Flinke wegspring verseker rekordoes

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

89

Neels Fourie van die plaas Avondster in Schweizer-Reneke was die wenner in die Groei vir Goud-sojaboonafdeling in die Noordwestelike produksiegebied met P 64T39R, ’n Pioneer-kultivar. Met ’n allemintige opbrengs van 5,34 t/ha het Neels ’n opbrengsrekord vir sojabone op die plaas Twyfel behaal.

Volgens Neels het P 64T39R bykans een ton beter gestroop as twee ander soortgelyke kultivars. Dié opbrengs was ook hoër as in vorige jare. Hy skryf die uitstekende opbrengs toe aan ’n paar faktore:

  • Die grondchemie wat reggestel is na grondontledings voordat daar geplant is.
  • ’n Goeie kultivar.
  • ’n Perfekte seisoen wat balans betref tussen klimaat, hitte-eenhede en vog.
  • ’n Optimale plantdatum wat die plante kans gegee het om die volle seisoen te benut.

Al was die opbrengs hoog, was daar steeds peule wat nie gevul het nie – in ander dele van Suid-Afrika het die kultivar nog beter gedoen in die kompetisie. “Teoreties gesproke behoort ons dus in staat te wees om nog ’n hoër opbrengs te behaal met die regte grondtipe en klimaat. Ek sal dit egter nie as ’n mikpunt najaag nie, aangesien ek my inset- en bedryfskoste in die oog hou.”

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, wens Neels geluk met sy opbrengs van 5,34 t/ha wat hom die wenner maak in die sojaboonafdeling in die Noordwestelike produksiegebied.

Saadbehandeling en onkruidbeheer
Hy doen sy eie saadbehandelings en gebruik MBFi se Soybean Ultra Pack waarby hy Apron en Celeste voeg. “Die Apron en Celeste beskerm die saad teen swamme en bevorder vroeë wortelontwikkeling. Dit lyk regtig of die opkoms beter en die ontkiemende plantjies sterker is vandat ons dit doen.”

Om onkruid te beheer, spuit hy ’n vooropkomsonkruiddoder en volg dit op met twee glifosaatbespuitings deur die seisoen. Hy het ook twee bolwurmbespuitings gedoen waarvan die laaste met ’n swamdoder gekombineer is.

Hoewel Neels geen blaarvoedings gespuit het nie, het hy wel blaarmonsters laat ontleed wat geen tekorte uitgewys het nie. “Ek het nog nooit blaarmonsters geneem waarin alles so in verhouding was nie. Ek aanvaar dus die sojaboonplante het van dag een af ’n goeie wegspring gehad wat ’n groot verskil in opbrengs meegebring het.”

Somme wat klop
Neels se insetkoste vir die spesifieke kultivar op die betrokke land wat hy vir die Groei vir Goud-kompetisie ingeskryf het, was R5 367,10/ha en as dit in die opbrengs verdeel word, sowat R1 004,51/ton. Die insetkoste vir sojabone is laer as die ander gewasse wat hy plant. “Wat die kosteberekening ’n bietjie meer ingewikkeld maak, is die feit dat kalk, mis en die superfosfaat as regstellings op sekere gedeeltes van die grond steeds in die rusjaar toegedien word en nie noodwendig gemik is op die gewas wat ek in die opvolgende jaar daar gaan plant nie. Teoreties moet die kalk en mis ’n effek hê op al drie die oeste wat na die rusjaar geplant word. ’n Mens moet dan eintlik die koste daarvan verdeel tussen die gewasse wat geplant gaan word,” meen Neels.

Die kompetisiegedeelte wat ingeskryf is, is dieselfde as die ander aanplantings op die plaas hanteer en derhalwe is daar nie ’n verskil in koste nie. Die mis is die duurste komponent teen R800/ha omdat hulle dit self uitry, aanry en strooi. Neels meen 8 ton is die minimum wat uitgestrooi moet word. “Ek sou graag dubbel die hoeveelheid wou gooi, maar beskikbaarheid en koste raak ’n kopseer. Dit is ’n omslagtige proses en die bronne raak al hoe verder.”

Neels plant in ’n verhouding van 40% mielies, 30% sojabone, 15% grondbone en 15% sonneblom. Hy hou ’n gedeelte van die mielie-oes terug vir die skaap- en beesboerdery vir lekke en gebruik in die voerkraal. Van die grondboonreste maak hy hooi. Die eerste sojabone wat gestroop word se reste word vir voer gebaal. Volgens Neels maak hierdie reste ’n baie mooi groen ruvoer wat die diere kan eet en dit kom uiters handig te pas in die wintermaande. Wanneer die plante heeltemal verbruin het op die lande voor stroop, word die reste op die land gelaat as ’n grondbedekking.

Sandgrond bly ’n uitdaging
Neels se grootste uitdaging is om op swakker sandgronde ’n wins te probeer maak. “Die swak dele op huurplase wat ’n mens nie altyd kan uitsny om weidings te vestig nie asook swak dele van ons eie grond wat nie altyd so in ’n saaiblok geleë is dat dit maklik is om uit te skakel nie, bly ’n uitdaging. Die gedeeltes is soms reg in die middel van ’n groter land of dit is in ’n klein gedeelte op ’n plaas waar ’n mens nie noodwendig ander weiding het nie,” verduidelik hy.

