. Hy weet egter dat selfs as hy gewen het, hy steeds na verbetering sou strewe. “Ek wil nie noodwendig groter boer nie, maar beter,” sê hy. Hy sou terugvoer van die paneel waardeer het oor waar hulle voel hy tekortskiet of hoe hy kan verbeter. “As ek nie weet wat fout is nie, kan ek dit nie regstel en groei nie.”

Dit is vir hom belangrik om gereeld aan kompetisies deel te neem – of hy nou wen of nie. “Dit hou jou op jou tone,” sê hy en voeg by dat dit ook die ideale geleentheid is om seker te maak dat onnodige items wat rondstaan óf ’n nuwe stoorplek kry óf weggegooi word. Hy raai ander produsente aan om deel te neem. “Elke mens sal ’n ander ervaring van die proses hê, maar jy leer so baie oor jouself. Dit sal jou beslis met ander oë na die landboubedryf laat kyk. Dit laat jou ook herevalueer wat jy doen en waarom jy dit doen.”

Hier word altyd ’n plan gemaak
Bernard glo dat produsente se krag in die lidmaatskap van georganiseerde landbou lê en dat samewerking sukses kan verseker. Hy bly om hierdie rede aktief betrokke by landbou-, plaaslike en gemeenskapsorganisasies en was voorheen voorsitter van die Losberg-studiegroep. Vir die afgelope drie jaar bied hy, in samewerking met dié studiegroep, ’n boeredag in die vorm van ’n Groendag aan. Vanjaar het hy egter ’n Sojadag op 19 Maart aangebied.

Bernard saam met sy twee regterhande, Jaco Nieuwoudt, die plaasbestuurder, en Jani Britz, wat toesien dat alle administratiewe sake vlot verloop. Sy bestuur ook die lodge.
Goeie boerderybestuur, volhoubare praktyke en moderne tegnologie verseker dat die beste uit die wyd uiteenlopende gronde gehaal word.

Sy toekomsvisie vir Rabe Boerdery sluit uitbreiding in Afrika in, maar hy is deeglik bewus dat nie alles wat hier opgebou is op risiko geplaas kan word nie en dat dié droom slegs sal realiseer as die span by Rabe Boerdery se visie strook met sy eie. “Afrika het definitiewe groeipotensiaal en met die nodige hulpbronne en kundigheid sal Afrika meer voedsel as die VSA kan produseer.”

Die nalatenskap wat hy wil agterlaat, is dat ’n mens altyd van niks iets kan maak. As hy nie iets het nie, sal hy ’n manier kry om iets soortgelyks te skep uit wat nutteloos op die plaas rondlê. Hy glo dat die meeste dinge om ons herskep kan word. Dis is dalk om dié rede dat die onbenutte grond in Afrika hom aantrek. Dit is boonop nog ’n geleentheid vir hierdie nederige boer om ’n plan te maak en by ’n nuwe uitdaging aan te pas.

Rabe Boerdery se logo: Die familievan, Rabe, is ’n Duitse van wat kraai beteken. Die Rabe-familiewapen het ook ’n kraai op.

Meer oor Rabe Boerdery

  • Bernard bedryf ’n gemengde boerdery met ’n saai- en vleisbeeskomponent.
  • Hy is ’n groot voorstander van geenbewerking en dit word sover moontlik toegepas om bewaringsbewerkingspraktyke te ondersteun.
  • Geenbewerkingspraktyke bevorder ook vogbewaring. Omdat die gronde swak is, is vogbewaring hier van kardinale belang.
  • Kultivarkeuse word gebaseer op die vorige prestasies van ’n spesifieke kultivar, proewe wat deur studiegroepe aangeplant is, proewe deur die LNR en op aanbevelings van onafhanklike landboukundiges.
  • Verskeie kultivarproewe word in samewerking met saadmaatskappye en studiegroepe op die plaas geplant.
  • Bernard ag die balansering van die stand- en kunsmisbepaling besonder belangrik, aangesien korrelasie en balans nodig is om die goue middeweg te vind.
  • Elke land word optimaal volgens sy variërende grondkartering geplant – met geen oorlêlande nie.
  • Die wisselboustelsel behels die rotasie van sojaboonlande, wat onkruidbestuur vergemaklik van sojabone na mielies.
  • Met ’n voorliefde vir sojabone, glo Bernard die enting van die sojaplant is onontbeerlik om produksie te verseker.
  • Bemesting word vasgestel volgens die grond se opbrengspotensiaal en regstellings vind volgens chemiese kaarte plaas.
  • Presisieboerdery word toegepas en die variërende metode dikteer plant en bemesting.
  • Plaagbeheer is meestal gefokus op aalwurm, springhaasrotte en duiwe.
  • As gevolg van meganisering het Rabe Boerdery ’n relatief klein arbeidsmag van sewe voltydse werkers. Hulle word seisoenaal ondersteun deur ongeveer 15 deeltydse arbeiders wat benodig word vir die optel van koppe tydens strooptyd.
  • Die finansiële bestuur van die boerdery is op streng rekordhouding gebaseer en wentel om begrotings wat haalbaar en effektief toegepas word.
  • Bemarking en verskansing geskied volgens voorseisoen- en plantseisoenkontrakte sowel as naseisoenkontrakte, met markverskansings vir die huidige en volgende seisoen.