Sorghum: Graan SA wil leemte met kultivarproewe vul

1015

September 2016

PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis: Graan SA

Die sorghumkultivarevaluasie proewe wat tradisioneel die afgelope paar jaar deur die LNR-Instituut vir Graangewas se gedoen is, het weens verskeie redes tot stilstand gekom. Graan SA het ingegryp en rolspelers genader met die oog daarop om stelselmatig dié leemte in die sorghumbedryf te vul.

Tydens ‘n Graan SA Sorghum Spesialiswerkgroepvergadering is daar besluit om die moontlikheid van strookproewe in samewerking met saadmaatskappye te ondersoek. Pannar, K2 Agri en Agricol het summier ingestem en die eerste vergadering het kort daarna met die betrokke sorghumprodusente plaasgevind. Dié proses het vlam gevat en die eerste strookproewe van dié aard is die afgelope seisoen aangeplant.

Doel van projek

Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die mees aanpasbare kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite

‘n Besluit is geneem om die projek op klein skaal te begin en strookproewe op slegs vier lokaliteite aan te plant. Die 2015/2016- produksieseisoen is egter ‘n seisoen wat nie deur produ sente vergeet sal word nie, weens die drastiese droogte toestande wat Suid-Afrika getref het – en wat die proewe vanself sprekend ook nadelig geaffekteer het.

Die proef in die Vrystaat het weens die knellende droogte erge skade opgedoen en is nie gestroop nie, terwyl die proef in die Noordwes Provinsie weer deur swerms kweleas getref is. Die ander twee lokaliteite is gestroop en daar kan met trots gerapporteer word dat dit uitsonderlike “netjiese” proewe was.

Die vier lokaliteite was soos volg:

  1. Limpopo – Settlers (gestroop)
  2. Mpumalanga – Standerton (gestroop)
  3. Vrystaat – Koppies (droogte)
  4. Noordwes – Sannieshof (kweleas)

Kultivars en kontrole

Daar is in totaal agt kultivars deur die saadmaatskappye ingeskryf. Kultivars wat kommersieel beskikbaar is, sowel as potensiële “goeie“ kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, is in die proewe ingesluit. Pannar se PAN 8816 is as kontrole gebruik.

Resultate vir 2015/2016-seisoen

Produsente kan strookproefresultate gebruik om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer – en sodoende die mees aanpasbare kultivar vir hul omgewings aanplant. Wanneer die resultate vir Standerton en Settlers van nader beskou word, moet daar kennis geneem word dat dié data slegs een jaar se resultate insluit.

Sorghum: Graan SA wil leemte met kultivarproewe vulSorghum: Graan SA wil leemte met kultivarproewe vulStanderton

Die gemiddelde opbrengs van die proef was 4,78 t/ha. Pannar se PAN 8933 se gemiddelde opbrengs was die hoogste, gevolg deur PAN 8906 en PAN 8816 (sien Tabel 1).

Gemiddelde kontrole-opbrengs = 5,19
KV = 4,8

Settlers

Die gemiddelde opbrengs van die proef was 2,63 t/ha. Agricol se Enforcer se gemiddelde opbrengs was die hoogste in die strookproewe, gevolg deur Pannar se PAN 8906 en K2 Agri se Mr Buster. Die resultate is in Tabel 2 aangebring.

Gemiddelde kontrole-opbrengs = 2,77
KV = 14,82

Samewerking

Graan SA spreek sy dank uit teenoor elkeen wat saam hande vat en saamwerk om die plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur middel van hierdie projek. So ‘n taak kan nie aangepak word, eerstens sonder ‘n toegewyde, doelgerigte produsente nie en tweedens die samewerking en bystand van Pannar, K2 Agri en Agricol nie.

Befondsing en pad vorentoe

Graan SA het by die Sorghumtrust aansoek gedoen om finansiële steun vir die projek. Hiermee spreek nie net Graan SA nie, maar die hele sorghumbedryf hul dank teenoor die Trust uit vir die ondersteuning.

Die beplanning is om weer in die komende seisoen die strookproewe in dieselfde omgewings aan te plant. Weervoorspellers klink optimisties oor die komende seisoen, so ons vertrou dat die 2016/2017-seisoen voortreflike resultate sal voortbring.

Publication: September 2016

Section: On farm level