January 2017
Boereverneukers
Beste Grootneef
Die nuwe jaar waai nog vars na al die feesdae. Voorspoed ou Neef, mag die reën elke week val waar dit nodig is.
Ou Neef, skelmgeit van owerstes is so oud soos die mensdom. Toe die wonderboom nog ‘n potplant was, het Oom Paul al kontrakte aan kennisse toegeken. Maar desedae se blatante skelmgeit, kos ons ‘n arm en ‘n been. Of jy ‘n polis of ‘n paaseier het, dit is nou minder werd as 365 dae gelede. Met al die skelmstreke wat oopgevlek word, waai die waarde van ons geldjies uit al wat ‘n spaarvark is.
Nog ‘n klitsgras in die kous, is elke Jan Rap en sy maat wat links en regs met belastinggeld prosedeer. Die een grênder as die ander op die trappe voor die hof. Maar soos Langenhoven gesê het: “As jy iemand prosedeer vir jou baadjie, trek solank jou broek uit vir die koste.” Want as die stof gaan lê na al die geleerde woorde, is niemand beter daaraan toe nie. De facto, in loco, corpus mentis en al daai, dis op die ou end net die advokate wat geld maak uit beuse lagtighede wat dag na dag aan slapende regters opgedis word.
Só van boereverneukers gepraat: Geld bly maar ‘n ontevredemaker. Buurman vertel van die twee neefs wat al om die ander naweek beurte gemaak het om perde te gaan speel. Kyk, daar is drie maniere om geld te verloor: Boerdery (die maklikste), vroumense (die lekkerste) en perde (die sekerste). Hoe die ook al sy, so het die twee neefs Saterdag na Saterdag winste en verliese gedeel afhangende van die perde se vlugvoetigheid. En dan op die Maandagaand bymekaar gekom vir ‘n stywe dop en die uitruil van ‘n rand of twee, om die volgende Saterdag weer op die perde neer te sit.
Tot op die een mooi Saterdagmiddag. Toe Neef Een wragtig die pick six reg het en die R3 miljoen jackpot wen. Toe Neef Twee soos gewoonlik op die Maandagaand vir die gebruiklike dop en uitruil van rande opdaag, was Neef Een lankal vort. Dié het eers na sewe maande met ‘n nuwe kar en ‘n nuwe vrou weer oë op die dorp gewys. En nie ‘n druppel van die pick six met sy neef gedeel nie. Die twee gesinne praat vandag nog nie met mekaar nie.
Of soos ou Willem Bouer wat vir ‘n lewe bouen herstelwerk in die buurt gedoen het. Ook by ‘n boer in die distrik. Met die finale afrekening word voorgestel dat Willem nie met kontant betaal word nie, maar met twaalf slagskape – vir ‘n jaar lank elke maand ‘n slagskaap. Ou Willem se vleislus het oorgevat en met ‘n handskud vir die twaalf slagskape akkoord gegaan.
Die eerste drie maande het dit voor die wind gegaan. Klokslag op die 30ste was ou Willem daar vir sy slagskaap. Op die vierde maandeinde, skud die boer sy kop en beduie van skape wat oornag gesteel is. Willem betuig sy opregte simpatie met die boer se verlies en doen sommer navraag oor die welsyn van die troppie skape wat in die kampie langs die stoor loop.
Nee, beduie die boer, daardie is sý skape. Dit is Willem se troppie wat gesteel is! Ou Willem is sy skape-paaiement vandag nog kwyt. En toe kom sit die broer Sondae ewe sedig in die kerkbank langs ou Willem. Dit is toe dat Willem Bouer afgestig het.
Ou Neef, wat het pouvere, blombolle, vrotmelk en swart rooibokke in gemeen? Die gulsigheid van die mensdom vir vinnige en groot geld! Die eerstes wat inklim, maak gewoonlik ‘n geldjie en dan val die bodem uit. Teen daardie tyd is die voorpraters lankal soek en so ook die neseier wat met die skema sou uitbroei. ‘n Kat in die sak is gewoonlik al wat oor is.
Soos neef Kallie sê, as jy wil geld maak, gaan werk by die Munt. Om te boer, is ‘n geloofsdaad sonder kortpaaie!
Ou Neef, loop tog katvoet vir boereverneukers in die nuwe jaar. En as jy dorp toe ry, hou 90 en hou links!
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: January 2017
Section: Features