December 2017

Louise Kunz, SA Graan/Grain medewerker.

Die tema van Agri NW se 2017-kongres, “Volhoubaarheid deur eiendomsregsekerheid en verhoogde produktiwiteit” het groot byval gevind by kongresgangers. Produsente is opnuut toegerus met inligting wat hulle in staat stel om te midde van toenemende veranderde landbou- en politieke omstandighede meer volhoubaar te kan produseer.

Sprekers sê hul sê
Verskeie sprekers het kongresgangers op 5 en 6 September by die NWK Opleidingsentrum op Lichtenburg toegespreek. Regter Antonie Gildenhuys, ‘n kenner op die gebied van onteienings-, waardasie- en waterregte, het die invloed van grondhervorming op eiendomsregsekerheid onder die loep geneem. Hy het dit duidelik gemaak dat niemand van hul eiendom ontneem mag word nie, behalwe ingevolge ‘n algemeen-geldende regsvoorskrif en ge­noem dat geen regsvoorskrif die arbitrêre ontneming van eiendom mag veroorloof nie.

Volgens Gildenhuys lê die uitdaging nie by volle vergoeding met onteiening nie, maar eerder waar die regering die geld gaan kry om al sy beloftes gestand te doen. Suid-Afrika kan grondhervorming nie bekostig nie – veral as gekyk word na die eise, soos gratis onderwys en nasionale gesondheidsversekering, wat reeds op die tafel geplaas is.

Agri SA se parlementêre skakelbeampte en regs- en grondbeleids­adviseur, me Annelize Crosby, het grondhervorming, politiek en die openbare mening in 2017 bespreek. Gedurende 2015 was Crosby deel van ‘n groep met uiteenlopende perspektiewe oor grondhervorming, wat deelgeneem het aan die ontwikkeling van die Vumelana-grondhervormingscenario’s. Hierdie scenario’s wys daarop dat grootskaalse grondbesetting, radikale wetgewing asook beleid- en voedselonsekerheid waarskynlik Suid-Afrika se voor­land kan wees as die grondhervormingskwessie nie dringend aangespreek word nie.

Dit is duidelik dat die frustrasievlakke van die mense aan wie beloftes gemaak is, besig is om die hoogte in te skiet met die stadige vordering ten opsigte van grondhervorming. Crosby het ook gedeel dat haatspraak teen grondeienaars besig is om toe te neem en aangevuur word deur die onverantwoordelike uitlatings wat deur politici en opportuniste gemaak word. ‘n Elite-groepering is besig om grondhervorming tot ‘n mate te kaap. Dreigemente ten opsigte van die wysigings of skrapping van Artikel 25 van die Grondwet moet volgens haar nie ligtelik opgeneem word nie.

Sy het Agri SA-lede aangemoedig om hulle volle ondersteuning aan hul organisasie te gee. “Moenie van stryk gebring word deur politiekery, bangmaakpraatjies en halwe waarhede nie,” het sy gesê en bygevoeg, “Wees ingelig, wees pro-aktief en bou positiewe verhoudings op alle vlakke.”

Dr Herman van Schalkwyk (groep hoof uitvoerende beampte: Suidwes Groep) se tema was “Mededingendheid, beleid en die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse landbou”.

Hy het genoem dat ekonomiese groei Suid-Afrika steeds ontwyk en verduidelik dat Suid-Afrika meer as ‘n 3%-groei in bruto binnelandse produk (BBP) nodig het om ‘n verskil aan die ekonomie te kan maak. Volgens hom maak die agteruitgang in langtermyninfrastruktuur dit ‘n al groter uitdaging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie om te presteer. Suid-Afrika se fokus sal op verhoogde produktiwiteit moet wees om volhoubaar te kan wees. Een van die faktore wat produktiwiteit in die wiele ry, is die toenemende arbeidsonrus.

Mnr Johannes Möller (toe nog president: Agri SA) het die omskake­ling van Agri SA na ‘n maatskappy aan die kongres voorgehou. Daarna het mnr Omri van Zyl (uitvoerende direkteur: Agri SA) gepraat oor Agri SA as voorkeurbesigheidsvennoot vir die landbouer en het ook genoem hoe Agri SA se struktuur die landbouer in die toekoms gaan bedien.

Algemeen
Mnr Pierre Vercueil is onbestrede as president van Agri NW herkies, met mnre Cobus van Zyl en Willem de Chavonnes Vrugt wat as vise-presidente aangewys is.


Publication: December 2017

Section: Relevant