Eksperiment lei tot eerste plek

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

470

Davie van der Merwe van DMJ van der Merwe Boerdery het vanjaar vir die eerste keer aan die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie deelgeneem. Sy plan – om met ’n hoër stand en meer bemesting te ekspe­rimenteer – het goeie vrugte afgewerp en aan hom die eerste plek in die afdeling vir mielies geproduseer in Noordwes besorg. Hy het boonop gewen met ’n rekordopbrengs van 13,76 t/ha op droëland.

Hy het dié uitstekende opbrengs met die baster DKC 75-65BR op die plaas Zitland net buite Schweizer-Reneke behaal. Dit is die vyfde seisoen wat Davie die betrokke baster plant. Benewens DKC 75-65BR het hy ook DKC 76-77BR geplant. Die blok wat ingeskryf is, is op 6 November 2021 geplant en begin Julie 2022 gestroop. Sy varieerbare insetkoste vir die gedeelte wat hy ingeskryf het, was R13 500/ha.

Volgens Davie het hy ’n uiters goeie reënseisoen beleef met neerslag wat net reg was – nie te laat of te vroeg nie. Die verspreiding deur die seisoen was ook besonder eweredig. Die gemiddelde reënval in hulle omgewing is 450 mm per jaar, maar in die 2021/2022-seisoen het hulle 700 mm reën op die plaas ontvang. As hy sy opbrengs uitwerk met betrekking tot die beskikbare vog, was die opbrengs 12,5 kg/mm reën. Hy noem dat hulle veral baie reën in Desember ontvang het en dat die katoen die uiters nat toestande nie goed hanteer het nie. “Ons moes een blok oorplant met ’n ander gewas omdat dit net te nat was vir katoen.”

Davie plant mielies, sojabone en katoen en hulle boer ook met beeste. Sy pa hanteer die veekomponent op die plaas en die oesreste word net na stroop vir ’n tyd bewei.

Hy plant 60% mielies, 20% sojabone en 20% katoen. In sy wissel­boustelsels probeer hy 50% van die lande met mielies plant en deel die oorblywende 50% op tussen sojabone en katoen. Verder word sekergemaak dat dieselfde gewas nie in die opvolgende seisoen op dieselfde land geplant word nie.

Johan Bibbey (Bayer) ontvang die toekenning vir hoogste mielie-opbrengs in die Noordwes namens Davie van der Merwe.

Davie doen strookbewerkings met ’n skeurtandimplement en beheer onkruid slegs deur chemiese produkte te spuit. “Ek skoffel nie die lande nie. Ek glo chemiese onkruidbeheer help my om vog in die grond te bewaar en hierdie beginsels vorm die basis van my verminderde bewerking. Ek wil probeer om die grond so min as moontlik te versteur.”

Kunsmistoediening word in drie sarsies verdeel. Hy gee 40% van die kunsmis saam met die skeurtandbewerking, dien dan weer 30% toe saam met plant en die laaste 30% word na opkoms bo-oor die land gestrooi.

Om winsgewend te bly boer, is vir hom ononderhandelbaar. “Ek het ’n spreiblad gebou en vul elke uitgawe en inkomste daarop in. Ek probeer om dit so noukeurig as moontlik deur die seisoen te bestuur en meet só of ek my doel bereik het of nie.”

Hy sê sy grootste uitdagings in die 2021/2022-plantseisoen was siektes en graadprobleme op sy mielies. “Ons was gelukkig om nie met beskikbaarheid van kunsmis of enige chemiese produkte te sukkel nie. Ons het regtig goeie verskaffers en verteenwoordigers wat mooi na ons kyk.”

Davie se raad aan ander produsente – veral aan jong boere – is dat dit wys is om by ander mense te leer. “Leer by jou buurmanne. Gaan na hulle toe en kyk wat hulle doen. Gesels daaroor. Elke dag bied die geleentheid om iets nuuts te leer. Moet nooit dink dat jy volleerd is nie – ons kan by enige iemand iets leer,” sê hy.

Verder meen hy proewe is van deurslaggewende belang. “Ons doen elke jaar ’n paar proewe op klein skaal op ons plaas sodat ons kan sien hoe ’n produk of baster op ons grond en onder ons bestuur presteer. Ons kyk egter ook na ander proewe in die omgewing.”

Sy toekomsdroom is om nog meer op presisieboerdery te fokus en om voor te bly met die tegnologie wat beskikbaar is. “’n Mens kan nie meer sonder tegnologie boer nie. Dit is noodsaaklik om te weet wat beskikbaar is en hoe tegnologie ingespan kan word om die boerdery te verbeter.”