Hy maak egter planne. Hy plant soja- en grondbone vroeg in die seisoen op die lande wat die vorige jaar gerus het – die sojabone op die kleiner gedeeltes en grondbone op die dieper, sanderige lande sonder die keerlaag. In die opvolgende jaar plant hy mielies wat dan normaalweg beter doen as gevolg van die organiesestikstofoordrag vanaf die twee peulgewasse.

Die afgelope drie jaar plant hy heelwat akkerbone en haal tot ses ton se bale per hektaar op die swakker gronde af. Hierdie bale word vir die skape en voerkraal aangewend. In die swakker jare baal hy glad nie die grondbone se hooi nie, aangesien die voer wat hy daar afhaal nie die slytasie op die balers regverdig nie. “In swakker jare haal ek op 40 ha akkerbone dieselfde hoeveelheid bale af as wat ek op 250 ha grondbone sou doen.”

Op die ruslande het Neels-hulle oor die laaste vyf jaar mis teen 8 t/ha begin strooi. Die ruslande verteenwoordig op die meeste 25% van die oppervlakte. Volgens Neels was die ontledings van die mis nog nooit hoog in stikstof (0,9% tot 1,1%) en fosfaat (0,7%) nie, hoewel dit wel heelwat spoorelemente en kalium (1,5% tot 2%) bevat. “’n Groot voordeel kom uit die koolstof wat onder meer voe­dingstowwe bind en loging teenwerk, maar dit werk ongelukkig net in volume – 8 ton is al reeds op die onderste grens,” voel Neels.

“Ons streek het baie sanderige Hutton-grond wat eintlik glad nie goed rus nie. Ons rus deels om grondregstellings te maak en om lande reg te hê wat ons al vroeg in Oktober kan plant. Die mis maak ’n groot verskil op die grond wat minder vrugbaar is en dit wil voorkom of die sojabone veral goed reageer op organiese bemesting.”

Neels het 100 ha P 64T39R geplant. Die gedeelte het die vorige seisoen gerus en bestaan hoofsaaklik uit Tukulu-grond met ’n diepte van 1 m tot 1,2 m. Voor regstellings was die grondontledings op die gedeelte wat vir die kompetisie gestroop is soos volg: ’n pH van 5,5 tot 6,5 en P (Bray1) van 10 mg/kg tot 15 mg/kg. As regstelling het hy 500 kg dolomiet met ’n 20%-gipsverhouding gestrooi, saam met 90 kg superfosfaat en 8 ton beesmis.

Wat presisieboerdery betref, fokus Neels baie op grondvrugbaarheid. Hy neem grondmonsters van elke twee hektaar van die lande wat rus. Hy strooi die kalk variërend, waarna hy die mis toedien en hy sny die kalk en die mis in die grond in. Vervolgens dien hy dan fosfaat variërend onder die planterry toe volgens die grondkaart en doen ook ’n skeurploegbewerking.

Neels se seuns Jamie en Jan-Albert is trots op hul pa se opbrengsrekord.

Goeie reënval
Die afgelope seisoen is 560 mm reën op die plaas Twyfel gemeet. As dit verwerk word na opbrengs per gemete vog, het Neels dit reggekry om 9,54 kg/mm reën te oes op hierdie spesifieke sojaboonkultivar.

“Ons het begin met ’n vol profiel na die rusjaar en die spesifieke gedeelte het ’n keerlaag wat veroorsaak het dat die kalkstrooier plek-plek vasgeval het in die winter. Ons het besluit om met die eer­ste reën wat ons kry na 15 Oktober te plant. Normaalweg sou ons eers van middel November af geplant het.”

Volgens Neels was die reën goed versprei. In Januarie het 257 mm geval, met ’n droër Februarie (65 mm) en Maart (45 mm). Met die seisoen se hitte-eenhede kon die plante die profiel droog genoeg trek voor strooptyd. “Dit was ’n goeie ding, anders sou ons nie met die stroper in die lande kon kom nie. Dit was ’n perfekte seisoen vir die blok sojabone en ek is baie dankbaar. ’n Mens kry min jare wat dinge dwarsdeur die seisoen so reg verloop.

“Dit was baie lekker om graan te kon stroop wat nooit ’n watertekort beleef het nie. Daar was tye wat dit binne ’n kort tydperk baie gereën het, die organiese komponent van die mis as deel van ons bemesting het baie gehelp op ons sandgronde. Dit was ook ’n jaar waarin die voordeel van wisselbou ooglopend was, veral waar ons grondboon- en sojaboonlande met mielies opgevolg het. Ons het slegs ’n klein gedeelte mielies op ou mielielande geplant en die opbrengs daar, op dieselfde plaas, was tot die helfte laer as waar die mielies op grondboon- en sojaboonlande geplant is.”

“Ek het nie ’n spesifieke mentor nie, maar die Here het my geseën met wonderlike vriende, sommige baie ouer as ek. Ek leer ongelooflik baie by hulle, nie net oor boerdery nie, maar soms praat hulle my sommer net weer bietjie moed in.”