Die lelie

Gepubliseer: 7 September 2020

1122

Beste Grootneef

Die ander dag kry ek ’n lekker gesels-WhatsApp van ousus wat in die vreemde wêreld van Ras al Khaimah woon. In die boodskap word vertel dat die temperatuur halfses die oggend al die Celsius-skaal op 35 grade trek. Vir die middaguur word ’n aardige 41 grade Celsius voorspel. Die goeie nuus was dat die jongste telg toegelaat is tot die Universiteit van Barcelona, vir ’n voltydse aanlyn kursus in taalonderrig. En dan saam met die groeteboodskap, die vraag van hoe dit in die Suidland gaan.

Dit was ’n vraag wat effe moeiliker was om te antwoord. Want hoe gáán dit in die Suidland? En waarvan vertel ’n mens bo en behalwe van die koudste winter in dekades? Want dit gaan nie klopdisselboom nie.

Ou Neef, die skaal van die lewe kantel mos voortdurend tussen goed of kwaad, afhangende van die wigte wat in die skaalbak geplaas word. Oor sommige van die gewigte het ons geen beheer nie. Wie sou immers kon dink dat dit wettig sou wees om ’n daggadampie te maak, terwyl dit verbode is om ’n trek aan twak te vat?

Genadiglik het ’n mens oor baie ander dinge ’n keuse. Wanneer die vraag oor hoe dit gaan dan beantwoord word, maak daardie gewigte die verskil.

Op dié besondere oggend het ek die vraag oor hoe dit in die Suidland gaan, met die volgende WhatsApp beantwoord:

Twee syfers doen tans die rondte. Dat werkloosheid van 29% tot meer as 50% kan styg voor jaareinde. En dat meer as 90% van die BBP in die volgende paar jaar deur staatskuld opgeslurp gaan word.

COVID se lang vingers het nie net die lewe uit sommige mense gewurg nie, maar ook die ekonomie se ratte uitmekaar laat knars. Spaarvarkies en pensioene is nou minder werd as laasjaar dié tyd en baie mense se vermoë om hul sout te verdien, is hul ontneem deur besighede wat deure moes sluit.

Van die ministers maak toenemend hul stemme dik dat pensioenfondse “benut” moet word om staatsuitgawes te befonds. As hierdie credo wet word, sal pensioenfondse in staats­entiteite soos die SAL of Eskom moet belê, wat tans bykans onredbaar is. Intussen word vrolik planne gesmee om ’n “nuwe” SAL te laat verrys wanneer die huidige SAL finaal gelikwideer word.

By die Zondo-kommissie borrel daar daagliks skreiende verhale uit oor blatante korrupsie en geld wat wanaangewend word, sonder dat ’n aanklag of hofsaak volg.

Berigte word ontvang van strooptogte op vragmotors, soos deur Middeleeuse struikrowers. En van onluste in woongebiede waar bankrot munisipaliteite vergeet het waarvoor hulle eintlik daar is, met die polisie wat lusteloos toekyk hoe bande verbrand en paaie versper word.

Intussen word ons geld al hoe minder werd soos wisselkoerse verswak.

Groete en bly in Ras al Khaimah so lank jy kan.

Na dié somber WhatsApp stap ek om die huis om hadidas, wat in die boom sit en raas, te verwilder. Dit is tóé dat ek die lelie se nuwe blare en blomsteel uit die grond sien beur agter die lente aan. Met helder, vars, nuwe, groen blare in die oggendson en ’n blomknop vol belofte.

En tóé verstaan ek weer die ou boodskap van die lelies in die veld wat nie arbei of spin nie, maar dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. Dié lelie in die oggendson het die skaal weer na die goeie laat kantel. Want COVID is nie in beheer nie.

Groete op die oosgrens.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.