Klimaatsverandering – wat produsente moet weet

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

139
Dr Johann Strauss, senior wetenskaplike: Navorsing en
Tegnologie-ontwikkeling, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Prof Beatrice Conradie,
medeprofessor aan die Skool vir Ekonomie en direkteur van die Sustainable Societies-eenheid aan die Universiteit van Kaapstad

Klimaatsverandering is op almal se lippe met die dat rekord- maksimum temperature dwarsoor die wêreld aan die orde van die dag is.

Wat minder seker is, is wat met reënval gaan gebeur, alhoewel stygende seetemperature in die suidelike oseaan reeds met droogtes in Australië verbind word (Kiem & Verdon-Kidd, 2010). Daar is ’n moontlikheid dat reënval dieselfde kan bly, maar dat daar meer reën op ’n slag gaan val. Dit gaan die getal reëndae per jaar verminder en die droë periodes tussen reënvalgeleenthede verleng, wat katastrofies vir droëlandgewasproduksie kan wees.

Die vraag is hoeveel van die voorspellings reeds besig is om waar te word en hoe dit boerdery gaan beïnvloed. Weerdata van die afgelope vyftig jaar vir Langgewens, die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingsplaas in die Swartland, word vervolgens bekyk om ’n antwoord te probeer vind.

Effektiewe reënval is onveranderd
Langgewens se effektiewe reënvalsyfer is onveran­derd. Die plaas kry ’n gemiddeld van 397 mm reën per jaar met ’n standaardafwyking van 101 mm. Dit kom daarop neer dat ’n neerslag van tussen 200 mm en 600 mm in 95% van gevalle aangeteken sal word.
Die 2007-seisoen was die natste jaar op rekord – met ’n totaal van 700 mm – en die droogste jaar op rekord was 2017 met slegs 203 mm, waarvan slegs 154 mm in die koringgroeiseisoen geval het (Grafiek 1 ). Gewoonlik val amper 80% van die jaarlikse reënval in die koringgroeiseisoen van April tot September. As 220 mm reën in die periode as die minimum vir suksesvolle koringverbouing (finansieel) beskou word, behoort die plaas ongeveer een uit elke vyf jaar ’n misoes te hê. Dit is egter nie die geval op Langgewens nie, wat die waarde van die bewaringslandboustelsel wat daar gevolg word, beklemtoon.

Grafiek 1: Jaarlikse en winterreënvalsyfers, Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland.

Die volgende vraag is of die getal reëndae besig is om af te neem en of die reënseisoen dalk verskuif het. Grafiek 2  maak ’n onderskeid tussen reëndae en nat dae. Die verskil is dat die neerslag op ’n reëndag minstens 1 mm moet oorskry, terwyl ’n nat dag net op die reënmeter hoef te registreer. Reëndae is nie besig om toe te neem nie, maar nat dae het sedert 1964 met 1,52% per jaar toegeneem. Dis duidelik sigbaar dat die meeste van die toename sedert die middel 1980’s plaasgevind het. (Daar is ’n moontlikheid dat die toename met ’n menslike faktor te make het. Die sensitiwiteit van die instrumentasie self het nie verander nie.) Tot en met 1987 was daar ongeveer elf dae per jaar waarop die mis en/of dou sodanig swaar was dat dit op die weerstasie se reënmeter geregi­s­treer het. Die totale vogbydrae uit hierdie verskynsel was 6,1 mm. Sedert 1988 kom hierdie verskynsel nou gemiddeld op 47 dae van die jaar voor en dra dit 16,7 mm tot totale vog by (4%).

Grafiek 2: Getal reëndae per jaar en per winter, Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland.

Op die Knersvlakte in Namakwaland dra mis reeds jaarliks soveel as 70 mm tot die vogtotaal by (Brown, Mills & Jack, 2008). Daar is die plantegroei aangepas om by die mis baat te vind, maar dis nie bekend of graan ook deur mistige weer bevoordeel word nie.

Dit lyk asof die aanvang van die winterreënseisoen later geskuif het, maar dit het nie ’n noemenswaardige verskuiwing van die plantdatum veroorsaak nie. Die gemiddelde reënval in Januarie en Februarie was en is steeds ongeveer 10 mm per maand. In die verlede het daar in Maart altyd 20 mm reën geval en dis op die oomblik omtrent 10 mm. In April is die reënval tans 20% hoër as voorheen en vir die res van die seisoen is daar omtrent geen verskil nie, behalwe in Junie en Julie wat tans ongeveer 10% meer reën as in die verlede kry. Dit kan in Grafiek 3 gesien word.

Grafiek 3: Gemiddelde reënval per maand, Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland.

