Jou voetspore in die lande verseker sukses

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

1021

Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat Jaco Breytenbach, ’n produsent van die Fouriesburg­omgewing, die afdeling vir mielies in die Oostelike Vrystaat in die Graan SA Groei vir Goud-kompetisie wen. Dit doen hy met ’n opbrengs van 12,87 t/ha met die DEKALB-kultivar DKC73-76R.

Mielies verteenwoordig ongeveer die helfte van Jaco se graanaanplantings elke jaar. Hy pas wisselbou toe en plant sojabone, suikerbone en aartappels op ’n rotasiegrondslag. Sowat 13% van die lande rus jaarliks. Die land waarop dié wenkultivar in 2020 geplant is, het die vorige seisoen aartappels op gehad en is teen ’n stand van 50 000 plante/ha geplant.

Hy het 920,5 mm reën vir die seisoen ontvang, maar hy meet sy opbrengs ook aan die hoeveelheid vog wat gebruik is om die 12,87 ton te realiseer. Hierdie sommetjie werk uit op 13,99 kg graan/mm reën wat geval het. Sy varieerbare insetkoste was R820,22/ton en R10 559/ha vir die spesifieke kultivar wat die direkte koste van saad, chemie, kunsmis, kalk en diesel insluit. Die koste is verteenwoordigend van wat op die res van die mielieproduksie in sy boerdery spandeer word.

Dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA, wens Jaco geluk met sy wenopbrengs.

’n Geskikte seisoen vir mielies
Jaco se gemiddelde mielie-opbrengs vir die seisoen was 8,2 ton. “Ons eerste reën het verlede jaar aan die begin van die seisoen baie laat geval, wat ons planttyd met so ’n week of twee aangeskuif het. Ons plantdatum van 27 Oktober het wel binne die optimale planttyd vir ons omgewing geval. Ek was ook gelukkig dat die res van die seisoen uiters geskik was vir mielieverbouing, hoewel ons later in die seisoen nie in die lande kon kom om te spuit nie so nat was dit. My suikerbone het egter versuip.”

Volgens Jaco is hulle plantvenster kort en het hy sowat vier weke speling om te plant. Na middel November raak die risiko’s net groter.

Jaco het sy grond deur die jare opgebou en pas sy jaarlikse bemestingsprogram aan volgens die uitslae van die grondontle­dings van die spesifieke land waar hy gaan plant asook by die gewas. “Dit is ongelooflik belangrik om grondontledings te doen en om jou program by jou grond se behoeftes aan te pas.”

Hy laat sy kunsmis spesiaal meng volgens sy spesifieke behoefte. Ongeveer twee maande voor planttyd word die kunsmis breedwerpig oor die lande gestrooi. Kalk word variërend op elke land toegedien en tydens plant dien Jaco nie weer kunsmis toe nie.

Die afgelope 18 jaar doen Jaco reeds ’n vorm van verminderde bewerking op sy grond. Hy dis om die plantstoppels fyner te maak en in die grond in te sny en volg dit dan op met ’n tandbewerking voordat hy mielies plant.

Jaco doen chemiese onkruidbeheer en die program word na gelang van die seisoen se onkruiddruk aangepas. Met plant doen hy ’n bespuiting om breëblaaronkruide en grasse te beheer. Na opkoms dien hy glifosaat toe teen 2,4 ℓ/ha in 100 ℓ water. As die on­kruiddruk hoog is en dit nodig is, sal hy twee weke daarna ’n tweede bespuiting doen om veral uintjies, oliebome en kakiebos te beheer. Hy wil sy lande skoon van onkruid hê omdat dit om voedingstowwe met die gewas kompeteer en die opbrengs benadeel.

“Die nat toestande in die tweede helfte van die seisoen het egter veroorsaak dat ons nie ’n tweede bespuiting kon doen nie. Dit was te nat en ons implemente het vasgeval. Die hoë plante­stand en nouer rye het egter daartoe bygedra dat die mielies gou ’n sambreeleffek gegee het en dat minder onkruide laat in die seisoen ontkiem het. Goeie onkruidbeheer met plant is deurslaggewend en dit het later in die seisoen vrugte afgewerp.”

Proewe werk
Jaco plant al vir meer as 25 jaar verskeie DEKALB-proewe waaronder wit- en geel­mieliekultivar- en plantestandproewe. Hy doen verder chemiese proewe vir die maatskappy. “Daar word jaarliks ’n boeredag op my plaas aangebied. Dit verg baie ekstra werk en tyd om die perseel voor te berei en om die proewe te plant, maar ek trek groot voordeel daaruit deur die kennis wat ek opdoen. Dit is ook ’n voorreg om hierdie kennis met medeprodusente te deel.”

Jaco glo dat kultivarkeuse, grondgesondheid en kalkregstel­lings die resep vir sukses bied. “Grondgesondheid is belangrik en ’n mens moet gereeld chemiese regstellings doen, veral voor planttyd. Dit is noodsaaklik vir volhoubare produksie. Kalkregstellings moet net so ’n hoë prioriteit geniet. Die laaste aspek wat aandag verg, is die regte kultivarkeuse vir jou plaas en omstandighede. Kies ’n kultivar wat onder alle omstandighede vir jou ’n opbrengs gaan gee. Dié drie aspekte is van deurslaggewende belang en kan in ’n groot mate die sukses van jou boerdery bepaal. Kultivar, grond en kalk is in ’n driehoekverhouding en as een van die punte afgeskeep word, kan dit die driehoek skeef trek en die ewewig versteur.”

Win goeie advies in
Hy meen verder dat dit belangrik is om jouself met kundige mense op verskillende terreine van boerdery te omring om jou van goeie advies te voorsien. “Spesialiste by insetverskaffers beskik oor waardevolle kennis. Ek leer baie by hulle en kyk ook waar en hoe ek die aanbevelings by my op die plaas kan toepas. Gesprekke met medeprodusente is net so waardevol.”

Sy raad aan jong produsente is om ná elke seisoen deeglike retrospeksie te hou. “Ontleed die seisoen en die toestande wat geheers het. Gaan kyk wat jy gedoen het en wees eerlik oor wat suksesvol was en wat nie gewerk het nie. Bepaal die redes vir die suksesse asook die mislukkings. Gebruik hierdie inligting saam met jou grondontledings as grondslag vir die beplanning van jou bemesting asook onkruid-, siekte- en insekbeheerprogramme. Hierdie insigte vorm die spil waarom presisieboerdery draai. Jou voetspore in die lande is net so belangrik,” sê hy.

Jaco sluit af deur sy dankbaarheid en waardering teen­oor Graan SA uit te spreek omdat hulle altyd die belange van graanprodusente op die hart dra.