Landboukolleges vertel hoe hulle uitdagings aanpak

Gepubliseer: 12 June 2020

1139
Valerie Cilliers,
redakteur,
SA Graan/Grain

Tersiêre instellings moes weens die Covid-19-inperkings met innoverende oplossings vorendag kom om te verseker dat studente steeds onderrig ontvang. Sedert president Cyril Ramaphosa se afkondiging op 23 Maart dat daar vanaf 29 Maart ’n algehele inperking in Suid-Afrika sou wees, moes daar vinnig planne gemaak word om studente op datum met hulle studies te hou.

As deel van ons fokus op tersiêre instellings het SA Graan/Grain by Elsenburg Landboukollege in die Wes-Kaap, Grootfontein Landboukollege in die Oos-Kaap en die Landboukollege Potchefstroom in die Noordwes Provinsie gaan uitvind hoe hulle dié en ander uitdagings aanpak. Ons wou ook by hulle weet wat die kolleges voornemende studente bied en of studente na afloop van hul studies suksesvol in die werksplek opgeneem word. Glen Landboukollege in die Vrystaat en Cedara Landboukollege in KwaZulu-Natal is ook genader, maar kon nie bereik word vir kommentaar nie.

Volgens Mary James, kommunikasiehoof by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, word verskeie media-opsies tans gebruik om met Elsenburg Landboukollege se studente te kommunikeer. “Ons poog om sover moontlik studiemateriaal elektronies aan studente beskikbaar te stel. Gereelde kommunikasie vanaf die prinsipaal en dosente verseker dat studente voldoende ondersteuning ontvang om die 2020- akademiese jaar suksesvol te voltooi,” sê sy. Mary erken egter dat studente se diverse sosio-ekonomiese omstandighede die proses soms bemoeilik.

Themba Cebani, prinsipaal van Grootfontein Landboukollege, sê hulle het skootrekenaars aangekoop en data aan studente verskaf wat dit nie kan bekostig nie. Hy sê die pandemie het hulle onkant betrap. “Ons fasiliteite en hulpbronne is gerat vir kontaksessies met studente en ons moet so spoedig moontlik ’n plan maak sodat studente steeds hulle opdragte kan uitvoer en inhandig.”

Die Landboukollege Potchefstroom se strategie is om selfs in die inperkingstyd kontak met bedryfsleiers te behou. Die kollege was voor die Covid-19-pandemie baie nou betrokke by die gemeenskap en skakel gereeld met produsente en opkomende boere in die omgewing om relevante inligting oor navorsing en tegnologie te deel. Die kollege se raad bestaan uit produsente en bedryfsverteenwoordigers soos Senwes, Graan SA en die Landbounavorsingsraad en daar word voortdurend voorleggings aan die raad gedoen rakende die kollege se administrasie en bestuur. Moderering van vraestelle en kursusse word ekstern behartig en die kurrikulum is verlede jaar hersien om seker te maak dat dit op standaard met bedryfsteikens en ander instellings is. Die kollege probeer sover moontlik rolspelers in die bedryf hierby betrek.

Wanneer daar besluit moet word oor ’n studierigting en waar om te studeer, is een van die belangrikste vrae wat studente dikwels vra of hulle na afloop van hul studies suksesvol in die werksplek opgeneem kan word. Ons het hierdie vraag aan die kolleges gestel.

Volgens Mary word die opleidingsprogramme by Elsenburg Landboukollege gereeld geëvalueer om te verseker dat studente voldoende toegerus is met kennis en ervaring wat hulle vir poste binne die landbousektor sal benodig. In Oktober 2019 het die kollege akkreditasie van die Raad op Hoër Onderwys ontvang en is geregistreer by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) om ’n nuwe diploma in landbou aan te bied. Die nuwe diploma is ’n direkte resultaat van onlangse evaluering en aanpassings wat gemaak is om met bedryfstandaarde te strook.

Themba sê dat Grootfontein een van die enigste landboukolleges is wat ’n bedryfsgeorganiseerde beursfonds het, juis omdat die kurrikulum volgens die behoeftes binne die bedryf aangepas is. “Die diploma wat ons aanbied, fokus op lewende hawe en meer as 80% van die veldwerkers in die kleinvee-, wol- en sybokhaarbedryf in ons gebied, is afgestudeerde studente van Grootfontein.” Hy voeg by dat meer as 60% van kleinveeprodusente in Suid-Afrika aan Grootfontein Landboukollege gestudeer het.

Oneile Sebitloane, kampushoof by die Landboukollege Potchefstroom, sê 60% van afgestudeerde studente is tans in diens. Daar is ook afgestudeerde studente wat hul intern- of leerlingskappe doen om die nodige ervaring op te doen. Die Landbou­kollege Potchefstroom bied ’n diploma in gemengde boerdery op NQF-vlak 6 aan en Taung Landboukollege bied ’n diploma in besproeiing aan. Die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling beywer hom om deur middel van dié kolleges landboutegnici op te lei met vaardighede wat sal bydra tot die landbousektor as deel van hul ekonomiese visie vir die Noordwes Provinsie. Verlede jaar het die departement altesaam 120 afgestudeerde studente in ’n internskapprogram op verskeie plase geplaas om die nodige ervaring op te doen en vaardighede vir die oprig van hul eie landboubesighede te leer.

Kontakbesonderhede van hierdie en ook ander landbou-opleidingsfasiliteite kan verkry word in die Graan SA Graangids 2020 wat gratis aanlyn in Engels en Afrikaans op die SA Graan/Grain-webwerf by sagrainmag.co.za beskikbaar is.