March 2017

ANDRÉ NEL, onafhanklike akkerboukundige

Reënval, of liewer die gebrek daaraan, is die grootste beperkende faktor vir graanproduksie in die semi-ariede klimaat van Suid-Afrika. Die reënval is net eenvoudig te laag en van seisoen tot seisoen te wisselvallig om deurgaans hoë opbrengste met gewasse te behaal. Het dit meer gereën, het ons hoër opbrengste behaal.

‘n Volgende kenmerk van ons reënval is dat dit gewoonlik ‘n swak verspreiding binne die groeiseisoen het, gemeet teen die water behoefte van gewasse. Dié swak verspreiding het droogte periodes tot gevolg, wat ernstige skade aan gewasse aanrig.

Gewoonlik kom die droogtes gedurende Januarie en Februarie voor en val dit gewoonlik ook saam met die sensitiewe blomperiode, wat opbrengste ernstig kan beperk. Die reënvalintensiteit van baie donderstorms is hoog, wat afloop tot gevolg het en wat die tekort aan water vererger.

Aangesien reën die belangrikste beperkende faktor vir gewas verbouing is, is dit logies dat alle pogings aangewend moet word om dit so doeltreffend moontlik te benut. ‘n Belangrike vraag is dus: Watter opbrengste sou behaal kon word indien die reën wat ons wel ontvang, se verspreiding die gewas se vraag na water ten beste bevredig en hoe vergelyk dit met huidige opbrengste?

Dit kan aan die hand van die water-opbrengsverwantskap verduide lik word – soos in Grafiek 1 getoon. Die horisontale as stel die seisoenale waterverbruik voor en die vertikale as die opbrengs. Die kurwe verteenwoordig ‘n boonste grens van opbrengste wat behaal kan word indien slegs die hoeveelheid beskikbare water die opbrengsbeperkende faktor is.

Elke gewas het ‘n sekere minimum hoeveelheid water nodig voordat enige graan geproduseer word en word deur punt A op die grafiek aangedui. Daarna styg die opbrengs soos die waterverbruik toeneem en plat dit uiteindelik af – wat beteken water is nie meer die beperkende faktor nie.

Die teoretiese minimum hoeveelheid water wat ‘n gewas verbruik voordat enige graan geproduseer word (punt A), wissel van sowat 100 mm tot 140 mm vir mielies en vir sonneblom van 75 mm tot 85 mm.

Vanaf dié produksiebeginpunt styg die opbrengs reglynig. Die helling van die reglynige gedeelte dui die waterproduktiwiteit van die gewas aan. Waterproduktiwiteitswaardes varieer egter ook en is onder meer van die dampdruktekort van die atmosfeer afhank lik. Byvoorbeeld, hoe groter die dampdruktekort, hoe laer die waterproduktiwiteit.

Vir droëlandmielies is waterproduktiwiteitswaardes van 6 kg/ha tot 23 kg/ha per mm waterverbruik (ook evapotranspirasie genoem) gevind en vir besproeiing, waardes van 11 kg/ha tot 32 kg/ha per mm waterverbruik.

Droëlandsonneblom se waterproduktiwiteitswaardes wissel van 3 kg/ha tot 9 kg/ha per mm en dié van droëlandsojabone van 6 kg/ha tot 10 kg/ha per mm.

Met die aanvaarding van gemiddelde produksiebeginpunte en produktiwiteitswaardes, kan 400 mm waterverbruik ‘n mielie-opbrengs van 4,2 t/ha, sonneblom 1,8 t/ha en sojabone meer as 2 t/ha lewer.

Dit verteenwoordig daarom opbrengste wat deur die kurwe in die grafiek aangetoon word.

Werklike opbrengste wat behaal word, lê egter selde op die kurwe. Daar is verskeie faktore wat dit veroorsaak. Siektes, insekplae, grond kompaksie, onder-optimale grondvoedingstatus, ‘n swak aangepaste kultivar of ‘n bo- of onder-optimale plantestand is maar enkele van die faktore wat die opbrengs kan beperk.

Sommige van die faktore beperk die opbrengs sonder dat die produsent daarvan bewus is. Werklike opbrengste lê gewoonlik onder die kurwe – soos deur die punte onder die kurwe in Grafiek 1 voorgestel.

Die kurwe in Grafiek 1 verteenwoordig die potensiële opbrengs en die punte onder die grafiek dít wat deur produsente behaal word. Die verskil tussen die potensiële en werklike opbrengs word die opbrengsgaping genoem. Dit is ‘n aanduiding van die doeltreffendheid van produksie. Daarom: Hoe kleiner die opbrengsgaping, hoe beter slaag die produsent daarin om die reënval te benut.

Kan die opbrengsgaping verklein word of selfs uitgewis word? Die meeste van die belangrike oorsake van die opbrengsgaping kry die nodige aandag van ons produsente. Onkruid word effektief bestry, bemesting word in die regte hoeveelhede toegedien, ʼn goedaangepaste kultivar word gewoonlik teen die regte plantdigtheid geplant en die beheer van plae en die mees-ooglopende siektes is gewoonlik voldoende.

