Aanvullings vir vee wat op dekgewasse wei

Gepubliseer: 17 April 2020

1973
Johan Mouton, tegniese bestuurder: Navorsing en Ontwikke-ling, Molatek, Epol en Driehoek

Dekgewasse neem in gewildheid toe en die benutting daarvan met vee kom meer algemeen voor. Die vraag ontstaan watter tipe aanvulling vir vee onder hierdie toestande gegee moet word.

Om dit te beantwoord, moet daar eers ander vrae gevra word. Hoekom is die dekgewas in die eerste plek geplant? Hoekom is daar vee op? Word die weiding net benut omdat dit daar is vir kontantgewasredes? Is dit deel van die voervloei of maak dit deel uit van ’n waardetoevoegingsaksie?

Daar is heelwat veranderlikes ter sprake, met die kompliserende faktor of dit ’n somer- of winterdekgewas is. Ten einde ’n paar beginsels neer te lê binne die konteks van die artikel, word twee scenario’s uit ’n voedingsoogpunt gebruik. Die eerste scenario is aanvulling op hoëkwaliteitweiding wat tipies die groenvoer/sorghum-tipe mengsels is wat gedurende die somer of laat herfs benut word. Die tweede scenario is dekgewasse wat as winterruvoer benut word. Hoewel daar ’n verskeidenheid gewasse gebruik word, wat elk unieke eienskappe het, is daar bestuursmaatreëls wat deurgaans vir albei scenario’s geld.

Interaksie tussen weidruk en diereprestasie
Die beginsel van hoë weidruk vir weiding van hoë kwaliteit beteken dat individuele diereprestasie laer is, maar dat meer kilogram vleis per hektaar geproduseer word – ’n goeie praktyk waar waarde toegevoeg word, byvoorbeeld backgrounding, maar ’n swak praktyk met lakterende reproduserende diere vir verskeie redes. Die netto winsgewendheid vir lakterende diere is swakker met hoë weidruk as meer konserwatiewe ladings met minder hantering van diere. Terug na ’n vraag: “Moet al die materiaal verwyder word of moet daar ’n gedeelte agtergelaat word vir agronomiese redes?”

’n Verskuifbare elektriese heining is ’n handige stuk gereedskap om die dekgewasse te benut. Ideale benutting word verkry deur twee heinings, een voor en een agter die kudde, om onnodige vertrapping te verhoed en altyd vars voer beskikbaar te stel. Die aansny van vars voer elke drie tot vier dae is voldoende uit ’n praktiese oogpunt. Moet nie kaal vreet en dan eers nuwe voer voorsien nie. Beweeg reeds oor na die nuwe voer sodra die huidige voer ongeveer 50% tot 60% benut is. Dit voorsien ’n konstante dieet sonder voedingsteurnisse.

Wat moet aangevul word?
Jong weidings hou die gevaar in dat die voginhoud so hoog is (>80%) dat die totale droëmateriaalinname van die diere laag bly ten spyte van die feit dat hulle hul vol vreet. Die praktyk om weidings bietjie meer volwasse te benut, met gepaardgaande hooi, los hierdie probleem grootliks op.

Die kwaliteit van dié tipe weidings is gewoonlik goed. Indien na die waardetoevoegingsopsies gekyk word, is die aanvulling ’n energie/proteïen-kombinasie met die klem op ’n energiewaarde van meer as 10 MJ metaboliseerbare energie per kilogram (>65% TVV [totale verteerbare voedingstowwe] @ 12%-vog). Aangesien die weidings normaalweg hoog in proteïen is, kan laer proteïenwaardes aangevul word (<20%), maar dit moet hoofsaaklik van natuurlike proteïen afkomstig wees, aangesien die weidings hoog in vry stikstof is.

Indien die weiding van goeie kwaliteit is, sal aanvullingspeile van 0,5% van liggaamsmassa voldoende wees, wat kan toeneem tot 1%. Die ekonomiese voordeel van aanvulling van meer as 1% op goeiekwaliteitweiding word sterk bevraagteken.

Hierdie tipe aanvullings is normaalweg smaaklik en moet nie met soutinname probeer beperk word nie. Voorsien genoeg vreetspasie en voer daagliks die regte hoeveelheid op dieselfde tyd. Diere kan skoonvreet en gaan wei.

