Maak die verbouing van grondbone ekonomiese sin?

1045

February 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

ʼn Groot aantal produsente beweeg weg van of oorweeg nie die verbouing van grondbone nie. Daar is verskeie redes wat aangevoer word waarom produsente die verbouing van grondbone staak of ter syde stel. Sekere aspekte is waar, terwyl ander op persepsies gegrond word.

Dit bly egter belangrik om ondersoek in te stel waarom produsente die produksie van grondbone laat vaar, sodat bestaande en nuwe toetreders hierdie aspekte kan ontleed en oplossings vir die probleme kan vind.

Bestuursintensiewe gewas
Talle produsente noem eerstens dat grondbone ‘n arbeidsintensiewe gewas is. Dit is waar, maar in die eerste plek is dit eerder ʼn bestuursintensiewe en spesialisgewas.

Grondbone is ‘n gewas wat deur ‘n menigte peste en plae geteister word. As jy as bestuurder nie bykans daagliks deur hierdie gewas loop nie, kan siektes ‘n groot gedeelte van jou winste erodeer. Dit is ‘n gewas wat eerder proaktief as reaktief bestuur moet word. As bestuurder is jou tyd beperk. Beplan dus vooraf sodat jy genoeg tyd aan die gewas sal kan afstaan.

Grondbone benodig spesialis-implemente en toerusting om dit op die regte tyd verbou te kry. Doen jou beplanning daarvoor vooraf. Maak veral seker of die spuit alle gewasse tydig sal kan spuit. Indien jy besluit om grondbone te verbou, moet jy aktief op die verbouing van die gewas bly fokus.

Kennis is mag
Berei jouself voor deur op hoogte met hierdie gewas se verbouing, siektes en hulpbronvereistes te wees en jouself jaarliks op te skerp om probleme vroeg genoeg te identifiseer. Weet waar om te gaan aanklop om probleme op te los.

Maak in die eerste plek seker dat jou hulpbronne by die verbouing van grondbone pas. Is jou grond se kleipersentasie gepas vir grondboonverbouing? Is daar nie dalk verdigtingslae nie? Is die grond nie moontlik te vlak sodat gewasse sal versuip nie? Hoeveel reën kry jy en is die verwagte reënvalpatroon gepas vir die vogbehoeftes van grondbone?

Arbeid tap enige bestuurder se energie. Om toesig te hou, is noodsaaklik en daarom moet jy alles in jou vermoë doen om jou arbeiders so effektief en doeltreffend moontlik te laat werk. Opleiding van permanente werkers is ‘n voorvereiste.

Die meerderheid werkers ken nie meer grondboonverbouing nie en daarom moet hulle opgeskerp word om hierdie gewas te leer ken om dit te kan verbou. Die identifisering van probleme is nie eenvoudig nie en oplettendheid is noodsaaklik om die gewas te kan bestuur.

Peste en plae
Maak ‘n studie van watter siektes, peste en plae jou grondboonproduksie kan benadeel. Sommige van die swamme en bakterieë kan deur weerstandige kultivars beheer word, maar die tydige chemiese beheer daarvan is essensieel. Dit is belangrik dat hierdie siektes en plae jou nie onkant betrap nie. Blaarvlek en onkruid is uitdagings wat opbrengste vinnig benadeel. Gee prioriteit aandag hieraan.

Die gebruik van geregistreerde chemiese produkte is ‘n voorvereiste. Daar is tans heelwat goeie onkruiddoders beskikbaar wat in staat is om grondboonlande onkruidvry te hou. Praat gerus met ʼn chemiese verteenwoordiger hieroor.

Aalwurms se bydrae tot opbrengsverlies is verseker beduidend. Die bestuur van hierdie klein, maar effektiewe winsdiewe is belangrik. Vind uit watter tipe aalwurms kom in jou lande voor en kies die regte kultivars wat die meeste verdraagsaamheid vir die spesifieke aalwurms toon. Dit is egter belangrik dat die aalwurms op die regte tyd met die regte middels behandel word. Chemiese beheer van aalwurms moet met jou chemiese verteenwoordiger bespreek word.

Bewerking
Die bewerking van grondbone hou verseker uitdagings in. Die algemene aanbeveling is om die lande fyn en gelyk voor-plant te bewerk en om die saad vlak te plant – met die gevolg dat wind ‘n groot uitdaging kan wees. Veral in die weste waar sandgronde grootliks voorkom, is die risiko van windskade beduidend. Neem dus vroegtydig stappe om windskade te beheer.

