Min het werklik in die laaste 50 jaar verander

Gepubliseer: 6 Junie 2022

889

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Het daar dan werklik so baie in die laaste 50 jaar verander, wonder ek die ander dag. Ons leef in ’n era waar die tempo van verandering voortdurend toeneem, veral die afgelope twee jaar. Maar as ons werklik mooi gaan kyk, het die storie dieselfde gebly.

Die omstandighede is beslis baie anders, die risiko’s is vir seker groter – of is dit ook maar net relatief in sekere opsigte? Die feit bly staan, as ’n mens deur die geskiedenis lees – en nou verwys ek spesifiek na die geel SAMPI-SAMSO-boek wat die mieliestorie so deeglik vertel – is die uitdagings, bedreigings en aanvalle wat graanprodusente vandag moet trotseer eintlik maar nog steeds dieselfde en wesenlik daar.

Hiermee sinspeel ek glad nie dat NAMPO en Graan SA as organisasies niks reggekry het nie. Inteendeel, waar sou ons vandag gewees het as die graanprodusente van daardie tyd nie die deursettingsvermoë gehad het om dit tot stand te bring nie? Dit was voorwaar manne met durf en visie in daardie tye.

Met die aanloop tot die NAMPO Oesdag was ek so opgewonde soos ’n klein seuntjie wat op sy eerste jagtog gaan. Ek was al baie by die Oesdag, maar ek het geweet dié jaar gaan net anders wees. Dit was veral die laaste drie weke net voor NAMPO wat in soveel opsigte verbasend was.

Ek moes myself telkens herinner aan my eie raad om verby die geraas te kyk, maar terselfdertyd moet ek erken dat ek ’n paar keer stomgeslaan was. Hoekom? Oor mense, die reaksies, die aanslae en die woorde. Soms mense so naby aan ons! Hier moet ek net eers vir julle, ons Graan SA-lede en personeel, dankie sê vir almal se support – en ja, support beskryf dit in dié geval beter as ondersteuning vir my.

Die waarde hiervan lê in wat ons almal hieruit kon leer. Vir my staan dit soos ’n paal bo water dat die krag van gesprekke in dié tye, die waarde van ’n span (wyer as net die personeel) wat beskikbaar is om te gesels en sommer spontaan hulp aanbied, menings lug en ondersteun, iets is wat ons in Graan SA moet bly koester en waardeer. Ek sê net dankie vir elkeen van julle hiervoor. Die bohaai oor die COVID-vereistes het toe eintlik gou oor­gewaai en NAMPO ’22 was ’n groot sukses om die regte redes.

Verder glo ek ons gaan met die mieliegradering ’n gunstige uitkoms kry. Ek moet myself telkens herinner dat sekere goed altyd met ’n rede gebeur, maar ek onderneem om hierdie gebeurtenis te gebruik om sekere aksies, funksies en prosesse in die wyer graanbedryf weer op koers te kry.

Daar kan verskeie redes gegee word, maar die feit dat dit vandag makliker geword het om nie in persoon met mekaar te gesels en te redeneer nie, het ’n groot impak op die uitkomste. Dit is welbekend dat ek ’n voorstander van tegnologie is. Alhoewel ons hier werklik die “goeie” en “effektiewe” moet behou, moet dit nooit makliker raak om agter ’n gesiglose stem weg te kruip nie, want baie het mos meer moed met ’n sleutelbord as met die mond.

Ek hoor graag van julle: Skryf vir my, kontak my, maak ’n afspraak of nooi my om julle te besoek (pieter@grainsa.co.za).