’n Stille Nag in die vreemde

Gepubliseer: 9 Desember 2020

132

Beste Grootneef

Dit was ’n koue aand met ligte motreën wat teen jou gesig vasgewaai het. Die trietsige son het net na drie-uur die middag agter die berg verdwyn. Die voetheuwels om die berge was donker met dennewoud en misbanke wat in die klowe afgerol het. Die straat was stil, met net enkele voertuie wat verbygery het. Ons het die aand in digte baadjies en serpe aangedurf – effe vooroor gebuk teen die motreën in die staptog na die stasie.

By die kaartjiekantoor het ons skewe Engels nie veel gehelp om sin te maak nie. Die kleurkodes van die spooruitleg het ons egter by die antwoord gebring van hoeveel krone nodig sou wees om van Černošice na Praag te reis.

Ons kon die trein van ver af hoor aankom. Die valhek het met ’n geklingel van klokkies oor die pad gesak om die trein voorrang oor die kruising te gee. Ons is saam met ’n bondeltjie mense die naaste treinwa in. Sit- en staanplek was redelik volop. Nie baie mense het op ’n koue Oukersaand gereis nie, die meeste was reeds waar hulle graag wou wees.

Die trein het ritmies oor die blink spore geloop, al nader aan die stad. Die kondukteur, waardig in ’n swart uniform, het kaartjies kom knip. Die trein het rukkerig tot stilstand gekom en met die oopskuif van deure, is ons saam na buite. Ná die verhitte treinwaens was die wind ysig koud. Die mistigheid van vroeër het verander in sagte reën.

Met die gedrang van stasies en treine agter die rug, is ons die ou stad in. Vir ’n oomblik het ons net stilgestaan om alles in te drink. ’n Nag in die vreemde, met strate van ou plaveistene uit marmer en klip gekap. Ons het saam met die stroom mense begin dryf na die Vlotava-rivier. Verby kuierplekke met die geur van koffie en Kersliggies om alles te versier. Die straatligte het kol-kol en dynsig na benede geskyn om die pad tot by die Charles-brug aan te dui.

Straatskilders het hul kuns ten toon gestel. Ons het ’n klein skilderytjie van die brug en die rivier gekoop, sodat ons kan onthou dat ons ook daar was. ’n Musikant het onder ’n geel straatlig ’n weemoedige wysie uit ’n akkordeon getrek. Met ’n hoed voor hom, waarin verbygangers krone laat klingel het.

Ons het deur klein straatjies gestap tot by ons uiteindelike bestemming – ’n klipkerk uit die vroegste tye, wat in die ou stadsmuur ingebou is. Die Hunne het die plek in die elfde eeu amper afgebrand, maar die stad se mense het dit sorgsaam herbou.

Die kerkie was bykans vol. Ons het in die stilte gesit en luister na die banke wat kraak. Ou tannies in swart sjaals en met geboë hoofde het stil voor hulle uitgestaar. Met enkele vreemdes soos ons, wat graag die wonder van Oukersnag wou deel.

En toe, sonder aankondiging, het die kwartet begin speel. Tydlose musiek van Smetana se Moldau uit vergeelde musiekblaaie. Dit was ’n hoendervleis­oomblik. Die orkes het mekaar goed geken. Met ’n kopknik het hulle ingeval en moeiteloos melodieë uit ou instrumente opgetower. Die gehoor, denkend en stil oor die wonder van nog ’n jaar wat bykans verby was.

Met ’n laaste, suiwer noot het die musikante die aand afgesluit, waarna hulle liggies gebuig en agter ’n klippilaar verdwyn het. Almal wou graag die toweroomblik van volmaakte klank vashou. Maar helaas, dit was tyd om te gaan.

Die strate was opsigtelik stiller. Die menigte het gekies om Kersfees op die stadsplein in te wag. Ons is op die laaste trein uit die stad terug na Černošice. Ons het by ’n venster gesit en kyk hoe die liggies verbyskuif, wiegend in ritme met die treinwa. By ons stasie aangekom, was daar net een ander passa­sier in die treinwa oor. Die man het skuins teen die sitplek geleun, met rooi wange en ’n bottel vodka sonder ’n prop wat by sy baadjie uitgesteek het. Met die afklimslag het die deure saggies agter ons toegeskuif, waarna die trein met sy kondukteur en die laaste passasier verder die nag in is.

Het ons toe maar geweet van COVID, het ons dalk saam met die kondukteur en sy slapende passasier tot by die volgende stasie gereis. Net om te kyk hoe dit daar op ’n Stille Nag voor Kersdag lyk.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.