June 2018

Op internasionale markte, veral in China, het pryse van aktiewe bestanddele van landbouchemikalieë die afgelope tyd uitermate gestyg.

Die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat die Chinese regering tans besoedelingswetgewing besonder streng implementeer. Heelwat aanlegte word as gevolg hiervan gesluit en dit het die aanbod van aktiewe bestanddele beperk en pryse opgejaag. Dit is belangrik om in ag te neem dat ‘n groot aantal van die multinasionale maatskappye se produkte nie vanaf China ingevoer word nie en daarom nie dieselfde stygings deur behoort te gee nie.

In die Wes-Kaap maak landbouchemikalieë tussen 16% en 20% van ‘n koringprodusent se lopende produksiekosterekening uit, terwyl dit in sekere dele van die somergewasproduserende dele onder 5% uitmaak. Produksiepraktyke soos geenbewerking, asook die uitdaging van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap, het veroorsaak dat kostes van landbouchemikalieë uitermate styg.

Deurlopende monitering van insetpryse is krities om seker te maak die regte prys vir die regte kwaliteit betaal word. Plaaslike graan- en oliesadeprodusente betaal reeds invoerpariteit vir die meeste van hul insette – wat dit ‘n groot uitdaging maak om met internasionale eweknieë te kompeteer.

Hoe groter die koste aan landbouchemikalieë, hoe belangriker is dit dat produsente die regte prys vir hul landbouchemikalieë betaal. Suid-Afrika voer basies 100% van sy landbouchemiese behoeftes in; daarom speel internasionale pryse en die wisselkoers ‘n bepalende rol in die samestelling van plaaslike pryse. Nie net dít nie, hoe die finale produk vanaf invoere tot by die eindverbruiker, die koringprodusent, beweeg, speel ook ‘n bepalende rol.

In hierdie artikel word tendense in internasionale landbouchemiese pryse uitgewys en ook met gemiddelde plaaslike prystendense vir landbouchemikalieë vergelyk. Kyk hoe jou tendense hiermee vergelyk en gee gerus aan ons terugvoer daaroor.

Internasionale landbouchemiese pryse
Tabel 1
 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ‘n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse in randwaarde aandui.

Uit die tabel kan afgelei word dat die pryse van alle onkruiddoders in dollarwaarde skerp gestyg het, terwyl die pryse in randwaarde tot ‘n mindere mate gestyg het as gevolg van die versterking van die rand. Dieselfde tendens word in die plaaslik mark verwag.

In Tabel 2 is internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk aangebring. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse in randwaarde aandui. Uit die tabel is dit duidelik dat pryse tot ‘n groter mate as dié van onkruiddoders gestyg het. Selfs die versterking van die rand kon nie verhoed dat pryse in randterme skerp toeneem nie.

Plaaslike versus internasionale tendense
Dit blyk darem dat plaaslike pryse oor ‘n jaartydperk nie tot dieselfde mate as dié van pryse in China gestyg het nie. ‘n Opname onder plaaslike multinasionale maatskappye wys dat landbouchemiese pryse met 6% oor ‘n jaartydperk toegeneem het, terwyl pryse onder maatskappye wat generiese produkte verkoop, om en by 20% toegeneem het. Met hierdie tipe inligting probeer ons om die chemiese mark meer deursigtig vir Graan SA-lede te maak. Dit sal interessant wees om van ons lede te hoor wat hulle tans vir landbouchemiese middels betaal vergeleke met verlede jaar dieselfde tyd – gegewe die bostaande tendense.

Stuur gerus ‘n e-pos na corne@grainsa.co.za.

Publication: June 2018

Section: On farm level