October 2015
LOUIS LAGRANGE, landbouingenieur: Universiteit van die Vrystaat
‘n Trekker is ‘n meganisme wat chemiese energie, vasgelê in die vorm van brandstof, omskakel na wringkrag na die agterwiele met die doel om uiteindelik trekkrag vir voorwaartse beweging te verkry.
Dit is belangrik vir ‘n landbouer wat die investering in ‘n nuwe trekker oorweeg om eers die regte doelmatige (effective) tipe en grootte trekker aan te skaf. Daarna kan daar na die doeltreffendheid (efficiency) van die energie-oordrag gekyk word deur wielglip, ratkeuse, gewigte en aanhaakmetodes te optimeer.
Hierdie artikel verskaf verskeie aspekte om die voornemende trekkereienaar te ondersteun om die korrekte en mees doelmatige trekker te identifiseer. Kies die regte toerusting om die werk reg te kan doen en bespaar sodoende.
Om te dink dat hierdie proses nie nodig is as trekkers net vervang word nie, is gewis ‘n fout. Miskien kan foute juis uit die staanspoor uitgeskakel word deur die regte trekker te koop.
Die finansiële implikasie van ‘n trekker is nie net van die aankoopprys of koste per kilowatt afhanklik nie, maar dit moet oor die totale lewensiklus van die trekker beskou word, wat die loopkoste en herstelkoste asook inruilwaardes insluit.
Ekonomies is dit nie sinvol dat ‘n produsent ‘n ideale trekker vir elke individuele aksie kan aanhou nie en iewers moet ‘n kompromie aangegaan word deur ‘n bestaande trekker ook vir ander “oneffektiewe” take aan te wend. Sulke aksies moet verkieslik so min as moontlik gedoen word.
Die proses om ‘n trekker te kies, behels ‘n mengsel van finansiële besluite, besluite rondom praktiese behoeftes sowel as die eienaar se bestuursvoorkeure; elke voornemende eienaar sal sy unieke behoeftes moet bepaal.
Die volgende aspekte speel ‘n rol in die totale besluitnemingsproses:
- Behoeftebepaling
- Tipe werk wat gedoen moet word asook die implementevereistes vir die taak
- Werkskondisies
- Die hoeveelheid werk wat binne die beperkende tydsgleuwe gedoen moet word
- Die rigting waarin nuwe tegnologie beweeg
- Eienaar se benadering
- Aanhaakstelsel
- Kragaftaksisteem en hidrouliese vereistes
- Lewensduurkoste
Behoeftebepaling
Eerstens moet die tipiese soorte werk gelys word, met inagneming van die tipe grond (sand, leem of klei) en die hoeveelheid trekkrag benodig asook die hoeveelheid tyd wat op elke grondtipe gespandeer gaan word. Dit kan moontlik wees om in sekere gevalle ook hellings in ag te neem sowel as ander plaaswerftake wat ook uitgevoer moet word.
Die werkstoestande waarbinne die take binne die beskikbare tydsgleuwe afgehandel moet word, bepaal die tipe bewerkings, werksure per dag en ook wat per werker gelewer moet word. Die inligting sal die oorweging van verskillende kajuittipes, geraas en stof asook werk oor naweke en vakansiedae bepaal.
Verskeie meganisasiebeplanningsmetodes bestaan, maar byna almal is steeds afhanklik van sekere gebruikerspesifieke voorkeure en risikogekoppelde besluite. Die volgende drie algemene metodes wat gebruik word, word kortliks hier genoem sonder om in te veel detail in te gaan:
Energiebehoefte per aksie
Spesifieke energiebehoeftes in kWh/ha x aantal hektare/beskikbare tyd = drywing (kW) benodig. Die toepaslike implementgrootte word dan gekies.
Hierdie benodigde kilowatts word dan op ‘n sogenaamde projekbestuur “Gantt Chart” aangedui, wat aksies oor periodes per jaar aantoon.
Trekkrag per aksie
Die trekkrag per wydte x werkstempo = drywing benodig (kW).
Hierdie benodigde kilowatts word dan op die Gantt Chart-jaar aangetoon. Albei metodes leen hulle tot redelike maklike pro grammering, maar omdat die kritieke aksies vooraf gekies moet word, kan dit die holistiese beskouing van oplossings beperk.
Trekker- en implementpassing
Die trekkrag en implementwerkstempo word vanaf tabelle bekom en met mekaar versoen. ‘n Vloeidiagram word opgestel en alternatiewe trekkers word een na die ander gekies en die antwoord word geïtereer totdat ‘n kliëntspesifieke, optimale oplossing bereik word.
Laastens is dit uiters belangrik om te onthou dat werk in die veld slegs plaasvind indien die trekker en implement in die veld vorentoe beweeg. Die term “netto veldure” beteken die ure per dag minus die tyd vir onderhoud, vergadering, ry na land, draai op wenakkers, middagetes en teetyd. Die netto veldure word dan vermenigvuldig met veldeffektiwiteit (die hoeveelheid tyd wat die trekker en implement vorentoe beweeg en werk verrig) om totale effektiwiteit te verkry.
