September 2016

TONIE ROSSOUW, Suid-Afrikaanse Weerdiens

Ten spyte van vorige maande se rekenaarklimaatvoorspellingsmodelle wat ‘n neiging na ‘n matige (swak) La Niña vir die lenteperiode van 2016 voorspel het, dui die neutrale El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO)-waarneming tans daarop dat die toestand vir die res van die seisoen, ook nie uitgesluit is nie.

Hierdie verskil in wat tans gebeur en wat voorspel is, skep ‘n onsekerheid in die reënval- en temperatuurvoorspelling vir Suid- Afrika – en dit geld ook vir die ENSO-voorspelling.

Die meeste van Suider-Afrika ervaar tans steeds droë toestande, ten spyte van die feit dat die El Niño alreeds nie meer bestaan nie. Die huidige droogte is die resultaat van ‘n abnormale droë 2015/2016-seisoen met buitengewone warm toestande (hittegolwe) wat voorafgegaan is deur drie jaar van ondernormale reënval oor die sentrale dele van Suid-Afrika.

Die impak van die droogte kan daarom nie ligtelik benader word nie en gaan nie oornag verander nie – veral in die afwesigheid van voorspellings vir bonormale reënval in die nabye toekoms. Vir landbou is die monitering van medium- en korttermynweervoorspellings van uiterste belang om weerpatrone, wat ‘n verandering in toestande kan meebring, vroegtydig te identifiseer.

Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoenToestand van die klimaataanwysers

Daar is drie belangrike klimaataanwysers wat ‘n invloed op die bepaling van die seisoenale voorspelling het:

  1. Waarnemings toon dat die ENSO in ‘n neutrale fase is en die meeste voorspellings verwag ‘n moontlike ontwikkeling van ‘n swak La Niña teen die einde van die lente na die midsomer van 2016/2017. Grafiek 1 toon die verwagte ENSO-fase in persentasie vir die maande Julie/Augustus/September (JAS).
  2. Die Indiese Oseaan Dipool-indeks (IOD) toon steeds ‘n negatiewe fase gedurende die lente. Die negatiewe fase van veral die subtropiese IOD is ‘n aanduiding van die vervoer van vog vanaf die Indiese Oseaan na die sub-kontinent. Sien die skematiese voorstelling in Figuur 1.
  3. Die Arktiese Ossilasie Indeks (AOI) verwys na die 700 hpa-hoogtelyn gemiddelde afwyking van die normaal om die Suidpoolsirkel, suid van 20° suid. Dit is ‘n goeie aanduiding van die vervoer van die koue lug noordwaarts na Suider-Afrika en is veral in die winter ‘n aanduiding van die noordwaartse beweging van koue fronte. Die positiewe fase van die indeks dui op ‘n warmer, droër winter. Die afgelope winter was dit hoofsaaklik in ‘n positiewe fase, maar dit is in ‘n negatiewe fase vir die volgende paar weke. Die klimaataanwyser is belangrik omdat die gedrag daarvan kan verander in terme van weke. Sien die skematiese voorstelling in Figuur 2 en Figuur 3.

Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen

Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen
Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen

Dit is oor die algemeen bekend dat die ENSO-indeks gedurende die Suidelike Halfrond se somerseisoen ‘n beduidende impak op Suider-Afrika se weerpatrone het, terwyl IOD ‘n invloed op veral die lentetyd het. Die AOI se invloed is meer van toepassing op die winterklimaatstoestande en is ‘n aanduiding van die suid/noordposisie van die middelbreedte straalstroom in die beweging van lugmassa vanaf die Suid-Atlantiese oseaan.

Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen
Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen

Reënvalvooruitsigte

Die noordoostelike en sentrale dele van die land kan ondernormale reën vir die lenteperiode verwag. Daar is ‘n aanduiding dat die Weskus vir die vroeë lentetyd bonormale reën kan verwag, terwyl reënval vir die sentrale dele van die land vir die midsomerperiode meer positief vertoon. Die vooruitsigte moet egter met omsigtigheid hanteer word as gevolg van die onsekerhede wat tans oor die waarnemings en voorspelling bestaan – soos aan die begin van die artikel genoem.

Minimum en maksimum temperature

Die voorspelling toon wel bonormale minimum en maksimum temperature vir Suid-Afrika in die lente, terwyl die Weskus ondernormale maksimum temperature kan verwag. Die inligting moet maar met ‘n knippie sout geneem word, gegewe die onsekerhede in die voorspelling.

Opsommend

Produsente het heelwat inligting tot hul beskikking. Die uitdaging is om sin te maak uit al die inligting. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se seisoenale voorspelling word elke maand ongeveer teen die 25ste opgedateer.

2016/2017 seisoen lyk meer positief wat reënval betref, maar wanneer dit gaan reën, is onseker. Daarom is die korter termyn (sewe dae/14 dae)-voorspelling belangrik.

Die waarnemingsnetwerk van die Weerdiens het ‘n groot invloed op die globale modellering van weerpatrone en beïnvloed al die voorspellings van die verskillende weeragentskappe op die internet. Dit maak dus nie saak watter webblad gebruik word nie; die oorsprong van die inligting oor Suider-Afrika hang grootlik af van ‘n goeie weerwaarnemingsnetwerk.
Voorspellings is ‘n produk wat saamgestel word uit ‘n multimodelvoorspellingsisteem wat ontwikkel is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Die sisteem bevat langtermynvoorspellings wat ontwikkel is deur die volgende organisasies:

Verwagte klimaat/weerstoestande vir die 2016/2017-somerreënvalseisoen

Vir meer inligting kontak Tonie Rossouw by tonie.rossouw@weathersa.co.zaof Cobus Olivier by cobus.olivier@weathersa.co.zaof 051 433 3281.

Publication: September 2016

Section: Relevant