Hoëtegnologiekultivars versus konvensionele staatmakers

1017

March 2017

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

SA Graan/Grain het met ‘n paar produsente gesels om uit te vind of produsente deesdae neig om terug te beweeg na die konvensionele, ou staatmaker-kultivars met minimum insette en of hulle nuwe, hoëtegnologiekultivars verkies – en wat die rede hiervoor sou wees?

Jaco Breytenbach (Fouriesburg)
Op jou vraag of produsente terugbeweeg na GMO-vrye kultivars, dink ek die antwoord is nee. Produsente heg groot waarde aan GMO-mieliesaad. Daar is wel ‘n relatiewe klein persentasie produsente wat ‘n nismark vir GMO-vrye graan het. Natuurlik kry hulle ‘n premie op die verkoop daarvan, maar hulle moet óf self opberggeriewe hê óf hulle moet heelwat moeite doen om dit op ander plekke op te berg en te sorg dat daar nie enige kontaminasie van GMO- en GMO-vrye mielies plaasvind nie.

Die BT-geen en RR-geen het groot omwentelinge in die produksie van mielies teweeggebring, wat dit heelwat makliker maak om mielies met hoër opbrengste meer suksesvol te produseer.

Die enigste rede waarom produsente van GMO-mielies wegbeweeg, is dat die koste van die gene te duur geword het, vergeleke met chemiese middels wat gebruik word om die probleem reg te stel. Diesulkes sal eerder saad bestel met net een geen. Op die oomblik is ons nog nie heeltemal seker of BT-mielies bestand gaan wees teen die herfskommandowurm nie. As dit wel so is, sal dit belangriker vir produsente word om wel saad met die regte BT-geen te koop.

Cobus van Coller (Viljoenskroon)
Ek en produsente in my omgewing verkies nuwe hoëtegnologiekultivars teenoor konvensionele kultivars. Wat ek weet, is dat daar wel enkele produsente is wat konvensionele saad gebruik het – uitsluitlik as gevolg van kostes – spesifiek hierdie jaar waar produsente gesukkel het om produksielenings te verkry.

‘n Mens kry GMO-kultivars met ‘n enkelgeen wat óf die Bt- óf die RR-geen bevat en dan is daar natuurlik ‘n dubbelgeen wat beide die Bt- en RR-geen bevat. Daar is produsente wat die enkel-Bt-geen gebruik, omdat hulle glo die RR-geen het nie dieselfde opbrengs as die Bt-geen nie. Hulle glo die chemiese produk verlaag die opbrengs van gewasse as hulle dit met Roundup bespuit.

Ek gebruik die dubbel Bt/RR-geen (double stacks). Dit maak bestuur by bewaringsboerdery vir my beduidend makliker en lande kan skoon gehou word vir maksimum opbrengs. Só kan ek ook kompeteer met gesubsidieerde ingevoerde mielies om variëteite te plant met die hoogste moontlike stabiele opbrengs.

Deon Bergh (Leeudoringstad)
In ons omgewing plant ongeveer 90% van die produsente die nuwe, hoëtegnologiekultivars. Hulle kla egter oor die koste van die nuwe tegnologie-saad. Daar is wel enkele produsente wat nog konvensionele kultivars plant. Hulle beskik oor hul eie opbergingsfasiliteite en fokus op die uitvoer van GMO-vrye graan na ons buurstate, naamlik Zimbabwe en Transkei.

Die nuwe kultivars gee gemoedsrus. Dit bied sekuriteit – teen byvoorbeeld die herfskommandowurmplaag wat nou uitgebreek het. Die tegnologie help ook met watergebruiksdoeltreffendheid om die hoeveelheid reënval per jaar te kan omskep in graan. Ek dink wel dat die bewerkingspraktyke wat produsente vandag toepas nét soveel bydra tot produsente se sukses soos wat die geval is met die nuwe hoëtegnologiekultivars.

Chris Schoonwinkel (Wesselsbron)
Op jou vraag of produsente (en ek) terugbeweeg na GMO-vrye kultivars, sal ek beslis nee antwoord. Die nuwe MON 89034-geen van Monsanto het ‘n gemiddelde 500 kg/ha opbrengsverhoging in die Noordwes-Vrystaat teweeggebring. Daarmee saam ook beter genetika van Monsanto.

GM-kultivars vergemaklik bestuur beduidend. So byvoorbeeld word die huidige herfskommandowurm uit Amerika blykbaar ook deur MON 89034 beheer, alhoewel dit glad nie hier vir die plaag geregistreer is nie. Onkruidbeheer is beduidend goedkoper en minder gekompliseer met die Roundup Ready (RR)-kultivars.

Ek verneem dat daar vanjaar weer heelwat gevalle van saaddiefstal was. Sonder uitsondering word daar uit dieselfde skuur, waar konvensionele kultivars, kultivars wat net die BT-geen bevat en kultivars wat beide die BT plus RR-geen saad het, gebêre is, net dieBT plus RR-geen saad gesteel. Daarmee saam die kanne Roundup as dit ook in die skuur gestoor is.

Die punt wat ek hiermee wil maak, is: Die gewildheid en die gemak daarvan om met die produk te werk, maak die GM-kultivars gesog. Dit is soos ‘n Toyota-bakkie: Jy kan nie sommer verkeerd gaan nie, want alles loop reg.

Twee jaar terug was ek by ‘n mielie- en sojaboonsimposium in Duitsland saam met Bayer. Daar het die Amerikaners ons gewys dat die VSA, weens die tydperk wat GM-kultivars al daar gebruik is, die wurmplae feitlik uitgewis het en dat ‘n groot aantal van hul produsente weer terugbeweeg het na konvensionele kultivars as gevolg van die besparing in kostes.

Ek dink nie ons in Suid-Afrika is al by daardie punt nie. Wurms het weerstandig geraak teen die MON 810-geen as gevolg van wanbestuur deur produsente. Die nuwe geen sal eers sy werk moet doen – miskien sal ons dan by ‘n punt kom om nie-BT-gene te gebruik.

Aan die onkruidbeheerkant is daar opwindende chemiese produkte beskikbaar sodat jy nie Roundup hoef te gebruik nie, maar dit is duur – tot R400/ha duurder in sekere gevalle.

Publication: March 2017

Section: Focus on