July 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die proses om die nuwe Onteieningswet te finaliseer, het heelwat tyd in beslag geneem. Die eerste konsepwet is ‘n paar jaar gelede teruggetrek en daarna is daar opnuut begin met ‘n nuwe konsep. Graan SA het die nuwe proses verwelkom en die uiteindelike wet is veel beter as die aanvanklike konsep.

Elke land het ‘n Onteieningswet. Wat Suid-Afrika s’n so anders maak, is die seisoen van grondhervorming waarin ons ons tans bevind. Onteiening met die oog op ekonomiese ontwikkeling is ‘n noodsaaklikheid in elke land, maar as dit vir politieke redes gebruik word, ontlok dit heelwat emosie.

Graan SA is dus nie teen ‘n Onteieningswet per se nie, maar as dit gebruik word op ‘n wyse waar daar nie behoorlike vergoeding betrokke is nie, sal ons ons na die Grondwet van die land wend om te verseker dat die proses regverdig toegepas word. Onteiening vir grondhervorming is geen maklike saak nie, maar sodanige wette is wel nodig om die proses te bevorder.

Toe ek laas navraag gedoen het, het die syfer van alle landbougrond wat jaarliks in die mark kom, op 13% gestaan. Dít alleen is vir die staat genoeg met die oog daarop om grond vir grondhervorming aan te koop – en dan is bykans geen onteiening nodig nie.

So waar lê die probleem dan? Het die staat nie geld nie, of is daar steeds diegene wat hoop hulle gaan alles verniet kry? Daar kan selfs ‘n stuk gierigheid in die saak wees – potensiële produsente wat nie ‘n plaas wil hê nie, maar ‘n spesifieke stuk grond wat naby genoeg aan hul dorpshuise is sodat hulle net naweke kan boer? Die staat se ondersteuningstelsel het waarskynlik ook nie genoeg kapasiteit om nuwe produsente te help vestig teen die spoed waarteen grond beskikbaar raak nie.

Die handhawing van grondwaardes is sinoniem met voedselsekerheid. Sou die grond sy waarde verloor weens onbeheerste onteie ning of selfs besetting van plase, gaan die sekuriteit wat die waarborg vir produksielenings is, tot niet. Finansiële instellings sal bloot krediet opskort of inperk – na gelang van die impak – en sodoende sal produksie ook verminder.

Suid-Afrika het die afgelope seisoen hoë voedselpryse, wat van invoerpariteit afgelei is, beleef en was glad nie daarmee geneë nie.

Oral word nou naarstiglik planne beraam om voedselpryse weer te “normaliseer”. Tog kan enige vorm van onregmatige onteiening of onregmatige grondhervorming ons permanent in so ‘n abnormale situasie laat verval.

My waarneming van die huidige situasie in die graanbedryf is dat die verhoudings tussen die verskillende rolspelers op die oomblik baie onstuimig is. Die res van die waardeketting is gefokus op hul eiesoortige probleme – hetsy dit invoere van mielies is of die afweer van die buitelandse aanslag op die hoenderbedryf.

Die verkiesing het ook, tesame met die droogte, baie duidelik aangedui waar die regering se prioriteite lê. Alle beleide word nou hersien asof die droogte nooit gaan eindig nie en alles gedoen moet word om voedselpryse af te bring. Dit is nou tyd om koelkop te bly en te fokus op langtermynvolhoubaarheid.

Publication: July 2016

Section: Features