June 2018

Beste Grootneef

Orion en Sirius is saam oor die westerkim vir die noorde se somer. Die koue wintersaande in die Vrystaat word nou met die Skerpioen en die Suiderkruis versier. Helder, skoon aande met koue nagte. En kraakvars oggende met spierwit ryp oor die vleie uitgestrooi.

Ou Neef, so loop die seisoene die een na die ander en los ons met ouer bene en groter kinders. En met okkasies om te gedenk.

‘n Okkasie is ‘n lekker ding. Jy kan hom saamdra deur al jou seisoene tot by die einde. ‘n Okkasie gee altyd so ‘n soet nasmakie op die onthou-palet: ‘n Mymering oor iets wat ‘n verskil gemaak het aan hoe jy na die lewe kyk.

Een okkasie wat oom Fanie altyd ophaal, is die opening van Pep Stores op Makwassie. Dit was ‘n grote. Neef Richard praat weer met heimwee van die inwyding van Nuweland se spreiligte in ’97.

Buurman vertel graag van sy blind date-okkasie. Hy sê hy moes al onraad vermoed het toe almal wat hom aan die meisie wou voorstel, van haar mooi persoonlikheid gepraat het. Toe hy met ‘n rooi angelier in sy kispak vir die afspraak opgedaag het, het sybroek gebewe. Maar toe die meisie omgedraai en geglimlag het, was die versoeking groot om die hasepad te vat. Want sy het so effe op ou Poon getrek: ‘n Glimlag vol uitstaantande. Dit het gelyk of sy ‘n appel deur ‘n raket kon eet. Maar die liefde is blind. Vandag kyk niemand na die kinders met die effe skewe tande wat op die skoolbus klim nie.

Die okkasie van die jaar was egter NAMPO 2018. Die plek raak net te groot. Hulle moet ‘n wyntuin aan die suidekant opsit sodat mense kan asem vat voor die lang terugtog!

Ou Neef, maar ‘n okkasie uit die verre verskiet, is die inwyding van die Taalmonument in die Paarl. Nie oor die monument nie, maar oor die reis om daar te kom.

Oupa Klaas se reis het in die laat 1800’s begin, toe hy in ‘n wa by ‘n veepos naby Brandfort gebore is. In sy lewe het hy okkasies sien kom en gaan: Met ‘n lewensreis as kind deur die Engelse konsentrasiekamp, tot by Winburg as skoolmeester. Van dáár, na Liefdefontein naby die Rustfontein Halte om sy droom as boer te leef. Tot by sy oudag op Dewetsdorp, in die huis op die hoek nes jy die dorp van Bloemfontein af inkom. Die ou huis was vol boeke. En vol herinneringe van verhale oor okkasies.

Die grootste okkasie van oupa Klaas was egter die reis per vliegtuig van Bloemfontein af Kaap toe vir die Taalmonument se inwyding. Ou Neef, en dit is die wonder van ‘n okkasie: Dat ‘n mens in een leeftyd ‘n ossewa en ’n vliegmasjien kan beleef! Jy moet net bereid wees om op te klim.

Wie sou 30 jaar terug gedink het dat ons foto’s met telefone sou neem? Of dat ‘n telegram tot in die vergetelheid gefaks gaan word?! En dat ‘n faks met die druk van ‘n vonkposknoppie oudmodies sou raak. En nou het almal ‘n toep, want dit is ‘n vinnige slingervel om nuus die wêreld in te stuur. Watse okkasies lê daar nie vir ons kinders voor nie! Vakansies op Mars?

Ou Neef, maar enige okkasie is harde werk: Dit gebeur nie vanself nie. Begin betyds aan jou okkasie beplan. Eendag is ‘n leeftyd ver en dan is jy dalk te kruppel om die Drakensberge te gaan klim.

Groete op die Oosgrens!

Publication: June 2018

Section: Features