Suid-Afrika druk stempel af by internasionale saadkongres

2310

October 2017

Louise Kunz, SA Graan/Grain medewerke

Die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap (Sacta) is uitgenooi om deel te neem aan die International Seed Federation (ISF) World Seed Congress, wat gedu­rende Mei vanjaar in Hongarye plaasgevind het. Sacta is daar verteenwoordig deur sy voorsitter, mnr Andries Theron.

Die eerste internasionale saadkongres het in 1924 in Londen plaas­gevind en tans is hierdie die ISF se vlagskip-geleentheid, waar hoofargitekte en besluitnemers van die internasionale saadbedryf byeenkom. Vanjaar was betrokkenheid, kommunikasie en deursig­tigheid boaan die agenda.

Hoogtepunte van die kongresprogram het ‘n paneelbespreking oor sosiale media en een oor die versterking van vennootskappe met kleinboere ingesluit. Hoofsprekers het onder andere hul perspektiewe op wetenskap in die media en die effektiewe gebruik van sosiale media aangeraak.

Op 24 Mei het Theron – wat ook voorsitter van Graan SA se Wintergraanwerkgroep is – die geleentheid gehad om die meer as 1 680 afgevaardigdes uit 68 lande in te lig oor die huidige eindpunt-tantiememodel wat vir die Suid-Afrikaanse wintergraanbedryf in plek gestel is. Hy het ook die toekomsplanne rondom dié model bespreek.

“Al is eindpunt-tantieme nie uniek in die wêreld nie, was hierdie ‘n fantastiese geleentheid om Suid-Afrika se unieke model aan die wêreld te verduidelik,” het hy genoem en bygevoeg dat dit ook ‘n wonderlike netwerkgeleentheid was om Suid-Afrika as besigheidsbestemming te bemark.

Volgens Theron is hierdie kongres ‘n platform waar daar toegang tot die beste tegnologie in die wêreld is en enige iets wat vir die saadbedryf beskikbaar is, sal hier aangetref word. Hy was baie beïndruk met wat hy daar waargeneem het en aangenaam verras om lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) daar raak te loop.

“Ek was verstom oor die belangstelling uit verskeie wêrelddele in Suid-Afrika,” gesels hierdie produsent uit Moorreesburg. “Mense het ongelukkig wanpersepsies oor Suid-Afrika en dit het my die geleentheid gebied om sake in perspektief te stel – dat Suid-Afrikaanse produsente na volhoubare landbou en voedselsekerheid streef.”

Die kongres het ook die bekendstelling van die World Seed Part­nership waargeneem – ‘n spanpoging deur The Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD), International Seed Testing Association (ISTA), International Union for the Protec­tion of New Varieties of Plants (UPOV) en ISF om die ontwikkeling van die internasionale saadsektor te ondersteun om sodoende bestendige saadstelsels internasionaal te bewerkstellig.

Ná afloop van die kongres het Theron en sy vrou, Karin, die voorreg gehad om die Hongaarse platteland vir ‘n paar dae te verken. Hulle het verskeie plase in die plattelandse dele van Hongarye besoek en is geweldig beïndruk met die landboubedryf daar.

“Met die gunstige reënval, vrugbare grond en die tegnologie wat Hongaarse produsente tot hul beskikking het, sal Suid-Afrikaanse produsente beslis daar kan floreer,” sê hy oor die Hongaarse landboubedryf.

Landbou is ‘n belangrike sektor vir die Hongaarse ekonomie, met ongeveer 70% van die grond wat geskik is vir landbouproduksie. Op meer as 70% van die bewerkbare grond word gewasse soos ko­ring en mielies geproduseer. Ander gewasse wat aangeplant word, is sonneblom en gars.

Die volgende ISF World Seed Congress vind in Junie 2018 in Brisbane, Australië plaas.

Publication: October 2017

Section: Focus on