March 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Die winsgewendheid van die produksie van die meeste oopbestuifde gewasse kom al meer onder druk. Produsente mag dink dat hulle heelwat koste spaar deur hul eie saad terug te hou – en dit is die produsent se reg om dit te doen – maar daar is dikwels ‘n goeie rede waarom gekoopte saad soveel duurder as teruggehoue saad is.

‘n Groot gedeelte van die koste van die gekoopte saad is verskuilde koste wat eers na vore kom wanneer sake met teruggehoue saad skeef loop. Gesertifiseerde saad voldoen aan streng fisiese en genetiese vereistes wat deur SANSOR gekontroleer word. SANSOR-saadinspekteurs doen verpligte landinspeksies en monitor die gewas vir genetiese suiwerheid, groei-afwykings, siektes en onkruidbesmetting.

Saad wat gesertifiseer is, bevat nie onkruidsaad nie, is nie vermeng met ander kultivars nie, het ‘n gewaarborgde minimum ontkiemingspersentasie en word met chemiese saadbehandelingsmiddels teen insekte en saadgedraagde siektes verkoop. Produsente word verder deur die Plantverbeteringswet beskerm indien probleme met die gesertifiseerde saad ervaar word. Ten einde saadprobleme sover moontlik te voorkom, fokus saadverskaffers op die voorsiening van hoë kwaliteit saad.

Deur saad terug te hou, moet die produsent alles moontlik doen om die saad op dieselfde standaard as gesertifiseerde saad te kry. Aspekte waaraan voldoen moet word, is genetiese suiwerheid, siekte- en onkruidvryheid, minimum ontkiemingspersentasie, asook groeikragtigheidstoetse. Die produsent is self vir al hierdie aspekte verantwoordelik wanneer saad terughou word.

Ten einde goeie gesertifiseerde saad te kan lewer, word die saad deur die maatskappye met sorg geklas, verpak, gestoor en aan die kliënt gelewer sodat die minste kans bestaan dat uitdagings met opkoms, groeikragtigheid en suiwerheid voorkom. Verder doen die saadmaatskappye alles in hul vermoë om seker te maak dat die geplante saad gelyk sal opkom en dat die saailinge eenvormig in terme van grootte en groeikragtigheid is.

’n Produsent wat saad terughou, moet aan hierdie vereistes kan voldoen om seker te maak dat hy/sy groeikragtige plante met die nodige stand kan kweek. Indien die saadgroottes in die saadbak wesenlik van mekaar verskil, sal dit aanleiding gee tot saailinge wat nie eenvormig is nie en sodoende sal die een saailing die ander swakker saailing oorskadu, wat uiteindelik laer opbrengste as resultaat sal lewer.

Plantestand
In verskeie proewe is al waargeneem dat die plantestand van teruggehoue saad betreklike groot afwykings van die verlangde plantestand toon. Daar kan legio redes voor wees, maar gewoonlik gaan dit oor die ontkiemingspersentasie en groeikragtigheid van die saailinge en die tekort aan inligting daaroor. Die gevolg hiervan is te veel of te min plante per hektaar, wat in albei gevalle die opbrengs wesenlik benadeel.

Die belangrikste aksie wat ‘n produsent moet doen, is om die ontkiemingspersentasie en groeikragtigheid van die saad te laat toets om te weet hoeveel van die sade per hektaar geplant moet word.

Hoewel teruggehoue saad potensieel net so effektief soos gekoopte saad is, dra jy as produsent self die risiko wanneer daar om die een of ander rede dalk ‘n fout insluip. Hierdie foutjie kan jou heelwat meer kos as wat jy dink. Onthou net: Produsente wat teruggehoue saad aanplant, word nie deur die Plantverbeteringswet beskerm indien probleme met die saad ervaar word nie.

Voorsorg
Die sukses met teruggehoue saad begin by die versorging van die plante waarvan die sade teruggehou gaan word. Maak seker dat hierdie lande korrek bestuur word, dat die kultivar geplant suiwer is, die onkruid korrek beheer word, siektes voorkomend beheer word en dat jy alles in jou vermoë doen om ’n aanvaarbare kwaliteit saad te produseer. Gereelde besoeke aan die land en die verwydering van siek en onsuiwer plante sal ‘n aansienlike bydrae lewer om ’n aanvaarbare kwaliteit te verseker.

Dit sal geen bydrae lewer as jy alles in die produksieproses reg doen en die saad raak in die stoor of op die wa deurmekaar nie. Dit is belangrik dat jy hierdie saadsakke sal merk sodat jy weet watter saad van watter kultivar is en waar en wanneer dit gestroop is.

