March 2018

DIRK KOTZÉ, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA en
LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Wes-Kaap, Landbou-ontwikkeling, Graan SA

Dié jaar het teen ‘n tempo afgeskop en die eerste Graan SA streeksvergaderings het reeds op 16 Januarie op Delmas en Middelburg plaasgevind. Met ‘n algemeen méér positiewe ervaring vir lede, het die bywoningsyfers in meeste streke sterk gegroei vergeleke met dié van verlede jaar, alhoewel daar steeds ‘n klompie streke was met minder getalle.

Graan SA se fokuspunte is tydens die vergaderings uiteengesit en die huidige situasie rondom grondhervorming en die pad vorentoe is ook aan lede uitgelig, met goeie terugvoer en bespreking aan die orde van die dag. Verder is die belangrikheid daarvan om deel van georganiseerde landbou en ‘n organisasie soos Graan SA te wees, weer eens beklemtoon.

Tydens die vergaderings is volledige markinligting aan lede deurgegee en was die hoofbespreking natuurlik die afskaffing van die liggingsdifferensiaal, die huidige mielieprys, mielievoorrade en die moontlikheid van meer as een verwerkingspunt vir geel- en witmielies onderskeidelik. Verskillende produksie- en verwerkingsyfers per provinsie is aan die lede deurgegee – wat moontlike aanbevelings vir Kongres sal wees in terme van liggingsdifferensiale.

Kommer is egter uitgespreek oor die hoë insetkoste en verhogings wat in die vooruitsig gestel is. Produsente wat probleme
met dieselrabatterugbetalings ervaar, is herinner om met mnr Corné Louw (senior ekonoom, Graan SA) te skakel.

Streke het verder individuele terugvoer oor die huidige stand van bedryfsheffings, soos gevorder tot op datum, ontvang en
Graan SA het elke lid vir sy bydrae bedank. Lede by die vergaderings was dit eens dat alle produsente heffings op alle tonne
gelewer, moet betaal en verskeie Graan SA lede het hul misnoeë uitgespreek teenoor nie-betalende ledeprodusente wat steeds voordeel trek uit Graan SA se bedryfsaktiwiteite.

Wes-Kaap praat prontuit by vergaderings
Die Wes-Kaapse jaarlikse streeksvergaderings – ‘n hoogtepunt soos min – het op 29, 30 en 31 Januarie by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, die Overberg Agri silo’s by Rietpoel buite Caledon en by Die Hut op Moorreesburg onderskeidelik, plaasgevind. Hierdie vergaderings, vir Streke 26, 27 asook die nuut gevormde Streek 32, se opkoms van produsente en bedryfsrolspelers het verwagtinge oortref.

Die sprekers tydens hierdie geleenthede, naamlik mnre Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA), Andries Theron (voorsitter, Graan SA Wintergraanwerkgroep) en Jaco Minnaar (voorsitter, Graan SA), het die organisasie se strategiese doelwitte, sowel as die realiteite en konteks van die tipe uitdagings wat teëgekom word, uiteengesit.

Produsente is omslagtig ingelig rakende die verskeie omdraaistrategieë wat in plek gestel is – juis om hierdie uitdagings, soos onder meer die koringtarief, statutêre heffings en die vervoerdifferensiaal, aan te spreek. Verder is die grondwerk wat gedoen word om winsgewendheid te verhoog uitgelig, deur op aspekte soos gradering, opbergingregulasies en navorsing vir verhoogde opbrengste, te fokus. Produsente het ook die geleentheid gehad om hul bekommernisse en behoeftes met die bestuurkorps te deel. Spesiale gassprekers tydens die streeksvergaderings was mnr Henk Cerfonteyn (Departement van Landbou) wat produsente meer van die Oesskattingskomitee se werkswyse en prosedures vertel het en dr Willem Botes (Stellenbosch Universiteit) wat produsente met bemoedigende moontlikhede van en vordering met die teling van koringkultivars, geboei het.

Ten slotte wil ons graag alle produsente en rolspelers bedank wat die streeksvergaderings bygewoon het, asook diegene wat die vrymoedigheid gehad het om hul gedagtes en bekommernisse tydens hierdie vergaderings te deel. Dit is vir Graan SA ‘n uiters belangrike platform wat juis ten doel het om inligting te deel, saam planne te maak en die nodige mandaat vanaf ons lede te kry om streek-spesifieke sake tydens die jaarlikse Graan SA Kongres op die tafel te lê. Graan SA bedank graag alle borge van hierdie streeksvergaderings vir hul betrokkenheid en bydrae om van die geleenthede ‘n sukses te maak. Ons moedig ook boereverenigings en georganiseerde strukture aan om die Graan SA span te nader as hul meer inligting nodig het.


 

Publication: March 2018

Section: Grain SA