January 2015

Kiesieblaar (Small mallow)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Malva parviflora
Afrikaanse naam: Kiesieblaar
Engelse naam: Small mallow

image

Daar kom sewe Malva-spesies in Suid-Afrika voor, maar kiesieblaar, wat oorspronklik van Europa is, is die enigste spesie wat ‘n ekonomies belangrike onkruid is. Dit kom wydverspreid in Suider-Afrika voor en word in landerye, tuine en versteurde plekke aangetref.

Dit is waarskynlik deur vroeë setlaars ingevoer as medisinale plant en word deur inheemse Suid-Afrikaanse bevolkings, skynbaar sonder nadelige gevolge, ingeneem as ‘n teenvoeter vir lintwurms. Dit is redelik smaaklik en word geredelik deur vee gevreet. Indien vee egter te veel daarvan inkry, kan dit giftig wees, veral vir skaaplammers, wat ook vergiftig kan word deur melk wanneer die ooie baie kiesieblaar gevreet het. Wanneer henne van die plant vreet, kan die eierwitte pienk word en die geel word bleek.

Kiesieblaar is ‘n matige mededinger en dit kan tot 30% verliese in koring veroorsaak. Dit kan ook die werking van oeswerktuie belemmer wanneer dit teenwoordig is met oestyd. Dit dien as alternatiewe gasheer vir kromnekvirus, wat ‘n ernstige virussiekte by aartappels, tamaties, tabak en ertjies kan veroorsaak. Daar is ook gevind dat kiesieblaar ‘n beduidende negatiewe allelopatiese invloed op garsplante gehad het.

Kiesieblaar is ‘n een- of tweejarige plant en kan plat of halfregop groei en tot 1,5 m hoog word. Dit het ‘n sterk, diep penwortelstelsel en die stingels is rond tot hoekig met kort, stewige hare en kan groen tot witterig van kleur wees. Die saadlobblare is hartvormig. Die blare is enkelvoudig, afwisselend gerangskik en rond tot waaiervormig met baie fyn haartjies aan beide kante. Dit het getande rande en is tot 5 cm lank en 8 cm breed. Die stele is tot 12 cm lank en bedek met fyn haartjies.

Die blomme is wit tot ligpers, kom in die blaaroksels voor en is tot 15 mm in deursneë. Dit het vyf kroonblare wat op die punte ingesnoer is. Die vrugte is afgeplatte, skyfvormige doosvrugte wat nege tot elf eensadige hokke bevat. Die sade is donkerbruin en niervormig en tot 1,5 mm lank. Dit is gerond aan die een kant en die oppervlak is bedek met fyn, vratagtige strukture.

Voorkoms en verspreiding

Kiesieblaar kom wydverspreid in Suid-Afrika voor, maar is veral in die Kaapse provinsies ‘n lastige onkruid, veral in boorde en wingerde waar dit onder gunstige toestande ‘n groterige bos kan word. Dit kan in byna enige grondtipe groei. Dit verkies ‘n habitat wat hoë intensiteit lig ontvang en vermeerder met verhoogde grondvrugbaarheid. In die Suid-Kaap groei kiesieblaar gewoonlik baie welig in die omgewing van skaapkraaltjies in die hoeke van kampe. Dit beskik oor ‘n lang penwortel wat dit in staat stel om lang droogteperiodes te oorleef.

Kiesieblaar plant slegs met saad voort. Dit kan enige tyd van die jaar ontkiem met ‘n hoogtepunt in die herfstyd in die winterreënvalstreek. Dit kan blom vir 46 tot 92 dae ná ontkieming, maar die saad kan ná slegs 15 dae ná blom, ryp word.

Plante wat in die lente ontkiem, kan blom as dit slegs ‘n paar sentimeter hoog is, maar kan dan oorleef om as tweejarige plante meer saad te produseer. Tot 5 000 sade per plant kan geproduseer word. Die saad kan deur water, voertuie en diere versprei word. Sade beweeg onbeskadig deur die spysverteringskanaal van monogastriese diere en soveel as 700 kiemkragtige sade per dag is al deur ‘n perd uitgeskei. Waarnemings het getoon dat skape ook ‘n belangrike verspreider van die saad deur die spysverteringskanaal is.

Die sade is klein en ontkiem vlak. Alhoewel groot hoeveelhede saad jaarliks geproduseer word, ontkiem relatief min daarvan die volgende jaar omdat die sade redelik rustend is. Daar word gespekuleer dat kiesieblaarsade vir langer as 100 jaar kiemkragtig kan bly in die grond. Ontkieming van saad is redelik sensitief vir soutstremming, is nie liggevoelig nie, maar word bevorder deur skarifikasie. Ligte bewerking behoort dus saadontkieming te stimuleer.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir kiesieblaar geregistreer is wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen kiesieblaar is as daar nie weerstand is nie. Kiesieblaar is van die breëblaaronkruide wat meer gehard is en nie so geredelik met alle selektiewe breëblaaronkruiddoders beheer word nie. Selfs glifosaat is nie altyd effektief om kiesieblaar te beheer nie.

image

Sover bekend, is daar nog nie enige weerstand êrens in die wêreld in kiesieblaar waargeneem nie. Dit is egter steeds belangrik dat antiweerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel.

Dra ook sorg dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie. Té hoë en té lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in ‘n ander werkswysegroep).

Alternatiewe beheer
Met die oog op voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand, is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Fisiese verwydering is effektief wanneer plante jonk is, maar baie tydrowend.

Die diep penwortel van goed gevestigde plante maak dit baie moeilik om met die hand uit te trek en meganiese bewerking is ook net deels effektief indien die wortel onder die grondoppervlak afgesny kan word.

Vlak bewerking is effektief om kiesieblaarsaailinge te beheer indien dit uit die grond gepluk kan word of die wortel onder die grondoppervlak afgesny word. Vinnig groeiende gewasplante of smoorgewasse kan kiesieblaar onderdruk omdat die saailinge ‘n hoë ligbehoefte het.

Kanadese navorsing het getoon dat bandplasing van bemesting onder die gewassade die voorkoms van kiesieblaar kan verminder. Kiesieblaar blyk meer volop te wees in minimumbewerkingsituasies. Boerderystelsels wat bewerking, beweiding, lang rotasies en vroeë bespuitings met onkruiddoder insluit, verlaag kiesieblaarpopulasies.

image

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Inligting is ook vanuit die volgende bronne verkry

https://florabase.dpaw.wa.gov.au/browse/profile/4961
http://www.herbiguide.com.au/Descriptions/hg_Smallflowered_Mallow.htm
http://www.ipm.ucdavis.edu/PMG/PESTNOTES/pn74127.html

Publication: January 2015

Section: On farm level