Let ook veral op vir groen pitte, kouebeskadigde, meganiese of insekbeskadigde sade. Die produsent moet saadkwaliteit evalueer, saadbehandelingsmiddels oorweeg asook ‘n saadskoonmaakproses gebruik om die gebruikswaarde te verhoog.

Sif
Met ‘n goeie sif (verkieslik ‘n gravitasiesif) kan die saad in die regte groottes en massa geklas word – en ‘n groot gedeelte van die uitdagings met teruggehoue saad hierdeur ondervang. Hierdie is en bly ‘n arbeids- en bestuursintensiewe proses.

Sodra hierdie proses uitgevoer word, sal jy vind dat ‘n groot gedeelte van die saad nie noodwendig geskik is vir herplant nie. Dit kom daarop neer dat jy dalk meer saad sal moet terughou om seker te maak dat jy in die plantseisoen oor genoeg saad beskik. In die sifproses behoort die meeste onkruidsaad uitgevang te kan word, maar die saadgedraagde siektes sal in die saad bly. Dit is belangrik om hierdie saad met chemiese middels te behandel om saadgedraagde siektes te beperk.

Opberging
Die opberging van teruggehoue saad vereis ook meer bestuur as wat die algemene persepsie is. Saad wat aan temperatuuruiterstes – veral hitte – blootgestel word, het ‘n laer ontkiemingspersentasie en kan nie naastenby so lank geberg word as wat verwag word nie.

Verseker dat die saad teen ‘n konstante koel temperatuur geberg word. In ‘n groot aantal gevalle sal die saad se vogpersentasie ook geweldig laag raak. Hierdie uiters droë saad kan langer geberg word, maar sal heelwat makliker beskadig word as wat algemeen besef word. Sorg dat jou saad nie te droog word nie, maar pasop ook vir té nat saad – dit sal die opbergtyd dramaties verkort.

Indien die saadsakke op die grond gestapel word, moet jy seker maak dat die onderste sakke nie van onder af kan nat word nie. Indien dit die geval is, sal hierdie saad se kwaliteit ook heelwat laer as verwag wees.

Goggas en knaagdiere kan jou ook groot skade berokken. Maak seker dat kalander, onder andere, nie die saad besoek en beskadig nie. Voorkoming is die wagwoord. Doen alles in jou vermoë om die saad te beskerm.

Koste
Op die oog af lyk die saadkoste per hektaar vir teruggehoue saad na ‘n aantreklike opsie. Dit is goedkoper om saad terug te hou en te plant, maar dit kos jou verseker nie niks nie: Daar is altyd verskuilde en versteekte koste.

Swakker saadkwaliteit of die gebrek aan saadkwaliteitsontledings van die saadbron, veroorsaak dat produsente die saad teen hoër saaidigthede wil aanplant om te kompenseer vir die saad se gebreke – wat dalk tot te hoë plantestand aanleiding kan gee. Ten spyte hiervan, kan swakker plantestand addisionele onkoste vir onkruidbeheer inhou, terwyl die laer groeikragtigheid swakker plante kan veroorsaak en beide tot laer opbrengste kan lei – nog meer risiko’s vir jou!

Tabel 1 bevat die direkte koste van koring en sojabone. Volgens die berekening in Tabel 1 is dit duidelik dat net 42 kg ekstra gestroop moet word om gelyk te breek. Vir sojabone word ‘n addisionele 219 kg/ha benodig om gelyk te breek. Dit is net een deel van die sommetjie: Hoeveel verloor jy as die saad se opkoms om een of ander rede nie na wense is nie?

Dit maak sin om besondere aandag aan die bestuur van teruggehoue saad te skenk. Net een land wat swak opkom, sal hierdie verskil negeer.

Alhoewel dit nie aan te beveel is om saad terug te hou nie, kan winsgewendheid produsente dwing om wel saad terug te hou. Koop ‘n gedeelte van die saad wat geplant gaan word egter elke jaar nuut. Dit kan ‘n bydrae lewer om die risiko te verskans as iets dalk verkeerd loop.

Miskien moet produsente die moontlikheid ondersoek om ‘n saadverwerkingskema in samewerking met ander rolspelers te begin. Die verwerkingsmaatskappy kan dan die teruggehoue graan tot saad verwerk, opberg en weer aan produsente teruglewer. Die nodige toetse kan op die saad gedoen word, sodat produsente weet wat van die saad verwag kan word. Dit kan jou as produsent dalk heelwat geld spaar.

Kontak Pietman Botha oor navrae in verband met teruggehoue saad by 082 759 2991.

 

Publication: March 2018

Section: Focus on