March 2016
ELMARIE HELBERG, SA Graan/Grain medewerker
Agter die skerms
- Cobus en Zenda het twee dogters, Jeanné en René.
- Hy lees veral nie-fiksie.
- As gesin kampeer hulle graag en is passievol oor Suider-Afrika se nasionale parke.
Charles Darwin het gesê: “Dit is nie die sterkste of die intelligentste van die spesies wat oorleef nie, maar eerder die een wat die vinnigste by verandering kan aanpas.”
Só het dr Cobus le Roux (algemene bestuurder van die Landbounavorsingsraad se Veldgewasdivisie) hom aan sy professionele loopbaan van die afgelope 41 jaar gewy – hy ervaar verandering as positief en uitdagend. Nóú, op die ouderdom van 66, klop ‘n onbekende aanpassing aan sy deur.
Na sy aftrede einde Februarie wil Le Roux graag sy daktent afstof en ‘n paar van Suider-Afrika se nasionale parke saam met sy vrou, Zenda, verken, maar hy noem dat hy steeds by die graanbedryf betrokke wil wees.
Afgesien van toekennings soos Graan SA se Wetenskaplike van die Jaar 2002 en menige wetenskaplike publikasies wat agter sy naam pryk, was Le Roux tot onlangs ‘n lid van verskeie trusts en komitees en hy het gedien op die Redaksiekomitee van SA Graan/Grain – sedert die tydskrif die lig gesien het onder dié naam.
Só het die koringkorrel gegroei
Hy is oorspronklik van die Wes-Kaap en het hom aan die Universiteit van Stellenbosch as plantpatoloog ge kwalifiseer waarna hy vir vier jaar as assistent-landbounavorser by die Departe ment van Landbou op Stellenbosch gewerk het. Na ‘n jaar by die Cereal Rust Laboratory van die Sydney Universiteit het hy in 1980 by die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) op Bethle hem as plantpatoloog begin werk.
Gedurende die volgende tien jaar het hy stamroes op koring bestudeer, sy PhD aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf asook Suidelike Afrika en baie koringproduserende streke van die wêreld besoek. Hy het ook nóú met verskeie internasionale universiteite saamgewerk.
As hy ‘n oorsig van die hoogtepunte in sy loopbaan gee, noem hy beskeie dat hy saam met ‘n toegewyde span plantpatoloë plantpatologie van veral koring op ‘n internasionale vlak kon bring. “Met die hulp van ‘n positiewe en hardwerkende groep wetenskaplikes het ons die LNR-KGI hoogs suksesvol en relevant vir die totale kleingraanwaardeketting gemaak. Ons kon ook die klantebasis, asook eksterne befondsing, groei en stabiliseer tot op ‘n prysenswaardige vlak.”
Wanneer hy oor ‘n termyn van 41 jaar by die LNR terugkyk, merk hy op dat die LNR van vandag veel meer professioneel is met beleide, strukture, sisteme en prosesse in plek.
“Ek is baie opgewonde oor die toekoms, want die wetenskaplikes is nou meer relevant as ooit tevore in Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid.”
Verandering is noodsaaklik
As ‘n kenner op sy gebied, kon Le Roux verskeie ekonomiese en politieke veranderinge ervaar. “Een van die eerste beginsels waarin ek vandag nog glo, is om verandering te aanvaar en dit as ‘n nuwe geleentheid te beskou en tweedens om jou met positiewe, kundige en gewillige mense te omring.”
Hy noem dat mense se versigtigheid in die mees noodsaaklike veranderinge en ‘n kleiner-wordende poel van beskikbare landbou wetenskaplikes vir hom opvallend is. Hy is bekommerd oor die dalende finansiële ondersteuning vir landbounavorsing, asook nie-kompeterende bedrywe wat die een na die ander deur internasionale invoere gekniehalter word.
Hy is van mening dat die regering te min begrip het vir die belang van voedselsekerheid, die rol van Suid-Afrikaanse produsent asook wetenskaplike daarin. Nog bekommernisse wat die bedryf uitdaag, is ‘n opkomende landbousektor wat baie swaar kry en die drastiese effek van ‘n wisselende en onvoorspelbare klimaat.
Op ‘n positiewe noot is die koringbedryf volgens hom steeds baie kompeterend. Hy noem dat die totale waardeketting in Suid- Afrika sal moet saamstaan om die koringbedryf weer ‘n bloeiende bedryf te maak en dat koringtelers en ander wetenskaplikes die opbrengsvlakke kompeterend met dié van mielies moet maak.
Produksiepraktyke en kultivars wat die Vrystaat weer in staat stel om een miljoen ton koring te produseer, word dringend benodig. Samehorigheid in die bedryf en veel beter begrip en ondersteuning van die regering se kant af is ook noodsaaklik.
Ten slotte moedig hy produsente aan om nuwe tegnologie te omarm en om so naby as moontlik aan wetenskaplikes te beweeg om te kan verseker dat die regte tegnologie ontwikkel word om produsente meer kompeterend te maak.
Publication: March 2016
Section: Relevant