El Niño: Wat kan ons uit die geskiedenis leer?

Gepubliseer: 12 Junie 2023

1082
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

23 Mei 2023

– Volgens ekonomie 101 word prysbepaling tot ’n groot mate deur vraag en aanbod beïnvloed. Dieselfde geld vir prys­bepaling in die graanmarkte. Dit is wel nie so eenvoudig as om net te kyk na die totale vraag en aanbod van die graanmark nie.
Die totale verbruik (of vraag) bestaan uit verskeie faktore soos byvoorbeeld voedsel-, nywerheids-, voer-, saad-, uitvoer- en persverbruik, wat elk deur hul eie stel omstandighede beïn­vloed word.

Aan die aanbodkant word invoere, beginvoorraad asook produksie gebruik om die totale aanbod van graan te bepaal. Produksie, in die wêreld en plaaslik, is die aanbodfaktor wat die grootste aanduiding gee van die totale aanbod vir ’n gegewe bemarkingseisoen. Daar is verskeie faktore wat produksie beïnvloed, met weersomstandighede wat seker die grootste rol speel.

Die impak van klimaat
Wanneer die mark na die weersomstandighede kyk, word gereeld na die terme El Niño en La Niña verwys. Eenvoudig ge­stel beteken ’n El Niño-fase dat sommige gebiede hoër as gemiddelde reënval ervaar en ander areas laer as gemiddelde reënval. Figuur 1 illustreer die produksiegebiede met ’n hoë korrelasie tussen droë/nat toestande tydens El Niño-fases.

Figuur 1: Landbougebiede met ’n hoë korrelasie tussen droë/nat toestande en El Niño-gebeure, en hoofgraangewasse wat die fenologiese fase gedurende maande van historiese impak aandui.
Bron: FAO GVIEWS

Vanaf Figuur 1 word waargeneem dat die Suidelike Halfrond oor die algemeen droër toestande ervaar tydens die El Niño-fase as die Noordelike Halfrond. Met ander woorde, wanneer Suid-Afrika en Brasilië droër produksie-omstandig­hede ervaar, is daar natter produksie-omstandighede in die VSA. Dié figuur wys uit watter gebiede meer as normale reënval ervaar teenoor gebiede wat droër toestande ervaar tesame met die graangewas waarop die gebeurtenis die grootste impak het. In die VSA word daar byvoorbeeld veral tussen November en Desember natter as normale produksie-omstandighede ervaar wanneer die stroopproses plaasvind.

Die krag van die fase maak saak. Hoe sterker die ENSO-gebeurtenis (El Niño Southern Oscillation) is, hoe meer verreikend en ernstig sal die globale klimaatsimpakte waarskynlik wees. Gebeurtenisse word geklassifiseer as swak, matig/gemiddeld, sterk of baie sterk. El Niño-verskynsels bereik tipies hul hoogtepunt aan die einde van die jaar en die huidige voorspelling is vir ’n ongeveer 40%-kans dat dié gebeurtenis sterk sal wees. Tabel 1 klassifiseer die produksiejare waarin die verskillende tipes fases/gebeurtenisse waargeneem is.

Internasionaal
Daar word vermoed dat meer as 25% van die wêreld se saailande deur ENSO-episodes geraak word wanneer dit kom by landbou-opbrengste. Daar is oor die algemeen waargeneem dat El Niño-episodes die globale gemiddelde sojaboonopbrengste ietwat verhoog, terwyl die globale gemiddelde mielie- en koring­opbrengste effens verlaag word. Oesopbrengste word egter nie altyd beïnvloed nie. In vergelyking met ander gewasse word mielies meer gereeld aangetas.

As daar in ag geneem word dat geen twee episodes dieselfde is betreffende krag of lengte nie, is dit onduidelik hoe die huidige verwagte El Niño-gebeurtenis landbouproduksie kan beïnvloed. Sekere gebiede kan egter gemerk word as meer waarskynlik om opbrengsimplikasies te hê gebaseer op vorige El Niño-gebeure. Wat mielie-opbrengste betref, sal die middeweste (Corn Belt) van die VSA na verwagting positief beïnvloed word en in die suidooste van Suid-Amerika sal mielie- en sojaboonopbrengste baat vind, terwyl gewasse in die Noord-China-vlakte, suidelike Mexiko, noordoos-Brasilië, Indië, Indonesië, Wes-Afrika en Suider-Afrika waarskynlik negatiewe gevolge sal sien (verwys na Figuur 1). Wat koring betref, sal die suidelike groot vlaktes van Amerika, China, Sentraal-Asië en die suidooste van Suid-Amerika waarskynlik gunstige gevolge hê, terwyl Suidoos-Australië waarskynlik negatiewe gevolge sal hê.

Grafiek 1: Produksie- en opbrengstendense in Suid-Afrika sedert 1992/1993.
Bron: NOK; Graan SA

Plaaslik
’n El Niño-fase bring oor die algemeen droër produksietoestande, veral in die somerreënvalgebiede. Volgens Tabel 1 is die 1997/1998- en 2015/2016-produksiejare geklassifiseer as baie sterk El Niño-gebeurtenisse. Vanaf Grafiek 1 kan daar gesien word dat hierdie seisoene ook gepaard gegaan het met laer produksie. Afhangende van die sterkte van die voor­spelde El Niño in die komende produk­sie­seisoen, sal plaaslike produksie moet kompeteer teen voordelige produksie-omstandighede in die VSA.

Samevatting
Markte was veral die afgelope twee jaar wisselvallig en onseker. Met die huidige voorspelling vir die wêreld om ’n sterk El Niño-fase in te gaan, gaan markte al hoe meer begin fokus op weerpatrone om markrigting te bepaal. Geen twee El Niño-gebeurtenisse is dieselfde be­treffende krag of lengte nie – dus is dit onduidelik hoe die huidige verwagte El Niño-gebeurtenis landbouproduksie in totaliteit kan beïnvloed. Dit kan gebeur dat sekere produksiegebiede erger beïnvloed word as ander. Dit is belangrik om globale produksie-omstandighede dop te hou, veral in die volgende paar maande wanneer die La Niña-fase draai.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.