April 2018

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA

Graanprodusente het weer eens gewys dat eenheid en dialoog as boustene gebruik kan word om konsensus te bereik – selfs wanneer uitdagende en emosionele onderwerpe soos grondonteiening sonder vergoeding aangepak word.

Graan SA het tydens sy 2018 Kongres suksesvol ‘n mosie oor grondhervorming goedgekeur, nadat lang gesprekke met beide kommersiële en ontwikkelende graanprodusente gelei het tot ‘n grondhervormingsmosie waarop alle partye ooreengekom het. Afgevaardigdes het weer eens bewys dat eenheid in landbou, sowel as die noodsaaklikheid van dialoog, belangrike boustene vir die toekoms van die sektor is.

Die organisasie erken die behoefte aan, ondersteun grondhervorming en transformasie in Suid-Afrika en erken die noodsaaklikheid van ‘n florerende en welvarende graansektor om voedselsekerheid tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te onderhou en te verbeter. Tydens die jaarlikse Kongres is ‘n mosie oor grondhervorming goedgekeur en is herhaal dat dit heeltemal moontlik is om albei hierdie vereistes binne die grense van die huidige Grondwet – wat die organisasie respekteer – te bereik.

Die mosie oor grondhervorming beklemtoon die volgende:

  • Graan SA erken en ondersteun die noodsaaklikheid van grondhervorming en transformasie in Suid-Afrika.
  • Graan SA erken ook die noodsaaklikheid van ‘n voorspoedige en volhoubare graansektor om voedselsekerheid vir almal in Suid-Afrika te verseker.
  • Graan SA sal voortgaan om die oordrag van titelaktes aan begunstigdes te bewerk.
  • Dat Graan SA daadwerklik en dringend ‘n indringende gesprek met die regerende party sal voer om konsensus oor alle aspekte van die saak te kry.
  • Tot tyd en wyl die konsensus bereik word, word die huidige Grondwet gehandhaaf.

Graan SA streef na en sal voortgaan om te pleit vir die oorhandiging van titelaktes aan begunstigdes van grondhervormingsplase, aangesien die waarde van grond in die titelakte tot daardie grond lê. Sonder bekomde titelaktes, is daar geen manier om die waarde van die grond te ontsluit nie.

Onteiening sonder vergoeding maak nie net die ontsluiting van die waarde van grond onmoontlik vir nuwe boere nie, dit ondermyn ook die grondslag waarop ons huidige graanproduksie gefinansier word. Privaat eiendomsreg word wêreldwyd erken en is vir baie goeie redes vasgelê in ons Grondwet. Die versuim om dit te handhaaf, sal lei tot die katastrofiese ineenstorting van ons ekonomie.

Bitter min inligting is beskikbaar oor die regering se mosie, wat onsekerheid skep. Daarom is dit belangrik dat Graan SA voortdurend betrokke bly en met die regering onderhandel. Graan SA sal steeds vennote van beide die regering en die privaat sektor nader om grondhervorming op só ‘n manier te verbeter en te bespoedig dat dit nie net grondhervorming bewerkstellig nie, maar ook langtermynvolhoubaarheid en -voedselsekerheid vir ons land verseker.

Publication: April 2018

Section: Review on Congress