March 2018

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Die afgelope twee bemarkingseisoene, wat absoluut kontrasterend van mekaar was, het albei hul eie uitdagings vir die graanprodusent na die tafel toe gebring. Die twee seisoene is gekenmerk deur produksierisiko en prysrisiko onderskeidelik.

Alhoewel die produsente in die somersaaigebiede in die huidige 2017/2018-bemarkingseisoen in die meeste gevalle die hoogste opbrengste nóg gerealiseer het, was dit ook ‘n seisoen waar die winsgewendheid van produsente steeds onder die vergrootglas was. Die goeie produksiejaar in die somersaaigebiede het grootliks gelei tot groot voorraadvlakke, wat nou ook vir meeste van die somergrane aan die einde van die bemarkingseisoen ‘n werklikheid gaan wees. Dit beteken dat ons in die nuwe seisoen met redelike groot voorrade van mielies, sojabone en sonneblomsaad gaan sit – wat die komende seisoen se voorrade ‘n ordentlike hupstoot sal gee. Dit sal weer eens beteken dat pryse in die komende seisoen ‘n uitdaging behoort te wees.

In die winterreënvalgebiede was die droogte hierdie seisoen weer besonder uitdagend en was die produksie vir die seisoen nie optimaal nie.

In die internasionale konteks word die afgelope paar jare bestempel as ‘n “supersiklus van grane” en in die wêreldkonteks is die voorraadvlakke van die meeste grane naby aan rekordhoogtepunte – wat die internasionale pryse ook redelik laag hou en die plaaslike produkte se mededingendheid in die internasionale markte verder onder druk plaas.

Die plaaslike produsent moet egter al hoe slimmer en beter begin boer om volhoubaarheid te verseker in die huidige uitdagende omstandighede.

Verskillende tipes koste
Kostebestuur is een van die belangrikste aspekte wat noodsaaklik is – veral in omstandighede wanneer die winsgewendheid van produsente onder druk is. Die kostekomponent van die boerdery is noodsaaklik en dit is belangrik vir produsente om deeglike berekeninge te maak wat koste betref – veral wanneer dit by die oorhoofse kostekomponent van ‘n vertakking kom.

Die direkte koste van produksie per hektaar is redelik vas en daar is in die meeste gevalle nie veel spasie om te besnoei sonder om die produksie per hektaar negatief te beïnvloed nie. Die direkte koste kan tot ‘n groot mate bestuur word deur produksie-ekonomiebeginsels toe te pas wanneer dit by die toediening van insette kom.

Produsente moet insette sodanig probeer toedien dat wins eerder as produksie gemaksimaliseer word. Die oorhoofse komponent aan die ander kant, is die koste wat oor die kort termyn onveranderd bly – ongeag van die hoeveelheid wat geproduseer word.

Hierdie koste het in die meeste gevalle nie direkte betrekking op die produksie van graan nie, maar dit gaan meer oor die algehele oorhoofse koste van die boerdery wat nie wissel soos die produksie wissel nie. Hierdie koste sluit aspekte soos salarisse van permanente arbeid, huur, paaiemente, depresiasie en so meer, in.

Doen die berekeninge
Grafiek 1 tot Grafiek 4 toon die gemiddelde direkte insetkoste, asook die gemiddelde produksiewaarde en die maksimum vaste kostekomponent per gewas van mielies, sojabone, sonneblomsaad en koring onderskeidelik.

Die berekeninge is gedoen deur gebruik te maak van die gemiddelde werklike produksiekoste van die verskillende gewasse vir Suid-Afrika, asook die gemiddelde opbrengs per hektaar wat deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) bekend gemaak is vir hierdie tydperk.

Die pryse wat in die berekeninge gebruik is, is ‘n jaarlikse gemiddelde Safex-prys minus die jaarlikse gemiddelde basisaftrekking. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hierdie berekeninge die gemiddeld oor tyd weerspieël en dat dit nie bloot spesifieke gevalle nie.

Produsente moet egter die berekeninge in hul eie konteks gaan doen om van te stel wat die gewasvertakking se vermoë is om die oorhoofse koste te dek. Grafiek 1 toon dat die mieliebedryfstakbegroting oor die afgelope paar jaar oorhoofse koste van ongeveer R2 500/ha sou kon dra – gegewe die gemiddelde koste en produksiewaarde bo die direkte insetkoste. Die jaarlikse gemiddelde wit- en geelmielieprys is in die berekening van die produksiewaarde bo direkte koste gebruik.

Grafiek 2 toon die koste van sojabone oor die afgelope paar jaar en dit is duidelik dat ‘n sojaboonbedryfstak teen gemiddelde koste en opbrengste in Suid-Afrika maksimum oorhoofse koste van ongeveer R2 100/ha sou kon dra.

Uit Grafiek 3 kan gesien word dat die sonneblomsaadbedryfstak oor die afgelope paar jaar oorhoofse koste van ongeveer R1 100/ha sou kon delg – gegewe gemiddelde koste en pryse oor die afgelope paar seisoene.


Grafiek 4 toon die koste en produksiewaarde van koring vanaf die 2009/2010-seisoen en dit is duidelik dat die produksiewaarde van koring die afgelope paar seisoene steeds die direkte kostekomponent daarvan oorskry het. Uit Grafiek 4 kan afgelei word dat die maksimum vaste kostekomponent van koringproduksie oor die afgelope paar jaar ongeveer R3 100/ton sou kon goed maak gegewe die verskillende aannames wat gemaak word.

Ten slotte
Alhoewel die berekeninge soos in die artikel gebruik, betreklik breed is en slegs gemiddeldes toon, is die volgende beginsel uiters noodsaaklik vir hierdie tipe berekeninge: Elk produsent moet dit in sy eie konteks gaan toepas.

Suid-Afrikaanse produsente moet oor die algemeen in die meeste van die gewasse kompeteer teen die internasionale marktehetsy dit aan die invoer- of uitvoerkant van die mark is.

Dit plaas die plaaslike produsente se winsgewendheid oor die algemeen onder druk – veral met gewasse soos mielies en koring, waar internasionale markte ‘n meer prominente rol in die bepaling van plaaslike markpryse speel.

Produsente moet egter goeie produksie-ekonomiebeginsels toepas om te verseker dat die bestuur van hul kostestrukture optimaal is, met die uitgangspunt om wins eerder as produksie te maksimaliseer. Die oorhoofse kostekomponent is een aspek wat ook ‘n groot impak op die plaaslike winsgewendheid van produsente het en produsente moet maniere oorweeg om dit in hul boerderye te bestuur.

 

Publication: March 2018

Section: On farm level