Temperatuurtendense
Langgewens se warmste dag op rekord was 4 Januarie 1993 toe die kwik by 43,5°C gaan draai het. Temperature bo 40°C kom nie algemeen voor nie en in die koringgroei­seisoen bereik die maksimum temperatuur selde meer as 30°C. Die twee koudste dae op rekord was 23 en 24 Julie 1980, die enigste kere waarop temperature onder vriespunt op Langgewens aangeteken is. Die koudste ooit was -1°C.

Maksimum temperature is besig om in die meeste van die maande van die jaar te styg, met die grootste verandering in die somer (Grafiek 4). Die blou lyn plot die gemiddelde maandelikse maksimum temperature vir die periode 1964 tot 1987 en die oranje lyn dieselfde sedert 1988. Maksimum somertemperature (Desember tot Maart) het van 29,3°C tot 29,6°C toegeneem en maksimum wintertemperature (Mei tot Aug­ustus) het van 18,3°C tot 18,6°C toegeneem. Albei verskille is statisties beduidend.

Grafiek 4: Gemiddelde maksimum temperatuur per maand, Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland.

Grafiek 5 illustreer die toename in somertemperature oor tyd, as ’n persentasie van verwagte somertemperature. Die gemiddeld van die grafiek is dus nul. Soos dit warmer word, lê die meeste afwykings bokant die nullyn, terwyl dit voorheen meestal onder die nullyn gelê het. Die toename in die maatstaf is 9,1% per jaar. Beter voorsiening vir koelte vir vee is seker die belangrikste implikasie van die grafiek.

Grafiek 5: Gemiddelde jaarlikse afwyking in somertemperature (Desember tot Maart), Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland.

Die toename in wintertemperature is ook beduidend, maar nie die helfte so erg nie. Volgens die literatuur neem fotosintese in koring by temperature van >30°C drama­ties af en word reproduktiewe groei by nagtemperature van >23°C erg benadeel. Minimum temperature oorskry net by die hoogste uitsondering 23°C in die koringgroeiseisoen, maar die maksimum tempe­rature gaan draai dikwels bo 30°C. Die syfer het van gemiddeld 7,8 dae per koringgroei­seisoen tot 9,2 dae per seisoen toe­geneem (18%). Dis reeds bekend dat die pre­stasie van die langtermynwisselbouproef op Langgewens deels deur die warm dae ver­klaar kan word (Conradie, Pesse & Strauss), maar die saak verdien nog meer aandag.

Wat staan ’n produsent te doen?
Die eerste stap is sekerlik dat ’n produ­sent moet besin oor sy koolstofvoetspoor, aangesien dit ’n groot bydrae maak tot klimaatsverandering. Dit gaan nie net oor die energieverbruik betrokke by graanverbouing nie. Elke produk wat gespuit of toegedien word, het sy eie koolstofvoetspoor wat bydra tot die groottotaal – met stikstof een van die grootste oortreders.

Dit is waar bewaringslandboupraktyke ’n wesenlike bydrae kan maak. Verminderde bewerking beteken verminderde fossielbrandstofverbruik en verminderde vrystelling van koolstofdioksied uit die oksidasie van die grond se organiesemateriaalinhoud. Goeie wisselboupraktyke kan lei tot ’n laer behoef­te aan stikstofbemesting en selfs ’n afname in die hoeveelheid sintetiese produkte (dus laer koolstofvoetspore). Die stelsel het gewys dat dit oor die vermoë beskik om koolstof te sekwestreer oor tyd en is ’n uitstekende manier vir die produsent om sy koolstofvoetspoor en dus die impak op klimaatsveran­dering te verlaag.

Die langtermynproef op Langgewens is ’n sprekende voorbeeld van die sukses van die stelsel en die veerkragtigheid wat dit meegebring het om met die veranderende klimaat tred te hou. Fyner aanpassings om die stelsel te verbeter, is steeds nodig, soos byvoorbeeld maniere om koolstofsekwestrasie te verhoog en skuiling te bied aan die vee wat ’n integrale deel van verbouing in die Swartland is. Dit is hoekom dit van kritieke belang is om langtermynproewe in plek te hê om vir alle produsente pertinente intydse inligting te kan deurgee.

Bronne

  1. Brown, R, Mills, AJ & Jack, C. 2008. Non-rainfall moisture inputs in the Knersvlakte: Methodology and preliminary findings. Water SA, 34(2), 275 – 278.
  2. Conradie, B, Piesse, J & Strauss, J (ongepubliseer). Impact of heat and moisture stress on crop productivity: Evidence from a research farm. Beskikbaar by die outeurs.
  3. Kiem, AS & Verdon-Kidd, DC. 2010. Towards understanding hydroclimatic change in Victoria, Australië – preliminary insights into the ‘Big Dry’. Hydrology & Earth System Sciences, 14(3).