Enige opvolggewas vir grondbone gaan ook heelwat blootgestel wees aan windskade. Die uithaal van grondbone en die wegneem van die oesreste laat die grond kaal met ‘n uitstekende kans vir windskade. Om dié rede is gewasbeplanning van kardinale belang – nie net oor wát geplant kan word nie, maar ook of grondbone nie deur onkruiddoders wat op vorige gewasse gebruik is, benadeel sal word nie. Maak ook aktief planne om die windskade vir die opvolggewas te beperk.

Weens die laat reën was die plantvenster van grondbone die afgelope paar jaar uiters kort. Jy moet besef as jy wil aanhou grondbone plant, moet jy jouself in staat stel om die grondbone binne die beskikbare kort tydjie geplant te kry. Hou die lande se bewerking, vogbestuur en onkruidbestuur op standaard, want met die eerste reën sal daar dalk geplant moet word. Die essensie van grondvog tydens plant kan nie oorbeklemtoon word nie.

Die tydige uithaal van grondbone is van kardinale belang. Die uithaalproses moet binne drie weke afgehandel wees. Beplan dus sodat jy die kapasiteit het om dit te kan doen. Hierdie proses kan heelwat arbeid benodig of dit moet gemeganiseer word. Bepaal vooraf of dit ekonomiese sin maak om te meganiseer. Dit is ongelukkig duur om te meganiseer of om die toerusting vir grond boonverbouing te bekom.

Kapitale uitleg
Skaalvoordele is ook belangrik by grondboonverbouing. Daar moet genoeg oppervlakte geplant word om die ekstra masjinerie en toerusting te koop en te kan terugbetaal. Hierdie toerusting moet verseker dat die nodige gehalte grondbone gelewer kan word. As hierdie kapitale uitleg aangegaan is, kan jy as produsent nie omdraai nie. Indien jou besigheid te klein is om die masjiene te kan regverdig, dink daaraan om ‘n maatskappy te begin waar meer as een produsent die masjien saam koop en saam gebruik.

Jy as grondboneprodusent sal ook jou grondbonekoper versigtig moet kies. Jy wil verseker nie net die prys nie, maar ook die geld kry.

Die koper daarenteen wil nie net die geld gee en nie die produk sien nie. Vertroue tussen jou en die koper is en bly van kardinale belang. Analiseer die kontrakte deeglik – veral oor wat gebeur as die kontrakte nie gelewer kan word nie en verseker dat jou regte in die kontrakte beskerm word.

Kleiner produsente
Vir kleiner produsente is die verbouing van grondbone verseker ʼn moet. Indien die besigheid se beperking oppervlakte is, moet die produsent grondbone as alternatief (wat die hoogste bruto marge per hektaar lewer) produseer.

Op ‘n klein stukkie grond kan grondboonverbouing heelwat wins maak. Jou besigheid is ook nie so groot dat die bestuur van die boerdery ‘n probleem sal word nie. Die risiko’s van grondboonverbouing sal verseker deur die verhoogde inkomste oortref word.

Winsgewendheid
Gepraat van winsgewendheid. Graan SA versamel jaarliks die werklike produksiekoste van ‘n verskeidenheid gewasse. As hierdie gewasse se winsgewendheid vergelyk word, bly grondbone een van die beste gewasse om te verbou. In Grafiek 1 word die winsgewendheid van die grondbone met dié van mielies in die Noordwes-Vrystaat vergelyk.

Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat grondbone sedert die 2007/2008- produksiejaar elke jaar meer winsgewend as mielies was. Indien die besonder goeie jare en die besonder swak jare uitgehaal word, wil dit nog steeds lyk asof die inkomste van grondbone dié van mielies met ten minste 50% oortref.

In hierdie syfer is die waardevermindering ook in aanmerking geneem. As die syfer oor ‘n 50 ha land-aanplanting geprojekteer word, is die inkomsteverhoging vir die afgelope tien jaar ‘n ongelooflike R575 000 – wat ‘n aansienlike verbetering vir enige plaas sal wees.

Slotopmerkings
Jy as produsent moet jouself afvra: Waarmee is ek besig? Sien ek kans om tyd aan grondboonverbouing af te staan? Hoeveel hektaar grondbone moet ek verbou en wat gaan ek doen om hierdie inkomste te verseker?

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: February 2017

Section: Focus on