September 2015

PEET VAN DER WALT, advertensiebestuurder: Pannar

Sewe van Suid-Afrika se landboukolleges asook ‘n genooide Pannar XV met ‘n totaal van agt spanne, het vir die
IPJ du Plessis-trofee meegeding in die jaarlikse Pannar Rugbyweek in Julie by die Taung Landboukollege in die
Noordwes Provinsie.

Dit was ook die 29ste keer (sedert 1987) wat die Rugbyweek deur Pannar geborg is. Die spanne van Cedara Landboukollege, Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding: Elsenburg, Fort Cox Landbou en Bosbou kollege, Grootfontein Landboukollege, Taung Landboukollege en Glen Landboukollege het aan die weeklange toernooi deelgeneem.

Elsenburg weer Pannarweek se kampioen

Die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut naby Stellenbosch, het op Taung vir die soveelste keer die Pannarweek vir landboukolleges gewen.

Die Wes-Kaaplanders het die Grootfontein Landboukollege, geleë net buite die Oos-Kaapse dorp Middelburg, 48 – 6 geklop om seker te maak van die IPJ du Plessis-trofee.

In die Plaat-afdeling het die Cedara Landboukollege, vanaf die Kwa Zulu-Natalse Middellande, die Potchefstroomse Landboukollege (in rugbykringe as TransAgric bekend) 17 – 10 geklop om die Piet de Jager- trofee in te palm.

Wat die ander twee wedstryde op die laaste dag betref het, het die Fort Cox Landbou en Bosbou kollege (in die omgewing van King William’s Town) 14 – 10 teen die Pannar-vyftiental gewen en die Glen Landboukollege (naby Bloemfontein) het die gasheer, Taung Landboukollege, 28 – 13 gewen.

imageVolgens mnr Willie van Zijl, wat 15 jaar lank die voorsitter van Elsenburg en die afgelope 30 jaar die spanbestuurder van die span is, het Elsenburg met ‘n stewige voorhoede, die span in staat gestel om die eerstefasebalbesit te verkry wat hulle in die aanvalsposisie geplaas het.

Aan die ander kant het Elsenburg met goeie verdediging die ander spanne, veral in die laaste wedstryd teen Grootfontein, laat sukkel om momentum vorentoe op te bou.

“Hoewel die span in sy geheel uitgeblink het, kan mnre Attie van Rensburg (flank en kaptein) en Mikko de Wet (flank en alsydige speler) uitgesonder word vir hul uitmuntende vertonings tydens die week.

“Van Rensburg het gelei met sy voorbeeld en harde spel op en vanaf die veld en is twee keer as die speler van die dag se wedstryde aangewys. Hy was ook die invloedrykste speler en is as voorspeler van die toernooi bekroon. De Wet is weer op sy beurt ‘n meester met die afneem van balbesit by die teenstanders en was puik as hy met die bal in hand altyd vorentoe beweeg het.” Van Zijl het Elsenburg se afrigter, mnr Len Conradie, as ‘n fyn strateeg geloof. “Hy het jare se ondervinding as rugbyafrigter en beskik oor die vermoë om ander spanne se swak punte op te som, om dit te beplan en hul met sy span se sterk punte uit te oorlê. Met sy liefde en aanleg vir die spel, verdien hy die wedersydse respek
van die spelers wat insgelyks tot goeie resultate lei.”

Van Zijl, wat pas ná 34 jaar as sekretaris van die SALK-rugbykomitee uitgetree het, sê Elsenburg se rugbyspan is ‘n trotse klomp jongmanne wat inval by die klub se rugby-etos van goeie dissipline vanaf en op die veld en om eerlike, opwindende, harde hardlooprugby met die bal in die hand te speel, veral tydens die Pannarweek wat ‘n hoogtepunt in die meeste van hierdie spelers se rugbyloopbaan is.