Een baie belangrike faktor wat die opbrengsgaping in baie gevalle aansienlik kan verklein, is die onderskepping van reënval. ‘n Groot deel van die reën wat op baie lande val, gaan verlore as afloop.

‘n Element wat aanleiding gee tot afloop, is reënbuie met ‘n hoë neerslagintensiteit, waaraan niks gedoen kan word nie. Die ander element is korsvorming op die oppervlak van die grond wat deur reën veroorsaak word. Met bewerking word die aggregaatstabiliteit van die grond vernietig of ernstig benadeel en ‘n deel van plantmateriaal, indien enige, wat die grond beskerm, word ingewerk.

Met die eerste reën wat val, veroorsaak die impak van die reëndruppels dat ‘n infiltrasiekors baie gou vorm en afloop is die gevolg. Deur die grond nie te versteur nie en plantreste te behou, word die vorming van ‘n infiltrasiekors beperk of selfs voorkom – wat die afloop heelwat kan beperk.

‘n Studie wat gedurende die 1988/1989-seisoen naby Potchefstroom op ‘n sanderige leemgrond met 16% klei uitgevoer is, demonstreer die invloed van ‘n oesresdeklaag baie goed. Klein persele is teen ‘n helling van 5% op bewerkte grond (gereed om geplant te word) uitgelê en afgeskerm om die afloop te kan meet. Van die persele is met die ekwivalent van 3 ton oesreste per hektaar bedek en ander sonder bedekking gelaat. Die afloop is vir tien agtereenvolgende reënbuie gemeet. Die totale reënval was 316 mm, waarvan slegs 15 mm vanaf die bedekte persele en 201 mm vanaf die onbedekte persele afgeloop het.

Gemeet aan die waterproduktiwiteit wat hierbo genoem is, het 2,9 ton mielies per hektaar met die afloop van die kaal grond verlore gegaan en slegs 0,2 t/ha op die bedekte grond. Die opbrengsverskil wat die bekamping van afloop kan meebring, word deur resultate van bewaringslandbouproefwerk wat by Ventersdorp uitgevoer is, bevestig.

Oor ‘n periode van ses jaar was die mielie-opbrengs van bedekte, onbewerkte grond 1,8 t/ha hoër as dié van kaal konvensioneelbewerkte grond. Dié opbrengsverskil is grootliks deur die verskil in afloop teweeggebring.

Tans is daar ‘n groot aantal produsente wat die opinie huldig dat grondbewerking juis die infiltrasie van reënwater bevorder. Dit is waar, maar slegs vir die eerste paar millimeter reën wat val. Sou die doel van bewerking juis wees om die waterinfiltrasie te bevorder, sou die grond na elke 10 mm tot 20 mm reën bewerk moes word om die infiltrasiekors op te hef – iets wat op plaasvlak waarskynlik nie net onekonomies gaan wees nie, maar ook onprakties.

Hoe groot die gemiddelde opbrengsgaping van ons gewasse is, is onbekend. Wat wel seker is, is dat daar wel ‘n opbrengsgaping bestaan en dat dit baie verklein kan word deur van konvensionele grondbewerking na bewaringslandbou oor te skakel.

Twee belangrike beginsels van bewaringslandbou is die behoud van oesreste en die minimum versteuring van grond (of selfs geenbewerking indien die grond daarvoor geskik is). Die gevolg van die toepassing van dié twee beginsels is die beperking n voorkoming van infiltrasiekorse, die verbetering van grondkwaliteit, die verbetering in infiltrasie en dus die vermindering in afloop en erosie. ‘n Ander groot positiewe impak hiervan is die vermindering in verdamping vanaf die grondoppervlak – tot soveel soos 70% van die grondvog gaan só verlore vanaf kaal grond.

Hoër opbrengste en die verkleining van die opbrengsgaping is dus moontlik op grond waarop infiltrasiekorse vorm en tans onder konvensionele bewerking is.

Die ironie is dat dit nie noodwendig deur nuwe hoogs tegnologiese vordering met bemesting, kulti var ontwikkeling of presisieboerdery teweeggebring kan word nie, maar dat dit slegs vereis dat van die graanproduksiepraktyke ver ander moet word.

Bronne
Bennie, ATP en Hensley, M. 2001. Maximizing precipitation utilisation in dryland agriculture in South Africa – a review. Journal of Hydrology, 241, 124 – 139.
Sadras, V, Grassini, P en Steduto, P. Status of water use efficiency of main crops. FAO.
Stern, R, Laker, MC en Van der Merwe, AJ. 1991. Field Studies on effect of soil conditioners and mulch on runoff from kaolinitic and illitic soils. Aust. J. Soil Res. 29, 249 – 261.

Publication: March 2017

Section: On farm level