Maak vas jou veiligheidsgordel, ontspan en geniet 2023

Gepubliseer: 31 Januarie 2023

443

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Alle uitdagings bring geleenthede is die sêding, maar soms is dit vir ons midde-in die krisis moeilik om daarop te fokus of te konsentreer. Ons weet – eintlik al vir ’n rukkie – dat 2023 ’n rowwe rit gaan wees waarin daar vasgehou sal moet word. En sowaar – die jaar stel ons tot dusver nie teleur nie …

Een troos is dat ons nie alleen is nie, maar ons weet tog ons is op ons eie. As ’n mens byvoorbeeld na die Wêreld- Ekonomiese Forum se bespre­kings kyk, besef ’n mens Suid- en Suider-Afrika het nie unieke probleme nie. Dit is orals dieselfde: bewaring van natuurlike hulpbronne en die finansie­ring daarvan; energie, energie en nogmaals energie (hoe hou ons die ligte of is dit nou pompe aan?); waninligting, bedrog, korrupsie en gebrek aan goeie bestuur (governance) in alle entiteite; grond; risiko’s en versekering en so gaan die lys aan. Maar die afgelope jaar se voortslepende geveg tussen Rusland en die Oekraïne het ons duidelik gewys ons is eintlik op ons eie. Ek het verwag dat dít die ontwikkelingsagenda sou dryf, maar dit is seker nog te gou. Afrika en die afwesigheid van groei is dié jaar nog hoog op die agenda.

Soos in enige besigheid, staan ons by Graan SA ook voor groot besluite wat geleenthede gaan bring, maar ons gaan oopkopwysheid nodig hê. Soms is wetgewing nodig om ons anders te laat dink of anders te laat somme maak.

Persoonlik dink ek enige besigheid wat nog nie die afgelope jaar mooi gaan sit, herbesin en strategies beplan het oor die toekoms nie, het nou die laaste geleentheid om dit te doen. Iets wat veral Covid my geleer het, is hoe vinnig sommige (goeie) besighede irrelevant kon raak en hoe ander entrepreneurs aanpassings of nuwe skeppings suksesvol geaktiveer kon kry.

Die feit bly staan dat die wêreldekonomie in die rooi is – en Suid-Afrika se ekonomie in die donkerrooi! Die bekostigbaarheid van basiese voedsel vir almal bly in my oë ons enkel grootste risiko, omdat ek weet ons kan dit kwalik goedkoper produseer en nog minder goedkoper invoer. Nasionaal het ons, anders as ander groot voedselprodu­serende lande, ’n gunstiger klimaatsiklus beleef. Dit is egter presies wat dit sê – ’n siklus – so dit vergroot die risiko verder oor die medium termyn.

Met wêreldpryse van insette en beskikbaarheid van skeepsvervoer wat weer begin terugkeer na voorpandemievlakke, het ons soliede ekonomiese beleid nodig vir vertroue en ’n stabiele rand om die dalings te kan sien wat die druk op winsgewendheid moet verlig. Produktiwiteit alleen sal nie oor die hekkie kom nie.

Tog het ek vertroue en opgewondenheid, want ons is nie alleen nie. Ek weet ek het die ondersteuning van duisende oopkop-planmakers wat al ver kom. Ons sal die hele vloot deur die drif kry, maar ons het meer nodig – ons het almal nodig. Geen individuele besigheid kan op sy eie daar deur nie, dis net te wyd en te diep.

Verlede jaar kon die Graan SA-span weer met produsente gesels en saam dink in vergaderings. Dié jaar beplan ons dieselfde en nog meer en daarom vra ek: Kom asseblief, ons het jou wysheid nodig. Ons het jou idees en ondervinding nodig. Dis noodsaaklik dat jy op hoogte is en verstaan sodat jy weer dié by wie ons nie uitkom nie, kan help verstaan en so­doende die netwerk van verhoudinge sterker maak. Ons as span sien met verwagting uit na die streeksvergaderings en Kongres om daar met jou te gesels!

My wens vir jou is ’n baie geseënde jaar en dat die nuwe oes ’n groot sukses en wins­gewend gaan wees! Staan sterk en ondersteun waar jy kan; lekker boer!