February 2018
LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA
Bemarking is een aspek wat ‘n uiters kritieke rol in die winsgewendheid van hedendaagse boerdery speel en moet daarom nie gering geskat word nie. In die graanbedryf is daar verskeie instrumente beskikbaar wat ingespan kan word om die bemarking en prysrisikobestuur van die grane te vergemaklik – onder andere die gebruik van die afgeleide instrumente op Safex.
In ‘n vorige reeks wat verlede jaar in SA Graan/Grain verskyn het (Julie 2017 tot Desember 2017), Prysrisiko in ‘n neutedop, is die voorseisoenbemarking en verskansing in meer diepte bespreek. Daar is ook verwys na die alternatiewe wat aangewend kan word en wat die gebruik van Safex-termyn- en -opsiekontrakte insluit.
In hierdie reeks sal die alternatiewe wat in die bemarking van reeds-gestroopte graan oorweeg kan word, bespreek word.
Wat is na-stroopbemarking?
Pryse in die plaaslike graanmarkte is uiters volatiel en daar is heelwat risiko’s verbonde aan die produksie van graan in Suid-Afrika. Hierdie risiko’s strek vanaf persoonlike risiko tot en met prys- en finansiële risiko en alles tussenin.
Prysrisiko is een van die min risiko’s uit die verskeie risiko’s wat produsente moet konfronteer, wat grootliks bestuur kan word. Daarom moet produsente van die verskillende instrumente wat beskikbaar is om prysrisiko en bemarking van graan meer effektief te bestuur, gebruik maak.
In die meeste gevalle wanneer verwys word na die verskansing en bemarking van graan, is die eerste konnotasie dié van die gebruik van Safex-termyn- en opsiekontrakte vir verskansingsdoeleindes.
Voorseisoenverskansing speel ‘n betreklik belangrike rol in die bemarking van graan en dit is noodsaaklik dat produsente dit sterk oorweeg om van goeie geleenthede in die mark gebruik te maak vir voorseisoenverskansing. Dit is ook belangrik dat hulle in gedagte sal hou dat dit nie die enigste vorm van bemarking en verskansing is wat aangewend kan word nie.
Bemarking van graan kan in twee hoofkategorieë ingedeel word, naamlik voorseisoenbemarking en na-seisoenbemarking oftewel na-stroopbemarking.
Indien produsente om welke rede ook al nie voorseisoenverskansings in plek het nie, word hulle met die uitdaging gelaat om die graan teen die heersende markpryse, wat gedurende die strooptydperk heers, te verkoop. Dit is gewoonlik wanneer pryse onder normale omstandighede laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.
Produsente moet veral kennis dra van die verskillende bemarkingsalternatiewe wat oorweeg en uitgevoer kan word – om voordeel te trek sou die mark deur die loop van die seisoen meer gunstig verhandel – wat kan bydra tot ‘n hoër prys en beter winsgewendheid.
Die hoofdoel van die na-stroopbemarking van graan vir produsente is om ‘n beter prys vir die geproduseerde graan te kry. Dit kan
deur middel van verskeie alternatiewe, wat strek vanaf die fisiese stoor van die graan tot en met die gebruik van afgeleide instrumente op die Safex-mark, gedoen word.
Hierdie strategieë sal in meer praktiese terme later in die reeks bespreek word. Produsente moet onthou dat risikobestuur met die gebruik van hierdie strategieë steeds van kardinale belang is. Alhoewel produsente se produksierisiko met na-stroopbemarking aansienlik laer is omdat hul dan reeds weet hoeveel tonne hul beskikbaar het om te verkoop, moet hul egter steeds die hoogste moontlike prys probeer verkry met die minste moontlike risiko daaraan verbonde.
Waar moet geleenthede gesoek word?
Alhoewel plaaslike markpryse in die meeste gevalle grootliks deur internasionale pryse beïnvloed word, is daar in die plaaslike konteks ‘n duidelike seisoenale en sikliese prystendens. Plaaslike pryse, wat hoofsaaklik soos enige ander aspek in die ekonomie deur vraag en aanbod gedryf word, bied onder normale omstandighede goeie prysgeleenthede gedurende verskillende tydperke van die seisoen.
Figuur 1 is ‘n skematiese voorstelling van die kritieke tydperke deur die seisoen en dit is gewoonlik ook wanneer die mark dopgehou word vir bemarkingsdoeleindes.
Wanneer daar na somergrane gekyk word, is dit uit Figuur 1 duidelik dat die pryse onder normale omstandighede tussen Mei en Augustus teen redelik laer vlakke verhandel. Dit is die tydperk wanneer die meeste van die somergrane gestroop word en die aanbod daarvan is gedurende hierdie tydperk hoër – wat die pryse onder druk hou.
Oliesade soos sojabone en sonneblom word gewoonlik vroeër as mielies gestroop, met Mei as die maand waarin die meeste gewoonlik gestroop word; afhangende van wanneer dit aangeplant is. Die strooptydperk van mielies is ook grootliks afhanklik van die aanplantingsdatum, maar die meeste van die mielies word normaalweg gedurende Junie en Julie gestroop.
Vanaf middel September begin die aanplanting van somergrane en begin die mark weer skerper te reageer op veral weersomstandighede, wat dikwels goeie ondersteuning aan die markte bied. Dit is ook wanneer pryse normaalweg hoër verhandel as tydens strooptyd.
Die ander kritieke tyd in die somergraanmarkte is tydens die bestuiwingstydperk. Genoegsame vog is in hierdie tyd van die seisoen belangrik sodat bestuiwing plaas kan vind. Dit is ‘n kritieke tydperk wat ‘n bepalende faktor in die opbrengste wat verkry word, kan wees.
Maart/April is ook onder normale omstandighede die tydperk wanneer die voorraadvlakke van somergrane laer is as gedurende die res van die jaar, aangesien dit die tydperk is wanneer die ou seisoenvoorraad min begin raak en die nuwe seisoenvoorraad net die mark begin binnekom.
Die kritieke tye in die wintergraanmark word ook in Figuur 1 aangedui, met planttyd wat strek van ongeveer middel April tot en met middel Julie – afhangende van die ligging. Die strooptyd strek vanaf einde Oktober tot einde Desember/begin Januarie met die kritieke tyd vir genoegsame reën en vog gedurende September. Die kritieke tyd wanneer die plaaslike voorrade aan die lae kant is, is gedurende September en Oktober.
Suid-Afrika is ‘n netto invoerder van koring en die volatiliteit in die koringmark is nie altyd so hoog soos dié van mielies en oliesade nie. Die koringmark verhandel ook in ‘n nouer band – redelik in lyn met die invoerpariteitsprys.
Ten slotte
Dit is belangrik dat produsente sal besef dat die mark deur die loop van die seisoen wel goeie geleenthede kan bied om die bemarking van die graan te versprei. Só kan verhoed word dat die meeste graan gedurende strooptyd verkoop word en daar nie van die geleentheid om later moontlik ‘n beter prys vir die graan te realiseer, gebruik gemaak word nie.
Alhoewel die mark onder normale omstandighede redelike goeie geleenthede kan bied, sal dit egter nie altyd die geval wees nie en produsente moet die spesifieke fundamentele faktore wat ‘n rol in die prysbepaling speel, ook in ag neem.
Die volgende gedeelte van die reeks wat in die Maart-uitgawe verskyn, sal handel oor die faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer na-stroopbemarkingsbesluite geneem word.
Publication: February 2018
Section: On farm level