Cedara wen Plaat-finaal

Mnr Rod Collett, die klub se voorsitter, het nadat Cedara die Piet de Jager-trofee as Plaat-wenners op vanjaar se toernooi ontvang het, gesê ‘n hegte spangees en ‘n waterdigte wedstrydplan het die grondslag gelê vir die span se sukses in die verband.

“Die sterk spangees moedig die spelers aan om vir mekaar te speel. Dit was ‘n wonderlike klompie manne wat die toer meegemaak het en hulle het baie goed klaargekom. Dit was iets besonders om hul verbintenis om goed te vaar sonder om pret in te boet te aanskou en dit was ‘n wonderlike span om te bestuur.”

Dit gebeur selde indien ooit dat ‘n toppuntemaker sy prestasie uitsluitlik met drieë behaal. Dié eer kom gewoonlik die stelskoppers toe. Dit is egter presies wat mnr Siphesihle Mbatha van die Cedara Landboukollege by die Pannarweek reggekry het.

Mbatha het met agt drieë 40 punte aangeteken en die Du Ponttrofee as die voorste puntemaker op die toernooi verower. Sy vermoë om drieë te druk, het grootliks bygedra tot sy insluiting in die SA Landboukolleges-span en het Cedara gehelp om die Bolandbank-trofee vir die meeste drieë in die Plaat-afdeling te wen.

“Dít, tesame met die afrigter, mnr Mark Jackson, se voortdurend benadrukte wedstrydplan waartoe die spelers hul verbind het, was die resep vir sukses. Omdat die plan vir die duur van die toernooi onveranderd gebly het, het die wisseling van spelers vanweë beserings of om ander redes nooit die plan ontwrig nie. Selfs wanneer spelers posisies geruil het – soos Mbatha wat van heelagter na skrumskakel en toe na losskakel geskuif is – het dit geen uitwerking op die plan gehad nie.”

Collett sê die speler wat waarskynlik die meeste lof verdien, is die kaptein, mnr James Worthington, wat dikwels midde in die aksie was om die bal te dra of die losbal te wen. “Hy is ‘n ware werkesel wat amper elke oomblik van die week gespeel het.

“Die agttal was puik en het in elkeen van die groepwedstryde oorheers, maar in die geheel beskou, was dit ‘n spanpoging waarop die manne baie trots kan wees,” het hy gesê.

image

image

image

image

image

image

image

image

Trofeewenners

  • Grant en Lu Kobus-trofee vir die invloedrykste speler: Attie van Rensburg (Elsenburg).
  • Willie van Zijl-trofee vir die twee spanne wat die beste wedstryd gespeel het: Elsenburg en Grootfontein.
  • Boland Bank-trofee vir die span wat die meeste drieë in die Plaatafdeling gedruk het: Cedara.
  • Louis Luyt-trofee vir die span wat die meeste drieë in die bekerafdeling gedruk het: Elsenburg.
  • Joe Venter-trofee vir die beste voorspeler: Attie van Rensburg (Elsenburg).
  • Pannar-trofee vir die beste agterspeler: Johan van Zyl (Elsenburg).
  • Du Pont-trofee vir die meeste punte tydens die toernooi: Siphesihle Mbatha (Cedara).

Suid-Afrikaanse Landboukolleges-span

Na afloop van die toernooi is ‘n Suid-Afrikaanse Landboukollegesspan gekies wat Maandag, 5 Julie, op Potchefstroom teen ‘n ontwikkelingspan, die Potchefstroom Tigers asook spelers van die Weermag, gespeel het.

Die spanbestuurder, mnr Floris Klink van Taung, sê die span het besonder goed saamgespeel om die gekombineerde span 64 – 10 met lekker hardlooprugby te klop. Hulle het die lynstane en losspel heeltemal oorheers.

Die grootste uitblinkers hier, was RP de Beer (slot), Attie van Rensburg (agtsteman), Mikko de Wet (flank) en die agterspeler, Siphesihle Mbatha.

image

Publication: September 2015

Section: Relevant