Vir droë diere wat bloot die voer moet benut, sal ’n fosfaataanvulling voldoende wees. Die opsie waar die droë materiaal van dekgewasse wat doodgespuit is, benut word, sal meer na ’n proteïen-tipe onderhoudslek neig. Indien waarde toegevoeg wil word, sal ’n energiekomponent bygebring moet word. Die eerste prys op die doodgespuite weidings is die onderhoud van droë diere met ’n proteïenaanvulling. Hier kan meer tradisionele aanvullingspraktyke gevolg word, waar inname beheer word en bakke volgehou word.

Moontlike uitdagings
Skuimopblaas kan voorkom weens die inherente aard van die weiding. Daar is voerbyvoegsels wat dit kan beperk, maar soos die geval met die meeste ander voedingsteurnisse, is voorkoming beter as genesing (in die geval van opblaas vrek die diere gewoonlik). Pas diere geleidelik aan oor ’n sewedagperiode deur hulle die eerste dag net 30 minute soggens en 30 minute saans op die weiding te plaas. Verleng dit elke dag tot ad lib-weiding op dag sewe. Moet nooit honger diere op die weiding plaas nie. Diere moet altyd toegang hê tot ruvoer van goeie kwaliteit wat ad lib beskikbaar is tydens aanpassing.

Blousuurvergiftiging is ’n wesenlike uitdaging. Die primêre drywer is plante wat onder stres verkeer, byvoorbeeld beperkende vog (verlep) of koue (ryp). Groot verskille kom voor tussen spesies ten opsigte van blousuur en ’n kombinasie van omgewingsfaktore kan dit beïnvloed.

Swael in die lek kan van hulp wees, maar die enigste werklike raad is voorkoming. Weiding moenie benut word waar die probleem vermoed word nie.

Diarree kan voorkom, veral gedurende die aanpassingsperiode. Die ruvoer sal hiervoor help. Inname sal laag wees, maar dit sal die diarree onderdruk. Die diarree moet nie verwar word met mis wat in elke geval los en groenkleurig van aard is op dié tipe weiding nie. Voerkalk by die aanvulling sal geen effek op die diarree hê nie.

Gepaardgaande met die diarree kan vitamien B-tekorte voorkom weens die feit dat onvolledige sintese plaasvind as gevolg van die vinnige rumendeurvloeitempo. Dit word gekenmerk deur tipiese senuweesimptome. Vitamien B kan aangevul word (inspuitbaar) en ruvoer kan voorsien word om die rumendeurvloeitempo te beperk.

’n Magnesiumtekort is ’n waarskynlikheid wat kan opduik vanweë die inherente eienskappe van die weiding en aanvullings wat ’n geïnduseerde tekort laat ontstaan. Simptome is soortgelyk aan diere met melkkoors, gekenmerk deur lamheid. Magnesiumoplossings kan binneaars toegedien word, maar dit moet betyds gedoen word – diere sal vrek indien verby ’n kritieke omslagpunt beweeg word. Die beste behandeling is voorkoming en indien probleme verwag word, kan 1% magnesiumsulfaat (Engelse sout) of magnesiumoksied by die lek gevoeg word.

In besonder nat seisoene kan vrotpootjie ’n probleem wees weens hoewe wat sag bly. ’n Invoeging van 1% sinksulfaat/oksied in die aanvulling kan die probleem help voorkom. Gepaardgaande hiermee is die voorkomende enting vir longverwante siektes noodsaaklik. Parasietbeheer spreek vanself.

Indien graad 2- en 3-mielies gebruik word in die aanvulling, moet mikotoksienvergiftiging nie buite rekening gelaat word nie. Dit word ook gekenmerk deur tipiese senuweesimptome. Toksienbinders kan voorkomend in die aanvulling ingemeng word.

Die veebedryf, soos baie ander bedrywe, gaan gebuk onder omstandighede wat tot laer winste lei. Doeltreffendheid en effektiwiteit moet deurgaans verhoog word om koste te beperk en sodoende ’n beter kans op wins te hê. Lees meer hieroor in die artikel “Pas beesstelsels aan vir beter kans op wins,” geskryf deur Pietman Botha deur op die QR-kode te druk.

Gevolgtrekking
Oor die algemeen is dekgewasse weiding van hoë kwaliteit wat relatief eenvoudige aanvulling vereis, wat op ’n daaglikse basis bestuur moet word. Hoewel ’n paar potensiële uitdagings genoem is, is die weidings meestal veilig en kan dit suksesvol met goeie bestuur benut word.

Dit bly belangrik om tydens die beplanning van die aanplant van dekgewasse die doel van die aanplanting te bepaal, op die diere en stelsel wat gebruik gaan word te besluit en in samewerking met die voedingkundige die lekaanvullings te bepaal. Indien dit nie gedoen word nie, sal die wins nie gemaksimeer word nie.