Mielies en koring se verwerking per provinsie verskuif

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

2544
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

05|02|2020

Die dinamiek van die plaaslike mieliemark, veral in terme van verwerking, het oor tyd redelik verander. Die meerderheid geelmielies word onder normale omstandighede in die oostelike gedeeltes van die land, naamlik Mpumalanga en die Oos-Vrystaat, geproduseer. Witmielies word weer meestal in die westelike dele van die land geproduseer, naamlik die Noordwes Provinsie en die westelike gedeeltes van die Vrystaat. Die verwerking van mielies het oor tyd begin aanpas by dié produksiegebiede en deesdae vind die meeste verwerking nie meer noodwendig in die Gauteng-area, soos tradisioneel die geval was, plaas nie.

Witmielies
Grafiek 1 dui aan dat die Vrystaat en die Noordwes die twee provinsies is waar die meeste witmielies gedurende die 2018/2019-seisoen verwerk is, naamlik 47% gesamentlik. Die verandering in die provinsiale verwerking van witmielies kan duidelik in die grafiek gesien word. Gauteng was alombekend as die grootste verwerkingsprovinsie van mielies, aangesien die destydse enkelkanaalbemarkingstelsel dit moontlik gemaak het vir die meeste meulens om in die Gauteng-area te maal. Die ontstaan van die vryemarkstelsel in die laat 1990’s het egter veroorsaak dat die meulens nader aan die produksiegebiede geskuif het. Dit kan duidelik in die grafiek gesien word. Alhoewel Gauteng steeds gedurende die 2011/2012-seisoen die grootste verwerker van witmielies was, het die hoeveelheid witmielies wat daar verwerk word sedertdien drasties afgeneem. Gauteng was maar die derde grootste verwerker van witmielies gedurende die 2018/2019-seisoen. Die Kaap-provinsies (Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap) het gedurende die 2018/2019-seisoen 16% van die totale witmielies verwerk, terwyl Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal almal minder as 10% van die totale witmielies per jaar verwerk.

Grafiek 1: Witmielieverwerking per provinsie as persentasie van Suid-Afrika se totale verwerking.
Bron: SAGIS
*Sluit Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap in

Geelmielies
In Grafiek 2 word die totale verwerking van geelmielies per provinsie as ’n persentasie van die totale Suid-Afrikaanse geelmielieverwerking aangetoon. Dit is duidelik dat die meeste geelmielies steeds in Gauteng verwerk word en dat die verwerking daarvan in hierdie provinsie selfs ’n toename getoon het vanaf die 2011/2012- tot die 2018/2019-seisoen.

Mpumalanga is die provinsie waar die tweede meeste geelmielies verwerk is gedurende die 2018/2019-seisoen, naamlik 20%. Dit is ook die provinsie wat die grootste groei getoon het in terme van die persentasie van verwerking – gedurende die 2011/2012-seisoen is slegs 15% van die totale geelmielies in Mpumalanga verwerk.

Grafiek 2: Geelmielieverwerking per provinsie as persentasie van Suid-Afrika se totale verwerking.
Bron: SAGIS
*Sluit Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap in

Die Vrystaat is die derde grootste verwerkingsprovinsie van geelmielies met 18% van die totaal gedurende die 2018/2019-seisoen. Dié provinsie het ook goeie groei in die persentasie verwerk getoon vanaf die 2011/2012- tot die 2018/2019-seisoen. Die persentasie verwerking van geelmielies in die Kaap-provinsies en die Noordwes het aansienlik gedaal sedert die 2011/2012-seisoen, terwyl die res van die provinsies se verwerking redelik stabiel gebly het.

Koring
In Grafiek 3 word die koringverwerking per provinsie as persentasie van die totale Suid-Afrikaanse koringverwerking aangedui. As gevolg van sekere riglyne van die Mededingingskommissie vir die verspreiding van hierdie inligting, moet van die provinsies saam gegroepeer word en kan dit nie apart per provinsie aan die mark bekend gemaak word nie. Gauteng bly steeds die grootste verwerkingsprovinsie van koring met 35% van die totale koring verwerk gedurende die 2017/2018-seisoen. In dieselfde tydperk was Mpumalanga en KwaZulu-Natal se gesamentlike verwerking 20% van die land se totaal, wat dit die tweede grootste verwerkingsgebied gemaak het, gevolg deur die Wes-Kaap met 19%. Grafiek 4 dui ook duidelik aan dat die aandeel in die totale verwerking van beide Gauteng en die Wes-Kaap gedaal het met 2% en 1% onderskeidelik vanaf die 2011/2012- tot die 2017/2018-seisoen. Daarenteen het Mpumalanga en KwaZulu-Natal asook die Vrystaat se aandeel in die totale verwerking met 4% en 1% onderskeidelik toegeneem gedurende hierdie tydperk. Die totale aandeel van koring wat in Noordwes en Limpopo verwerk word, het feitlik verdwyn tussen die 2011/2012- en die 2017/2018-seisoen.

Grafiek 3: Totale koringverwerking per provinsie as persentasie van Suid-Afrika se totale verwerking.
Bron: SAGIS

Vrywaring

Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.