Dit is belangrik om te onthou dat die trekker en implement bymekaar moet pas en dat die trekker en implement in staat moet wees om die aksie binne die bepaalde tyd te kan afhandel. Verder is dit belangrik dat die trekker oor die toepassings moet beskik om dit vir die implement moontlik te maak om tot volle kapasiteit te opereer. Dit help nie jy het ‘n trekker wat sterk genoeg is om die implement te trek, maar jy kan nie die hoeveelheid olie wat benodig word om die implement te laat werk, beskikbaar stel nie.
Presisieboerdery is die toekoms; maak dus seker dat jou trekker en toerusting die nuutste tegnologie kan akkommodeer.
Eienaar se benadering
Sommige eienaars kan baie mense bestuur en gee nie om vir baie drywers met kleiner trekkers nie. Ander wil weer nie te veel mense bestuur nie en verkies minder, maar groter trekkers. Vir sommige eienaars is dit ‘n té groot risiko dat werk staan as gevolg van een groot trekker wat breek en hulle verkies daarom meer as een kleiner trekker om die taak te verrig. Ander eienaars het weer ‘n voorkeur vir nuwe trekkers met laer herstelkoste en minder herstelperiodes.
Eienaars het ook ‘n spesifieke onderhoud- en diensbenadering en dit moet in ag geneem word – spesifiek wanneer gebruikte trekkers oorweeg word.
Aanhaakstelsel
Die verskeidenheid van implemente wat die driepunthysstelsel en aanhaakstelsel moet gebruik, is belangrik. Dit sal moontlik nodig wees om ‘n heelwat groter trekker aan te skaf waar die enjinaandrywing (kW) nie die beweegrede is nie, maar waar die hoeveelheid tonnemaat wat die driepunthysstelsel moet kan optel ‘n bepalende faktor is.
Kragaftaksisteem asook hidrouliese vereistes
Daar bestaan drie tipes kragaftaksisteme wat elkeen teen ‘n verskillende spoed draai, verskillende monteermeganismes het wat ‘n verskillende hoeveelheid krag kan oordra en wat vir spesifieke enjingroottes ontwerp is. Die voornemende eienaar moet seker maak watter tipe sisteem benodig word. Verder word dit net genoem dat sekere hidrouliese transmissietipes effektiwiteit kan beïnvloed en dat hoe meer ratte ‘n trekker het, hoe meer kan die krag en werktuigpassing met mekaar gesinchroniseer word en besparings teweegbring.
Die meerderheid implemente het deesdae hidrouliese vereistes. Maak seker dat die trekker die vermoë het om die implement te kan aandryf. Baie presisietoerusting maak gebruik van hidrouliese motors, so maak seker dat die trekker met die regte toestelle toegerus is om die implemente optimaal te kan laat werk.
Enjinbelading
Een van die mees kritieke faktore naas die totale effektiwiteit van voorwaartse beweging, is die belading op die trekkerenjin. Vorige artikels het hierdie aspek in detail aangespreek deur te toon dat trekkers ontwerp is om in die wringkragreserwe te werk met dramatiese verbetering in brandstofverbruik.
In hierdie artikel word slegs ‘n algemene tendens uitgewys dat trekkers slegs met 40% tot 60% van hul ontwerpkapasiteit belas word, wat aandui dat heelwat trekkers te groot is vir die aanwending.
Die gevolg daarvan is dat hulle spesifieke brandstofverbruik per eenheid krag gelewer swak is, in die algemeen 0,38 liter per kWh. Grafiek 1 toon duidelik die wenslikheid om trekkers behoorlik te belas met die korrekte implement wat die kraglewering per eenheid brandstof verbruik dramaties verbeter.
Lewensduurkoste
Beide vaste koste, varieerbare koste en finansieringskoste moet in ag geneem word om te bepaal watter kombinasie van trekkers aan geskaf moet word. Dit is belangrik dat die netto huidige waarde (nett present value) bereken word vir verskillende kombinasies van trekkergroottes om die optimum sisteem vir die produsent te bepaal.
Van baie groot belang is die hoeveelheid ure per jaar wat die trekkerbelegging vir werk aangewend gaan word. Onthou: Die ure per jaar is nie net werksure per dag nie, maar ure waar die trekker en implement voorwaarts beweeg op die land, soos vroeër in die artikel aangespreek is.
Grafiek 2 toon duidelik die wenslikheid van vermeerdering van werksure wat die belegging per jaar aangewend word, naamlik generiese vaste en varieerbare koste per uur vir verskillende ure per jaar (Erkenning: LNR-Instituut vir Landbou-Ingenieurswese).
Die aspekte van netto werksure om totale effektiewe aanwending van die trekkerbelegging te bepaal asook die korrekte belading van die enjin (en die regte implement) is die twee mees kritieke faktore wat die optimering van trekkerkoop bepaal.
Dit sal beslis die moeite werd wees vir ‘n voornemende trekkerkoper om tyd met ‘n kundige te spandeer en die bespreekte faktore te analiseer voordat ‘n beleggingsbesluit gemaak word. Nog beter sal wees om ‘n totale meganisasiebeplanning uit te voer om alle trekkergroottes wat benodig word, te bepaal.
Vir meer inligting kan Louis Lagrange gekontak word by 082 564 3417.
Publication: October 2015
Section: On farm level