June 2018


Deur die loop van die bemarkingseisoen word voortdurend verwys na die produksie, verbruik en voorraadvlakke van graan. Dit is, onder andere, die belangrikste fundamentele aspekte wat rolspelers in die bedryf in gedagte hou wanneer die moontlikhede vir die seisoen in terme van markprysverwagtinge oorweeg word.

Produksie verwys na die hoeveelheid graan wat plaaslik per seisoen geproduseer word en dié syfers word op ‘n maandelikse basis deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak. Alhoewel dié maandelikse syfers ‘n skatting is, het die komitee hulle al deur die jare oor en oor bewys as akkuraat.

‘n Ander aspek wat ook ‘n noemenswaardige rol in die mark speel, is die verbruik van die mark. Die verbruik verwys na die hoeveelheid graan wat per seisoen verbruik word en is ‘n aanduiding van die vraag na die graan.

Hierdie syfers word deur die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) ingesamel en aan die mark gerapporteer, wat die hele waardeketting in staat stel om goeie berekeninge te doen en beter besluite te neem.

Die aspek wat beide die produksie en verbruik van die graan reeds in ag neem, is die voorraadvlakke. Dit word ook op ‘n maandelikse basis deur SAGIS bekend gemaak. Dié syfers toon die hoeveelheid onverwerkte graan wat aan die einde van elke maand in die land beskikbaar is.

Seisoenale voorraadvlakke
Grane en oliesade se voorraadvlakke is in Suid-Afrika oorwegend seisoenaal, met voorrade wat tradisioneel die hoogste is tydens strooptyd en deur die loop van die seisoen minder word soos die graan verbruik word.

Die bemarkingseisoen van die verskillende grane en oliesade is hoofsaaklik aangepas by die seisoenale voorrade. Die plaaslike bemarkingseisoen van mielies strek vanaf 1 Mei tot en met 30 April, aangesien April tradisioneel die maand is wanneer die plaaslike voorraadvlakke van mielies die laagste is.

Dit vergemaklik die berekening en projeksie van die vraag-en-aanbodtabelle vir die seisoen, met die afsluiting van die seisoen wanneer plaaslike voorraadvlakke op hul laagste is. Dit word ook as kritieke tyd in die mark beskou.

Grafiek 1 wys die gemiddelde maandelikse onverwerkte voorrade van mielies in Suid-Afrika. Uit Grafiek 1 kan ons aflei dat die laagste vlakke van onverwerkte voorraad gedurende April voorkom. Die grafiek bevat die gemiddelde maandelikse inligting oor die afgelope 18 jaar.

Die oordragvoorraad in die vraag-en-aanbodtabelle toon egter die hoeveelheid graan wat moontlik in die land tydens die maand wanneer die laagste hoeveelheid onverwerkte graan in die land beskikbaar is, beskikbaar kan wees. In Suid-Afrika is die minimum syfer waarmee die mark gemaklik is, genoeg graan vir ongeveer 1,5 maande (ses weke) se verwerking.

Tans word ongeveer 860 000 ton mielies per maand in Suid-Afrika verwerk, wat beteken dat daar tydens April ten minste 1,3 miljoen ton se onverwerkte voorraad in die land beskikbaar moet wees. Indien die eindvoorraad (voorraad tydens April) minder of relatief naby aan dié getal is, sal die mark veral uiters sensitief wees vir aspekte soos weersomstandighede. Indien die beskikbare hoeveelheid graan heelwat hoër as hierdie vlakke is, behoort die mark nie so sensitief te wees vir moontlike uitdagings met voorraad nie. Die mark reageer boonop dan nie so skerp op omgewingsfaktore soos wat andersins die geval is nie.

Grafiek 1 wys ook waar die graan gestoor word. Dit illustreer dat die meeste graan by kommersiële opbergers of silo-eienaars gestoor word. Daar is ook ‘n hoeveelheid wat per maand by verwerkers gestoor word. Die hoeveelheid graan wat per maand by hulle gestoor word, is naby aan die hoeveelheid wat per maand verwerk word. Daardeur verseker die verwerkers hul inventaris vir ten minste ongeveer ‘n maand se verwerking.

Waar lê die graan?
Alhoewel dit duidelik is waar die graan gestoor word, is dit ‘n uitdaging om te sê aan wie die meeste van die graan wat gestoor word, behoort en waar die graan lê. Die graan wat gestoor word, kan in ‘n groot aantal gevalle in sekere gebiede van die land lê, terwyl die voorraad daarvan in ander gedeeltes van die land maar skraps is. Daarom sal aankopers in sekere gedeeltes van die land sukkel om graan in die hande te kry, al is daar moontlik hoë voorraadvlakke in die land beskikbaar.

Die aankopers in daardie gebiede sal dan hoër pryse vir graan moet betaal, omdat graan nie volop in die gebied is nie. Die aankoper sal genoodsaak wees om die graan van ver af aan te ry, wat veroorsaak dat die prys wat betaalbaar is bes moontlik duurder sal wees as wanneer die graan in die streek volop is. Dit is die beginsel vir vraag en aanbod per streek.

Wanneer die vraag na graan in ‘n streek groter is as die aanbod van graan in dié streek, sal die streek as ‘n premiegebied bekend staan – veral in tye wanneer die voorraad in die gebied skraps begin raak.

Premiegebiede is die meeste van die tyd gedeeltes wat naby groot verbruikspunte lê, maar waar die produksie gewoonlik nie die vraag na graan oorskry nie. In die meeste gevalle is gebiede nader aan die kus groter premie-areas, omdat meeste van die graan in die binneland geproduseer word. Dit is vir verwerkers duurder om graan dieper in die binneland aan te koop en daarom kan hulle hoër premies vir die graan naaste aan hulle aanbied.

Die gebiede nader aan die kus is ook beter geleë vir uitvoere en hierdie gebiede se graan sal eerste vir uitvoerdoeleindes aangekoop word, wat ‘n goeie vraag in dié gebiede kan skep en van die gebied ‘n premiegebied kan maak – veral wanneer die land ‘n netto uitvoerder van mielies is.

Produsente moet hulself vereenselwig van die vraag en aanbod in die gebied en wanneer hul in ‘n premiegebied is, beding vir premies wanneer hul graan bemark.

Ten slotte
Die bemarking van graan speel ‘n uiters belangrike rol in die winsgewendheid van ‘n boerdery en dit is belangrik om daaraan aandag te gee. In die vryemarkstelsel is inligting van kardinale belang en daarom moet soveel as moontlik inligting ingesamel en vrae gevra word wanneer dit tyd is vir bemarking.

Produsente moet hulself vergewis van die situasie, sowel as die vraag en aanbod in die omgewing ten einde vas te stel wanneer goeie geleenthede vir premies in die mark voorkom. Dit is belangrik om te onthou om vir premies te beding wanneer bemarking gedoen word.

Publication: June 2018

Section: Focus on