June 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

K2 Saad het tydens hul jaarlikse nasionale boeredag op 15 Maart vanjaar ‘n wye reeks mielie-, soja-, weidings- en groenteprodukte wat kommersieel beskikbaar is, aan produsente bekend gestel. SA Graan/Grain het gaan uitvind watter tans K2 Saad se spogmielies is.

‘n Vlagskip-geelmielie
Dié saadmaatskappy se vlagskip-geelmieliekultivar, KKS 8326 B*, het in die 2014/2015-seisoen 12% beter as die vernaamste opposisiebasters in die onder 4 t/ha-kategorie presteer.

In die bo 4 t/ha-kategorie het dié geelmielie 13% beter as die opposisiebasters gedoen. In die 2015/2016-seisoen het dié kultivar gemiddeld (lae en hoë opbrengskategorie) 6,5% beter as dieselfde basters presteer.

“Hierdie is die beste geelmieliebaster wat ons tans vir die oostelike hoëveld en vir die Oos-Vrystaat het. Dit is die veelsydigste geelmieliebaster wat ek in my loopbaan teëgekom het. Dit presteer uitstekend onder uiterste droogtetoestande,” het mnr Danie Leeuwner (navorsingsbestuurder: Mielies, K2 Saad) gesê.

Sterk witmielie
VP 8405 B* (VP verwys daarna dat dit ‘n gelisensieerde kultivar is) is K2 Saad se nuwe witmieliekultivar. Vanjaar is die eerste keer wat hulle hierdie kultivar aktief bemark. VP8405 B doen die afgelope twee jaar gemiddeld 6% beter as sy opposisie en 24% beter as die kontrole, KKS 4581 BR, wat tot nou toe nog in die Wes-Transvaal verkoop is. Volgens mnr Jan Cilliers (senior verkoopsverteenwoordiger: K2 Saad) maak VP 8405 B, wat ‘n groter plant as 8301 is, selfs met die hoër plantestande van 60 000 in Natal spruite én koppe.

“Hierdie nuwe kultivar is bekend vir die feit dat die mieliekoppe hoog op die plant gedra word en vir sy stamsterkte. Ten spyte van die uitermate sterk winde in Natal, bly hierdie plant staande,” het hy verduidelik.

Klein Karoo spog met eie kweekhuis
Tydens die boeredag is die hoë tegnologie-kweekhuis van K2 Saad op Bapsfontein bekend gestel. Die 5 000 m2 klimaatbeheerde kweekhuis, wat hoofsaaklik tamaties, komkommers en rissies verbou, is aangepas vir ons Suid-Afrikaanse klimaat. Prof Nico de Groot van die Wageningen Universiteit in Nederland het tydens die boeredag meer oor die kweekhuis en die tegnologie wat in die ontwikkeling gebruik is, uitgebrei.

Die toerusting vir die kweekhuis is verskaf deur die Bosman van Zaal in Nederland en is deur Nederland se voorste kweekhuisingenieurs in samewerking met die Wageningen Universiteit en Navorsingsentrum in Nederland ontwikkel.

Nuwe telingsmetodes
Mnr Lomo Janse van Rensburg (uitvoerende direkteur: K2 Saad) het ‘n voorlegging gemaak oor die verskillende saadtelingsmetodes wat oor die jare (reeds vanaf 10 000 vC) in die saadbedryf aangewend is, asook oor die nuutste saadtegnologie wat daar tans in die mark is.

“Voordele verbonde aan die nuwe telingsmetodes is dat die ontwikkelingstyd van nuwe kultivars radikaal verminder word en die nuwe vlak van opbrengsverbetering op genevlak is, wat uitstekende opbrengsverbetering tot gevolg het,” het Janse van Rensburg verduidelik. Hy het verder gesê dat dieselfde tegnologie op die mens gebruik word om siektes te bestry, genetiese afwykings te bespeur en genetiese verbetering te verkry.

* Kultivar is tans onder proef en is of sal oorweeg word om binnekort ingedien te word vir registrasie.

Publication: June 2017

Section: Relevant