Winde van verandering

Gepubliseer: 5 September 2022

494

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

September is ’n bitter besige en belangrike maand op die graankalender. Soos die winde dié jaar weer stiptelik in Augustus in die binneland begin waai het, sien ons met hoopvolle verwagting uit na ’n gunstige afrekenmaand in die Wes-Kaap.

Net soos die nuwe lente amper onwerklik voel, kan ek byna nie glo dat dit die begin van my tweede jaar by Graan SA is nie. Dit was voorwaar ’n goeie jaar gewees waarin ek nie net baie geleer het nie, maar ook besonder baie nuwe mense ontmoet het.

Hierdie September-maand is nie net propvol skoue en NAMPO’s nie, maar ons gaan ook DV weer geleentheid kry om uitstekende prestasie in persoon te erken en saam dankie te sê met die Day of Celebration-geleentheid, Groei vir Goud-kompetisie asook die immergewilde Graanprodusent van die Jaar-geleentheid.

Met die onlangse vergadering van die Hoofbestuur einde Julie, het Graan SA sy noordster weer mooi bekyk en die visie, missie, waardes asook kultuur en doelstellings amptelik goedgekeur. Dit is vir my ’n voorreg om dit kortliks hier te deel en so te verduidelik hoekom dit vir my en vir ons as personeel, maar ook vir elke trotse Graan SA-lid, van kardinale belang is. Soos ek in Mei-maand geskryf het, bly winsgewende plaasvlakproduksie van graan asook ons vermoë om te beïnvloed die belangrikste rol vir Graan SA as produsente-organisasie.

Graan SA verstaan en erken die enorme administratiewe las op die hedendaagse produsent om bloot net te kan produseer. Ek glo niemand sal van my verskil dat dit toenemend meer tyd vereis om die basiese in plek te hou nie. Daarom is dit belangrik dat jou produsente-organisasie op die groter, oorhoofse drywers fokus en as kollektief namens jou probeer om dit te verander of te implementeer. Sodoende kan jy suksesvol – dis nou winsgewend – bly produseer.

Die visie waarna ons streef is om die makro- en mikro-ekonomiese omgewings so te beïnvloed dat volhoubare en winsgewende plaaslike graanproduksie en ontwikkeling moontlik is. Die missie waarop ons fokus en wat ons graag wil bereik is om ’n geloofwaardige en volhoubare, vrywillige en inklu­siewe graanprodusente-organisasie in stand te hou deur gefokusde strategiese aksies en betekenis­volle vennootskappe en verhoudings met bedryfsrolspelers. Wat van belang bly, is dat al die take slegs deur produsentmandate gelei sal word.

Eie en getrou aan ons kultuur is om ’n omgee-omgewing te skep vir passievolle, toegewyde en kundige individue om te groei; die organisasie met passie te dien en die breër voedselwaardeketting te beïnvloed. Verder streef ons om vertroue in te boesem en verhoudings te bou deur respekvolle interaksie asook oop en eerlike dog doeltreffende kommunikasie. Ons stel volgehoue, betroubare en geloofwaardige spanwerk wat met trefkrag langdurige resultate lewer, hoog op prys.

Ons ses strategiese doelstellings, waaraan ons graag alle projekte, fokusareas en aktiwiteite wil meet, behels die volgende:

  1. Bevordering van winsgewende en volhoubare graan- en oliesaadproduksie.
  2. Skep en ondersteun kommersieel volhoubare ontwikkelende graanprodusente wat trots op hul eie voete kan staan en sodoende ’n wesenlike bydrae tot plaaslike voedselsekerheid maak.
  3. Verhoog die betrokkenheid van die jonger generasie van produsente.
  4. Bou ’n wyer ledebasis.
  5. Skep en handhaaf sleutelwaardekettingverhoudings.
  6. Doeltreffende en effektiewe kommunikasiesisteme.

Wanneer hierdie doelstellings mooi bekyk word, kan ’n mens sien dat die oorhoofse doel van Graan SA basies dieselfde gebly het – daarom dat ek in Augustus geskryf het dat min eintlik met verloop van tyd verander het. Die belangrikste rigtingverandering is dat die ontwikkelingsprogram se fokus belyn word met die behoefte wat die regering uitgespreek het dat dié deel van die sektor ’n wesenlike bydrae tot die nasionale graan- en oliesade-oes moet lewer.