June 2017
JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder
Dit is ‘n stowwerige tyd van die jaar. In die suide plant die manne in die stof en in die noorde word daar gestroop.
In Bloemfontein (It‘s Time) het ons letterlik gebid dat die stof gestaan het. In die townships word daar klip gegooi en vure aan die brand gesteek. Die een aksie belê in die toekoms en die ander breek af wat opgebou is uit frustrasie oor drome wat nie waar word nie.
Ons is almal maar te bewus van die seisoene en tyd vir elke saak, maar die droom in ons harte bly egter dat die seisoen in Suid-Afrika nou moet draai. Ek het nogal gewonder wat nou eintlik sal moet gebeur dat ons nie net in geloof die gety sien draai nie, maar ook op die grond.
Dalk ‘n nuwe president, dalk ‘n nuwe regering, dalk ‘n 4%-groei in die ekonomie met laer werkloosheid? (Oor Suid-Afrika se rugby droom ons liewer nie!)
Met die surplus mielies dié jaar het ons twee belangrike vrae vir mekaar gevra: Wat kan veroorsaak dat Suid-Afrika ±400 000 ha minder mielies plant in die volgende seisoen – wat ons weer na invoerpariteit sal neem? Ons het gedink aan nog ‘n droogte, dalk die beskikbaarheid van finansiering, dalk bloot net die swak winsgewendheid van die kommoditeit of dalk ‘n Zim-agtige grondhervormingsplan.
Die ander faktor wat dit kan beïnvloed, lei ons na die tweede vraag: Hoeveel meer hektare moet aan sojabone afgestaan word voor die prys ook na uitvoerpariteit sal neig? Wat laasgemelde betref, is ons nog ver.
Die sojabone doen vanjaar uitstekend en sal beslis in die volgende seisoen meer aandag trek. Die groot inspuiting in die vorm van nuwe tegnologie vir sojabone is egter nog twee seisoene ver.
Koringaanplantings in die Vrystaat gaan dié jaar ‘n groot toets moet deurstaan. Daar is nie soos verlede jaar oorlêmielielande wat geplant moet word weens ‘n droogte nie. Met die lae mielieprys kan dit egter ‘n paar produsente diep laat nadink.
Wat al hierdie dinge vir my sê, is dat produsente heelwat meer aandag aan hul bemarking sal moet gee voordat daar oor volgende seisoen se aanplantings gedink word. Die wintergrane sal alreeds hierdie seisoen die impak van die nuwe besluite oor graadverskille kan sien, maar dalk ook die nuwe koringtarief moet verreken.
Met die skryf van die artikel was die nuwe tarief nog nie bekend nie. Ten minste nie aan Graan SA nie. Ons sien egter dat ‘n paar manne reeds koring begin verhandel het asof hulle vooraf gehoor het wat die Minister oor die tarief besluit het.
Ek is vol vertroue dat die regulatoriese owerhede met ‘n vergrootglas na dié tipe optrede sal kyk. Ons is moeg vir korrupsie en sal graag wil sien dat dit uitgeroei word. As ek sê uitroei, dink ek aan my ma se woorde as ons vuilgoed in die groentetuin moes uittrek:
“Met wortel en tak!” Sommer net so bolangs werk maar net ʼn kort rukkie.
Ek sit vanoggend en lees hoe ‘n aantal bekende joernaliste wat NAMPO 2017 bygewoon het oor landbou skryf. Ai, dit gee ʼn mens hoop dat wildvreemde mense hul siening oor landbou en sy mense kan verander – as hulle ons maar net wil kom besoek en met ons praat.
Al die internasionale besoekers en uitstallers praat van die vredevolle familiegees wat op NAMPO heers. Dankie aan elkeen wat ʼn bydrae kom maak het om die wêreld te wys daar is nog hoop en daar is nog vrede.
Vir myself was een van die hoogtepunte die skuif in die debat: Landbou soek ‘n eie pad vir die toekoms. Ons kan nie langer wag dat ander oor ons besluit nie. Hulle sal ons iewers daar voor op die nuwe pad kry. Ons beur nou vorentoe!
Publication: June 2017
Section: Features